Grootdoop: NG Kerk ‘soos inkwisisie’

Kyk ook:

Grootdoop: NG Kerk ‘soos inkwisisie’ | Rapport

deur Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

2011-08-06 15:43

Terwyl ek destyds op skool was, het van my medeskoliere wat die bekeringsdoop ondergaan het, gesê hulle kan nie verstaan hoe die geleerde professore nie die kwessie van die bekeringsdoop kan insien of verstaan nie; die Bybel is dan so duidelik daaroor.

Toe ek die berig “Laat bekeringsdoop toe“ (Rapport, 31 Julie) lees en sien hoe geleerde teoloë soos prof. Adrio König (foto) nou voorbrand maak vir die aanvaarding van die bekeringsdoop, het dit my laat wonder hoekom dit so baie dekades (eintlik eeue) geneem het voordat teoloë die woorde van Christus oor die bekeringsdoop aanvaar. Hoekom het die NG Kerk al die eeue, en nou nog, soos ’n inkwisisie opgetree teenoor lidmate wat hulle laat doop? Selfs ’n kind wat die Bybel lees, kan die bekeringsdoop verstaan. Is dit nie tyd dat meer klem gelê word op Christus se opdrag aangaande die doop eerder as die geskrifte van die kerkvaders nie? Te veel kerklike gebruike is gegrond op tradisie, leerstellings van mense en ou, heidense gewoontes.

Hoe kan God ons volk seën as ons bly vasklou aan tradisie eerder as Christus se opdragte? Prof. König rys uit soos ’n Martin Luther. Dankie aan al die dominees wat manhaftig opgestaan het vir die Bybelse doopwaarheid, terwyl die kerk hulle uitgeskop het.

Hierdie doopdebat laat my dink aan Christus se woorde: “Hierdie volk eer my met hul mond, maar hul hart is ver van my af.

“Dit help niks dat hulle my probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

Hy het verder vir hulle gesê: “ Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en jul oorgelewerde gebruike in stand te hou.” – Lukas 7:6-9

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui