Kyk ook:
- NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word (Okt 2006)
- Kerk mag regte beperk (Pieter Coertzen, 26 Okt 2006)
*******
Moderamen staan by voorlegging oor huwelikswet | Kerkbode
Kerkbode, 10 Nov 2006
Die NG Kerk se leierskap sê hulle is tevrede dat die kerk se standpunt oor ’n Christelike huwelik duidelik gestel word in die voorlegging wat drr Ben du Toit van die kerk se parlementêre lessenaar en Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, namens die kerk aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake gemaak het ten opsigte van die wysigings aan die Huwelikswet.
Die parlementêre voorlegging het ‘n beroering onder sommige lidmate en predikante veroorsaak wat dit vertolk het asof die NG Kerk daarmee die groen lig gegee het vir gay-huwelike.
Die NG Kerk se moderatuur sê die kerk se voorlegging oor die wysigings aan die Huwelikswet beteken nie die kerk keur gay-huwelike goed nie. Die kerk beskou steeds die huwelik as slegs ’n verbintenis tussen een man en een vrou. Die kerk se direkteur van kommunikasie, ds Johann Symington, sê die moderatuur is tevrede dat die kerk se standpunt oor die huwelik duidelik in sy parlementêre voorlegging gestel word en dat gay-huwelike nie daarin bepleit word nie. Die NG Kerk vra vir ‘n totale herskryf van die wet sodat onderskei kan word tussen verskillende soorte verbintenisse. Die moderatuur sê enige ander indruk wat in hierdie verband gewek sou kon word. is verkeerd
“Ons is gerus dat die kerk se standpunt oor ‘n Christelike huwelik duidelik gestel is in die kerk se geskrewe voorlegging en die mondelinge beredenering wat dit vergesel het.
“Ons het dit weer nagegaan en dit is beslis nie so dat die voorlegging gay-huwelike bepleit nie. Terwyl die voorlegging die staat se reg erken om op grond van die Grondwet ook andersoortige huwelike of verbintenisse te wettig, is daar beslis nie kerklike of Skriftuurlike sanksie daaraan gegee nie.”
In die voorlegging is gevra vir ‘n totale herskryf van die wet sodat duidelik onderskei kan word tussen verskillende soorte verbintenisse. Daar is gevra dat
- die identiteit van ‘n Christelike huwelik bewaar en erken sal word;
- Christelike kerke nie gedwing sal word om huwelike of verbintenisse te bevestig waarvoor hulle nie kans sien nie; en
- billikheid en regverdigheid voor die reg gegee word aan alle gelowe en oortuigings.
Die moderatuur wys daarop dat die NG Kerk sy etiese voorbehoude op grond van die Skrif bekend gemaak het en uitdruklik versoek dat die verbintenis nie ‘n huwelik genoem word nie toe die Konstitusionele Hof destyds aandag aan die wettiging van gay-huwelike gegee het.
Ds Symington sê in die verklaring wat namens die moderatuur uitgereik is, die kerk moet van tyd tot tyd standpunte oor moeilike sake inneem. “In sulke tye bind die Woord, die belydenis, en ons gemeenskaplike geloof in Christus ons saam. Daarom roep ons ons gemeentes, predikante en lidmate op tot rustigheid en oorwoé oordele. “ het hy gesê.
– jean@tydskrifie.co.za
Kommentaar
Die amptelike notule van die Algemene Sinode 2004 gee die nuwe moderatuur as volg:
- Moderator: dr Coenie Burger (Wes- en Suid-Kaapland)
- Assessor: prof Piet Strauss (Oranje-Vrystaat)
- Aktuarius: dr Nelus Niemandt (Suid-Transvaal)
- Bykomende lid: ds Elsje Büchner (Oos-Transvaal)
- Skriba (ampshalwe): dr Kobus Gerber (Algemene Sekretaris)