Kerk tas mis: Jesus het hom nóóit aan God gelykgestel

*******

BRIEF | Kerk tas mis: Jesus het hom nóóit aan God gelykgestel | Rapport

Sondag, 15 Januarie 2023

Barend Gildenhuys, Brooklyn, skryf:

Dit was met skok en verontwaardiging dat ’n mens moes lees van die leed wat dr. Peter Nagel van Stellenbosch deur die Kerk aangedoen is oor sy standpunt ten opsigte van Jesus se Godheid, al dan nie (Rapport, 8 Januarie).

Jesus het homself nóóit aan God gelykgestel nie. Daar is talle voorbeelde in die Bybel, soos byvoorbeeld dié van die ryk jong man (Luk 18:19) waar Jesus hom van God onderskei en gesê het “Niemand is goed behalwe God nie”.

In ’n goeie voorbeeld lees ’n mens ook oor Jesus se sarkasme toe hy aan ’n voornemende volgeling wat eers sy moeder ter ruste wou lê, gesê het “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe . . .” (Luk 9:60). Ons mense is almal so, nie God nie.

Jesus het homself ook nooit aangebied as deel van ’n “Drie-eenheid” nie. Laasgenoemde was ’n Katolieke besluit by die Konsilie van Nicea (325 n.C.), waar biskop Arius die knie moes buig voor Athanasius wat die meerderheidstem verkry het van ’n minderheid biskoppe uit die Wes- en die Oos-kerk wat opgedaag het. Duidelik ’n demokratiese verkiesing met die opsteek van hande en voilà, Jesus is God en nie ’n heilige nie.

Paulus en die evangeliste weet niks daarvan af nie en die Drie-eenheid is ook nie in die Bybelkonkordansie opgeneem nie. Die Bybel stel dit glashelder duidelik dat Jesus ’n Joodse rabbi, ’n mens was wat op barbaarse wyse aan sy einde gekom het.

Derhalwe sê die Kerk dat Jesus, wat doeke gedra en moedersmelk gedrink het (Luk 2:7), God is (Nicea) en die Bybel sê “nee” (Mark 13:32 e.a.).

Sterkte, dr. Nagel, die teologie is ’n baie riskante bedryf.

1 thought on “Kerk tas mis: Jesus het hom nóóit aan God gelykgestel”

  1. Vrydag 10 Februarie
    Wat ek nie verstaan nie is hoe iemand wat as predikant in ‘n kerk georden is en dus ook aan die gedragskode as predikant in dié kerk onderworpe is, en daardie kerk se voornemende predikante help oplei, wel wetende wat dié kerk bely, maar dit self nie meer onderskryf nie, so oënskynlik oneerlik kan optree nie… Hoekom sou mens jou nog steeds aan ‘n organisasie verbind hou as jy willens en wetens nie meer glo wat die organisasie glo nie? Hoekom sal mens nie eerder dan die integriteit hê om te bedank en ‘n ander weg te volg nie? Dit klink vir my na ernstige ontrou en bedrog van iemand wat in ‘n vertrouensverhouding gestaan het. Hy skyn ‘n wolf in skaapsklere te wees. Sy optrede is vir my nie verenigbaar met lidmaatskap óf predikantskap óf dosentskap in die NG Kerk of enige kerk nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui