Die NG Kerk en Gays

Kyk ook:

1. Geestelike Verwarring

Daar is navorsers wat beweer dat Ritalin wat vir kinders met leerprobleme gegee word, by sommige kinders op ’n latere stadium in hul lewe probleme skep. Ritalin werk glo in die brein ’n bepaalde verwarring nl. dat die natuurlike fisiese of seksuele aangetrokkenheid tussen man en vrou vervang word met ‘n onnatuurlike behoefte na dieselfde geslag. Die navorsing duur voort.

Om Ritalin as metafoor te gebruik….sonde werk soos Ritalin, dit bring ’n verwarring. Sonde beskadig jou oordeelsvermoë oor wat reg of verkeerd is. Jesaja het al gewaarsku: “Weë hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.” (Jes 5:20)

Die Bybel sê elke mens het ’n gewete, dit is daardie instrument in elkeen wat leiding oor reg en verkeerd gee (Joh 8:9). Die Christen se gewete word gevorm deur God se standaarde. Die Bybel is vol waarskuwings om jou gewete op te pas dat dit as meetinstrument nie deur sonde beskadig of onklaar gemaak sal word nie (1 Tim 1:19). Want “as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees.” (Mat 6:23)

Soos Simson se oë met ’n warm yster uitgesteek is, waarsku Paulus met die beeld dat in die laaste dae daar geestelike leiers gaan wees wie se gewete of oordeelsvermoë, asof met ’n warm yster uitgesteek is (1 Tim 4:2). Dit is daardie insig-gestremde geestelike leiers wat voorgee dat hulle kan sien, maar blind is. Titus verwys ook na die gestremde leiers wie se oordeel op twee vlakke ‘beskadig’ is; “hulle verstand sowel as hulle gewete …is besoedel…” (Titus 1:15) Jesus noem hulle “blinde leiers van blindes…wat dan altwee in die sloot val” (Mat 15:14)

Hou ’n magneet naby ’n kompas en wat is die gevolg? Jy sal nooit ’n korrekte lesing kry nie!

Daarom die oproepe in die Bybel: “Wees heilig…”; ‘ wandel nougeset….”; “Hou nie gemeenskap met…”; en onttrek jou aan “mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is…” en “Hou jou rein.”

Die eerste tekens van geestelike verwarring is dat mense sukkel om te weet of iets reg of verkeerd is! Sake wat duidelik in die Bybel is, word skielik sake waaroor sinodes in jare nie kan besluit nie. Hierdie verwarring het ’n oorsaak nl. ’n ‘beskadigde meetinstrument’, die gewete.

Die ‘kompas’ wat die rigting aandui is ‘beduiwel’, dit gee verwarrende lesings! In die verwarring wat volg, het alle rigtings skielik die moontlikheid om reg te wees. Dit kan tog nie wees nie!

Die Heilige Gees se beheer in die Christen se lewe word sigbaar as ’n sensitiewe deurwag (gesonde gewete) wat alarm maak. Wanneer gedagtes, besluite of dade God in sy tempel nie gaan verheerlik nie, gaan die rooilig van onvrede aan. Die deurwag se deeglikheid hang af van sy getrouheid aan die Woord.

Die kernoorsaak wat die kompas se lesing ‘beduiwel’ is ’n afvalligheid van die Woord van God. Natuurlik kan persoonlike sondes ook deel van die probleem wees. Wat anders kan leraars en lidmate deesdae laat afwyk van wat al die jare geglo is? Wat anders laat die geestelike leiers gruwelike dwalinge en sondes goedpraat? Hulle sê, nuwe navorsing lei glo tot ’n nuwe interpretasie van die Bybel en so word vreemde sake goed gepraat. Dat ’n slang kon praat, ’n vis mense kan insluk, ’n ark wat alle diersoorte kon akkommodeer, dat Jesus letterlik en liggaamlik uit die dode kon opstaan, is glo nie meer logies en wetenskaplik nie.

Sedert daar ook nie meer tug oor lidmate en leertug oor dosente is nie, het ’n losbandigheid toegeneem tot so ’n mate dat die Kerk se standpunte al meer ooreenstem met ’n goddelose regering se oortuigings, bv oor evolusie, aborsie en homoseksualiteit. Wie dit dan nog waag om sonde aan te spreek, word stilgemaak met ’n “jy mag nie oordeel nie!” Daarom swyg baie. Soos in Jesaja se tyd is die geestelike leiers: “…slapende honde wat nie kan blaf nie….”(Jes 56:10).

Oswald Chambers skryf: “Jy kan nie sake deurdink om geestelike verwarring op te klaar nie; om sake te verhelder moet jy sy Woord kinderlik gehoorsaam. Jy kan intellektuele sake logies deurdink, maar in geestelike sake, los van die Woord, dink jy jou net dieper in dwalende gedagtes en verwarring in.

Selfs die kleinste dingetjie wat ons in ons lewe toelaat en wat nie onder die beheer van die Heilige Gees is nie, is voldoende om geestelike verwarring te veroorsaak. En al bestee ons tyd om daaroor te dink, sal dit sake nooit ophelder nie. Geestelike verwarring word alleenlik oorwin deur gehoorsaamheid aan die Woord van God. Saam met gehoorsaamheid kom die onderskeiding en innerlike vrede.”

Conscience, that noble faculty, is God’s deputy in the soul; it is a candle not only lighted by Him, but lighted for him.” (M Henry)

2. ’n Opdrag om te dros uit jou Kerk?

Dros uit jou Kerk? Hoe kan Paulus so iets voorstel? Dit is Paulus se raad in 1 Tim 6:5 (AOV) : ”nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.” Die konteks is lering in die gemeente en die oorlewing van die Christen (vers 3).

Elke wedergebore Christen het iets kosbaars ‘onder die arm’ wat hy van God ontvang het. Die gawe wat hy ontvang het word ’n ‘pand’ in die Afrikaanse vertaling genoem. In die Grieks is hierdie ‘pand’ ’n Bank of in finansiële terme, ’n deposito. Drie keer kom die opdrag in die boek Timótheüs (6:20 & 2 Tim 1:12,14) dat ons die ‘pand’; dit is ons verlossing in Jesus Christus, moet bewaar en telkens word ons opgeroep om alles te vermy wat die ‘pand kan steel’ of in gevaar kan stel.

1. T.o.v. die leraars maak Paulus melding van ten minste vyf kolegas wat tydens sy bediening hul pand verloor het; nl. Figellus, Hermogenes, Himenéüs, Filétus en Demas.(2 Tim 1:15) As Paulus riglyne gee waarom mense hulle moet onttrek uit ’n atmosfeer van misleiding of verkeerde leringe, is daar ’n bekommernis by hom oor hul geestelike welsyn: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?” (1 Kor 5:6). Geestelike leiers het ’n invloed en die verkeerde leiding kan mense afvallig maak van die ware Evangelie. Daarom dat hy kinders van die Here oproep om hulle te onttrek. Die woord onttrek beteken letterlik om soos ’n soldaat te dros. Hulle moet padgee van diegene wat hulle deur subtiele bedrog van hul deposito kan beroof!

Hy gee verskeie redes wat elke Woordgetroue toelaat om te dros. Dit gaan nie help om die Kerk van binne te probeer verander nie omdat sulke leiers in ’n magsposisie is, in sirkels praat en daarmee wys dat hulle verdorwe in die verstand is. Verdorwe in die Grieks beteken letterlik om verrot in hul denke te wees! Verder is hulle beroof van die waarheid. Beroof dui dat hulle deur geestelike swendelary en filosofiese kulkuns vervreem is van die werklike betekenis van God se Woord. Paulus waarsku m.a.w. dat wanneer lidmate blootgestel word aan sulke vernuftige en verfynde swendelary, dan moet hulle padgee. Hy herhaal weer om sulke mense te vermy en nie met hulle te assosieer nie: “Keer jou ook van hierdie mense af.” (3:5)

Wie die Here nie ernstig opneem in sy oproep om nie met sulke leraars te meng nie, stel sy wandel en verhouding met God in gevaar: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (2 Kor 6:17,18). Die rede word gegee: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.(2 Joh 1:10,11). M.a.w. wanneer jy jou nie verwyder van die valse leraar se invloed nie, verklaar God jou skuldig aan presies dieselfde oortreding waaraan die valse leraar skuldig is. Barnes verduidelik: “For he …… is partaker of his evil deeds – it shows that he countenances and approves of the doctrine which is taught.”

Hoe versigtig moet die kind van die Here nie wees waar hy aanbid en aan wie se lering hy hom blootstel nie. Die boodskap moet duidelik deurkom dat jy nie kan saamgaan met leringe wat in stryd is met die boodskap van die Bybel nie.

2. Dit geld ook vir lidmate wat met dwaalleringe besig is. Van leraars word verwag om diesulkes se “mond te stop” deur hulle “skerp te bestraf” sodat hulle “gesond in die geloof’ kan word. (Tit 1:11-13). As dit nie help nie, moet daar ’n breuk kom: “En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” (Mat 18:17). Dit word herhaal: “En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word.” (2 Tes 3:14). Die “skaam” in die Grieks dui op respek en impliseer respek vir God en sy Woord. Die verbod op kontak is God se voorskrif om mense wat in rebellie teen God en sy Woord is, op te roep tot bekering . Dit is die Bybelse voorskrif vir die tug in elke gemeente – die tug wat in baie kerke glad nie funksioneer nie.

In die humanistiese en demokratiese atmosfeer van die tyd waarin ons leef, word so ’n oproep om te vermy as baie liefdeloos en kras gesien, dis te eksklusief! Hoe kon Paulus dan nog ekskommunikasie voorstel om sulke mense “aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus” (1 Kor 5) ?

Die hedendaagse geestelikes glo in ’n ‘inklusiewe’ benadering. Dis glo liefdeloos, wreed en onmenslik om dié rebelle, waaronder gays, saamblyers, bedrieërs, misleiers, en noem maar op, te laat voel dat hulle eenkant gestoot word! Daarom word daar ook nie meer oor die hel gepreek nie! Moenie iets sê wat hulle wil verander en kan seermaak nie! Dit is liefdeloos en ongevoelig! Die tug mag ’n metode in Paulus se tyd gewees het, maar in ons moderne samelewing werk dit glo nie!

Die Christelike kerk se status het verander van die Liggaam van Christus na ’n tipe Afrika Taxi wat almal verwelkom. In hierdie Taxi is daar geen dissipline of toelatingsvereistes nie, terwyl die ‘drywer’ sonder die lisensie van Titus 1:7-15 bestuur en net moet sorg dat die Taxi vol is en almal dit geniet en welkom voel. “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” (Tit 1:16)

“It is right for the church to be in the world; it is wrong for the world to be in the church. A boat in water is good; that is what boats are for. However, water inside the boat causes it to sink.”- Harold Lindsell

As jy in ’n ‘Afrika Taxi’ tipe kerk is…gee pad! Soek ’n gemeenskap van gelowiges wat God vrees en nog glo dat “die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Ti 3:16).

William Booth, the die stigter van die Salvation Army, het reeds in sy tyd voorspel: The chief danger that confronts the coming century will be religion without the Holy Ghost, Christianity without Christ, forgiveness without repentance, salvation without regeneration, politics without God, heaven without hell.

Ds Denzel Dick
Mobiele Evangelisasietrust
George

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui