Die eintlike sonde (volgens Adrio König): gays wat heteroseksueel optree

Kyk ook:

Woensdag 22 Februarie 2006 bl. 19
Beeld
Johannesburg

(http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2006/02/22/B1/19/01.html)

Die eintlike sonde: gays wat heteroseksueel optree

Adrio König

Homoseks is net so ’n emosiebelaaide saak soos kerkhereniging.

Baie mense luister nie regtig na mekaar nie; hulle wag net tot hulle hul beurt kry om hul saak te stel. En die ander word van die ergste beskuldig.

Selfs toonaangewende professore maak hulle hieraan skuldig. By ’n onlangse konferensie is eenvoudig gesê dié wat van “ons” verskil, aanvaar nie die gesag van die Bybel nie.

Dis nie die waarheid nie, maar dit sit ekstra krag by die eie standpunt.

In dié artikel gaan ek my siening gee. Ek het nie alleenreg op Bybel uitleg nie. Ek is ook nie die enigste een in die debat wat die gesag van die Skrif aanvaar nie. Maar ek aanvaar dit volledig. Die vraag wat ek vra, is: Wat kry ons hieroor in die Bybel?

Behalwe die drie gedeeltes wat hier bespreek word, is daar elders net ’n enkele woord of frase waaruit nie veel afgelei kan word nie.

• Genesis 1 en 2: Mense wat sonder verdere onderskeidings daarop aandring dat alle vorms van homoseks sonde is, beroep hulle graag op die “skeppingsordening”: God het man en vrou gemaak en daarom mag twee mense van dieselfde geslag nie seks hê nie. Hulle meen dï t is duidelik in die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2.

Maar so eenvoudig is dit nie . In Genesis 1 lees ons dat God die mens skep as man en vrou, en dan kom die bevel wat regstreeks volg op “man en vrou”: “Wees vrugbaar, word baie.”

Maar dan is dit mos ’n “skeppingsordening” dat man en vrou vrugbaar moet wees en baie word. Dan mag twee mense mos nie trou as hulle nie vrugbaar is en nie baie kan word nie?

Maar só kan ons darem nie met die Bybel omgaan nie. Dieselfde geld die standpunt dat net mans en vroue met mekaar seks mag hê. Dít staan eenvoudig nie in dié Skrifgedeelte nie.

• Genesis 19: Mense beroep hulle ook graag op Genesis 19. Hulle meen die rede waarom die stad hier ter sprake verdelg is, is omdat die mense homoseks wou beoefen.

In werklikheid kry ons hier een van die heel belangrikste perspektiewe oor homoseksualiteit in die Bybel. Die geweldenaars wil die vreemdelinge gryp om met hulle geslagsgemeenskap te hê (19:5). Wat is die uitweg wat Lot aan hulle voorstel? “Vat my twee dogters.” Maar homoseksuele mans sal mos nie in meisies belangstel nie? Is Lot laf?

Nee, Lot weet presies wat aangaan. Daar is geen sprake daarvan dat daar ’n hele stad vol mans was (19:4) wat van nature homoseksueel en ongetroud was nie. Dit was mans wat ander gewelddadig wou verneder, maar wat self heteroseksueel was.

Lot weet dit. Daarom hoop hy sy dogters sal hul aandag van sy besoekers aftrek. So skokkend as wat sy optrede was, so versigtig moet ons wees om allerlei afleidings uit sulke Ou Testamentiese verhale te maak.

Maar ’n uiters belangrike punt is hiermee gemaak: Dit gaan in Genesis 19 om heteroseksuele mans, waarvan die meeste waarskynlik getroud was, wat vreemdelinge gewelddadig wou verneder deur homoseks met hulle te beoefen.

Homoseks is hier die homoseksuele optrede van heteroseksuele mans. Van mense wat van nature homoseksueel is, weet Genesis 19 niks.

Dié mense se sonde is hul gewelddadige optrede teenoor die besoekers. Daar word dikwels na Sodom se sonde verwys in die Bybel, maar dit word nooit as die homoseksuele mense se homoseksuele optrede aangedui nie.

• Romeine 1:24-32: Op twee sake is al dikwels gewys: die homoseks waarna hier verwys word, is ’n straf van God, en tweedens gaan dit oor uiterste sondaars (1:29-31): mense wat ’n erger lys sondes bedryf as enige ander van Paulus se bekende sondelyste van heidene.

Om in dié verband van “homoseksuele gelowiges” te praat, soos dit aan alle kante in die debat gedoen word, is ’n vreemde saak.

Maar daar is ’n derde saak: Wie is dié mense? Dit gaan om die interpretasie van die volgende frases: Dis mense wat “die natuurlike omgang” verander “in ’n teen-natuurlike omgang”. Ons lees van “mans” en “hulle vroue” (1:26,27).

Die vraag is watse “natuur” dié is: ’n algemeen menslike natuur wat eie is aan alle mense, of die mense ter sprake se natuur?

Die eerste verklaring is dat Paulus hier ’n algemene menslike natuur van heteroseksualiteit veronderstel: dis hoe God mense gemaak het. Wie homoseksueel optree, tree teen dié Godgegewe natuur op (“teen-natuurlik”). “Hulle vroue” is dan vroue in die algemeen. Enige man/vrou wat homoseks beoefen, tree dus teen die skeppingsordening van God op, en dit is sonde.

Maar daar is ’n tweede verklaring van “natuur”: die mense ter sprake se natuur. Hulle tree teen hul eie natuur op. Dié mense is heteroseksueel, maar beoefen homoseks. “Hulle vroue” is dan die betrokke mans se vroue.

Dié verklaring veronderstel die volgende prentjie: Daar is getroude mans en vroue wat saans by die openbare baddens homoseks beoefen. Dis téén die mans se natuur, want hulle is heteroseksueel, en dus ook teen “hulle vroue” se natuur.

Dit sou beteken dat dit hier, net soos in Genesis 19, gaan oor heteroseksuele mense wat homoseks beoefen.

‘n Keuse tussen dié twee verklarings is moeilik. Maar ek meen die frase “hulle vroue” swaai die skaal in die guns van die tweede. Die “hulle vroue” kan beswaarlik na alle vroue in die algemeen verwys (waarom dan die “hulle”?), maar baie sinvol na dié mans se vroue wat hulle saans by die huis los. In dié geval was dit dus getroudes wat homoseksuele praktyke beoefen het.

En dit is presies wat ons in Genesis 19 gekry het.

Ek meen daar is nêrens in die Bybel sprake van mense wat homoseksueel is nie. Dit beteken dat ons nie in die Bybel uitsprake het oor hulle nie.

En ek sien geen rede waarom twee sulke mense in sonde leef as hulle getrou aan mekaar is nie. Hulle sou sonde doen as hulle heteroseksueel optree, want dit sal teen hul natuur wees.

• Adrio König is professor in sistematiese teologie aan Unisa.

Kommentaar

Adrio König is al persoonlik per e-pos gevra om wetenskaplike verwysings te gee van hoekom hy dink dat homoseksualiteit geneties van aard is. Hy kon nie.

Gaan kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit om te sien hoe verkeerd onder andere König se opinie is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui