Kyk ook:
- Johan Janse van Rensburg
- Jesus is die EEN! (2011, Johan Janse van Rensburg)
- Die Bybel oor Jesus se opstanding
*******
Waar is Jesus se liggaam nou? | Kerkbode
Johan Janse van Rensburg
Kerkbode, 6 November 2009
Die debat rondom die opstanding van Jesus Christus het nou ’n nuwe en ernstige wending geneem. Aanvanklik was dit een teoloog wat nie wou bely dat Jesus werklik opgestaan het nie. Toe het ’n tweede teoloog die opstanding omskryf as geestelik en nie fisiek nie. In reaksie hierop het verskeie daarop aangedring dat Jesus fisiek en histories opgestaan het. Die gesamentlike verklaring van moderators van die onderskeie streeksinodes het hierdie bewoording onderskryf. Hierdie standpunt is deur die moderator van die NG Kerk, prof Piet Strauss, verklaar en verdedig.
Die genoemde verklaring het egter heftige reaksie uitgelok. Eers het dr James Kirkpatrick sy ongemak met die bewoording “fisiek en histories” uitgespreek. Toe verklaar dr Johann Ernst, aktuarius van die NG Kerk, dat Jesus juis nie fisiek en histories opgestaan het nie (Kerkbode 11 September 2009).
Voorstanders van die geestelike opstanding van Jesus gebruik dan die Bybelse argument dat Jesus kon verskyn en verdwyn en die wet van swaartekrag kon ophef. ’n Fisieke (opgestane) liggaam kan dit nie vermag nie, lui die argument.
Hiermee is die nuwe wending in die gesprek dan aan die orde. Aan dr Ernst en dié wat soos hy dink, moet ek in alle erns vra: “As Jesus nie fisiek opgestaan het nie, waar is sy liggaam nou?” Steun u die gerug wat deur Pilatus en die Jode versprei is dat die disippels Jesus se liggaam in die geheim weggedra en op ’n ander plek begrawe het? Die graf was immers leeg?
Die Anglikaanse biskop John Robinson het in die laat sestigerjare hierdie gedagte laat herleef. Hy het in sy boeke Honest to God en But that I can’t believe die opstanding tot die ewige lewe verwerp en verklaar dat Jesus se beendere nog êrens in Palestina lê.
Deesdae loop hierdie teorie weer sterk en daar is onlangs in ’n televisie-program bespiegel (byna in die styl van Dan Brown se The Da Vinci Code) dat Jesus se liggaam êrens in Frankryk begrawe is en dat ’n monnike-orde oor die graf, wat met ’n groot klip aangedui is, waak.
Dus my vraag: “Waar is die liggaam van Christus as Hy nie fisiek opgestaan het nie?” Die Skrif antwoord: Jesus is nie meer in die graf nie, maar Hy het opgestaan en na die hemel opgevaar. So het die kerk ook deur die eeue heen bely (Apostoliese Geloofsbelydenis). Die bedoeling van soos 1 Korintiërs 15 en Romeine 8:34 het tot hierdie geloofsuitdrukking aanleiding gegee. Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 18) antwoord dat Jesus “na sy menslike natuur” nie meer op aarde is nie. Hy het opgevaar na die hemel. Artikel 37 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sluit hierby aan as verklaar word dat Jesus Christus “liggaamlik en sigbaar” sal kom om as Regter oor die wêreld te oordeel.
Johannes Calvyn (Institusie 1/2, 16:447) lê in sy bespreking oor die opstanding van Christus die klem op die oorwinning oor die dood en die mag wat die dood oor ons liggame het. Dan vra hy: “For how could he by dying have freed us from death, if he had yielded to its power? How could he have obtained the victory for us, if he had fallen in the contest?” Die implikasie is duidelik. As Jesus nie fisiek uit die dood opgestaan het nie, het hy in werklikheid nie die dood oorwin nie!
Oor die bedoeling van die Skrifteks en die interpretasie van die gereformeerde belydenis was daar in die verlede geen onduidelikheid nie. Johan Heyns stel dit duidelik in sy Dogmatiek: “Al is die hoe van die opstanding nie vas te stel nie, die dat van die opstanding is ’n onbetwisbare historiese werklikheid waarvan die leé graf, die weggerolde klip, en die opgerolde doeke … as tekens dien”
Dit lyk of Heyns se opmerking oor die “hoe” die deur ooplaat vir die geloof in ’n geestelike opstanding (nie fisiek en liggaamlik). Heyns sluit egter hierdie deel van sy dogmatiek af deur te beklemtoon dat die opstanding God se bedoeling met die mens herstel en volbring. “Eenmaal mens geword, bly Christus ook na sy opstanding nog steeds dié Mens in wie Gods beeld finaal en totaal herstel, en maksimaal ontwikkel word.” Dus was Jesus volkome mens ook na sy opstanding!
Natuurlik bly Jesus se opstanding ’n diepe misterie wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie. Hoe dit moontlik was dat Jesus in sy opgestane liggaam kon eet, Thomas kon toelaat om die wonde aan sy lyf te voel, en tog kon verskyn en verdwyn, kan ons natuurlik nie verklaar nie. Maar in die geloof was verstaan, verklaar en bewys nog nooit deurslaggewend nie. Is geloof dan nie juis die vaste sekerheid van dit wat ons nie kan sien nie (Heb 11:1)? En kyk ons nie nou deur ’n spieël in ’n raaisel nie (1 Kor 13)?
As die kerk, wat ons geestelike moeder moet wees, ooit by ’n punt kom om die standpunt te aanvaar of te akkommodeer, dat Jesus fisiek dood is en dat sy beendere nog êrens (in Palestina of Frankryk of waar ook al) lé, sal duisende gelowiges sonder twyfel hulle lidmaatskap van die kerk heroorweeg.
Die NG Kerk sal aan hierdie sake nou dringende en onmiddellike aandag moet gee. Wanneer die moderator en die aktuarius van die kerk twee sulke uiteenlopende standpunte oor so ’n wesenlike saak handhaaf, flikker die gevaarligte!
- Prof Johan Janse van Rensburgis ondervoorsitter van die Moderamen van die Sinode van Vrystaat.