Herrie oor NG moderator se evolusie-mening

Herrie oor NG moderator se evolusie-mening | Beeld

27 Julie 2010

Johannesburg – ‘n Herrie het losgebars om die kop van prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, na aanleiding van ’n standpunt wat hy oor evolusie ingeneem het.

Dr. Jurie van den Heever, paleontoloog van die Universiteit van Stellenbosch, het selfs woorde soos “dom” en “belaglik” gebruik in sy reaksie op Strauss se standpunt.

Hy’t ook gesê dis miskien gevaarlik om so iemand as moderator te hê van ’n kerk wat baie hoog oor die waarheid opgee.

Dit het begin toe die teologies konserwatiewe glanstydskrif Juig by Strauss wou weet wat die NG Kerk se amptelike standpunt oor evolusie is.

“Word die Bybel nog onvoorwaardelik as die Woord van God aanvaar?” wou Juig weet.

Strauss het onder meer gesê hy glo in die Bybelse skeppingsleer met God-Drie-enig as Skepper van die hemel en aarde.

Hy dink daar kan binne die soorte van plant, dier en mens evolusionêre verandering plaasvind.

“Daar is egter geen bewese sprake van ‘spontane’ oorgange tussen die soorte soos konsekwente evolusioniste beweer nie.”

Strauss het aangevoer dat dooie fossiele dit nie kan bewys nie.

Hy het konsekwente evolusie bestempel as “’n (by-)geloof met bewerings wat nie behoorlik gestaaf kan word nie”.

Sy voorouers was nie ape nie, het hy gesê.

Jean Oosthuizen van Kletskerk het Strauss se antwoorde aan Van den Heever gestuur en dié se hele antwoord op Kletskerk geplaas.

Daarin het Van den Heever onder meer gesê dis gewoon dom om van spontane oorgange tussen spesies te praat, want die oorgange is nie spontaan nie.

Oorsaak en gevolg is aan die orde van die dag.

Om te sê fossiele kan evolusie nie bewys nie, is volgens Van den Heever om in die induktiewe wetenskaplike metodes van die 17de eeu vasgevang te wees.

“Om al die empiriese bewyse te ignoreer en evolusie as bygeloof te bestempel, toon duidelik dat Piet Strauss óf nie lees nie óf geen kritiese oordeelsvermoë het wanneer dit by voor die handliggende feite kom nie.”

Strauss se stelling dat sy voorouers nie ape was nie, is volgens hom doodgewoon belaglik.

“Wetenskaplikes het al by herhaling daarop gewys dat ons nie van ape afstam nie, maar dat ons en die ape minder as 10 miljoen jaar gelede ’n gemeenskaplike voorvader gehad het.”

Van den Heever meen enigeen wat vandag nog uitsprake soos Strauss s’n oor evolusie maak, verstaan geen snars daarvan nie.

Strauss het by navraag gesê Van den Heever het hom verkeerd verstaan waar hy oor soorte praat.

Hy verwys nie na spesies nie, maar na soorte soos plant, dier en mens. Stof verander nie vandag in plante nie en diere word nie mense nie.

Hy wou nie op Van den Heever se persoonlike opmerkings reageer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui