Opstand in NG Kerk teen dwaalleer neem toe

Kyk ook:

*******

Opstand in NG Kerk teen dwaalleer neem toe | Afrikaner

Afrikaner

16 Februarie 2006

Die verkondiging van dwaalleer binne die NG Kerk is besig om sy tol te eis.

Die nuutste verwikkeling in hierdie verband is die uitspraak van prof Cas Vos, dekaan van die Fakulteit Teologie van die NG Kerk aan die Universiteit van Pretoria wat gewaarsku het dat die Bybel nie te letterlik geinterpreteer moet word nie. Dit is een van die gevaarlikste standpunte wat ingeneem kan word, want dit beteken dat kernwaarhede soos die maagdelike geboorte van Christus, sy opstanding uit die dood en sy hemelvaart ook nie “letterlik” opgeneem hoef te word nie. Dit beteken dat die beskouings van mense soos prof Sakkie Spangenberg en andere soos die Nuwe Hervormers vryelik verkondig kan word, sonder vrees dat hulle as dwaalleraars of ketters uitgewys sal word. Hulle kan hulle eenvoudig net beroep op prof Vos se waarskuwing dat die Bybel nie te letterlik opgeneem mag word nie.

Dus open hierdie uitspraak van prof Vos die deur vir die verkondiging van feitlik enige dwaalleer of kettery sonder dat daar teen die betrokke persoon opgetree kan word.

Intussen is die teenstand teen kerkleiers wat sodanige standpunte inneem, besig om toe te neem. Merkwaardig genoeg, is dit die teologiese studente wat besig is om die leiding te neem. Die onvolwasse, studerende jongelinge wys dié persone wat veronderstel is om die kennis in pag te hê, tereg, terwyl inderdaad net die teenoorgestelde verwag kan word

Die implikasies is egter skrikwekkend. Dit beteken dat jong predikante wat onder dwaalleraars deurgeloop het, in hul gemeentes hierdie verdraaide Bybelbeskouings aan gemeentelede oordra, dat dit ‘n vervlakking en verdraaiing van Bybelwaarhede tot gevolg het.

Dit het juis nou weer daarop uitgeloop dat nog vier leraars van die NG Kerk van die verkondiging van dwaalleer aangekla word. Die klagtes is weereens ingebring deur die teologiese student, mnr Ferdie Mulder wat ook by die vorige klagtes teen die verkondiging van dwaalleer van sekere professore was. Mnr Mulder studeer aan die Universiteit van Pretoria.

Mnr Mulder het. vier predikante van die NG Kerk aangekla, naamlik dr Ben du Toit (NG Kerk, parlementére kantoor), dr André van Niekerk (Skuilkrans), dr James Kirkpatrick (Suidoos Pretoria) en ds Barry van der Merwe (Lynnwood).

Dr André van Niekerk, wat Saterdae die godsdiensrubriek in Beeld hanteer, word daarvan aangekla dat hy juis dwaalleer oor die maagdelike geboorte van Christus verkondig. Hy het ook die vermeerdering van brode deur Christus bevraagteken.

Die beskuldigdes is erg onthuts omdat mnr Mulder hulle aangekla het sonder om eers die saak met hulle te bespreek. Hulle het egter in die openbaar hul standpunte gestel, wat mnr Mulder die reg gee om hulle aan te kla. Die probleem van verkondiging van dwaalleer word ook ‘n redelik algemene probleem in die NG Kerk, met die gevolg dat dit optrede vereis van lidmate van die kerk wat nie daarmee gedien is nie. Marten Luther ‘het ook in 1517 sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker sonder om met individuele kerkleiers oor hul dwalinge te praat. Juis daardie daad van hom het die debat in die Roomse Kerk aan die gang gesit wat uitgeloop het op die Hervorming.

Mnre. Mulder het al voorheen saam met ‘n groot aantal ander studente drie teologiese professore oor dwaalleer aangekla sonder dat die saak na behore ondersoek en daaroor verslag gedoen is. Hy het ook die kuratorium van die NG Kerk wat moet toesig hou oor die opleiding van predikante van die kerk. Hulle het egter geweier om dit eens in ontvangs te neem. So ‘n optrede maak debat oor die saak in elk geval onmoontlik.

Dr Nelus Niemandt, aktuarius van die vorige algemene sinode van die NG Kerk, het boonop mnr Mulder daarvan beskuldig dat hy besig is met ‘n heksejag wat debatvoering oor die saak onmoontlik maak. Die teenoorgestelde is inderdaad die waarheid, naamlik dat dit debat oor die saak uitlok. Die indruk word eerder geskep dat die NG Kerk nie bereid is om debat te voer oor beskuldigings dat hulle nie Woordgetrou die evangelie verkondig nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui