Die Sistynse kapel in Italië

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Augustus 2002 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************


Ek het in die vorige briefie vertel dat Amor vir ons seun in Engeland gaan kuier het. Hulle het ook ’n draai in ltalië gemaak en sy verteI die volgende oor die Sistynse Kapel in Rome: Die Sistynse Kapel is ’n afsonderlike kerkie, dig teen die groot St Peters Katedraal. Die hele gebou is binne nie sommer net geverf nie. Oral teen die dak en die mure is reuse skilderwerke aangebring wat as van die grootste kunsskatte ter wêreld beskou word. Dit is ’n permanente deel van die gebou se versiering.

Die reuse skilderye is deel van Michaelangelo se nalatenskap aan die wêreld. Pous Julius 11 het destyds in die jare 1500 nC vir Michaelangelo die opdrag gegee om dit te doen. Die pous wou eintlik gehad het dat Michaelangelo engele en pouse op die mure moes aanbring, maar hy het anders besluit. Hy het besluit om eerder Bybelse temas in sy skilderye uit te beeld. So het dit dan gekom dat mens vandag daar teen die dak van die gebou kan kyk na 33 reuse skilderye wat temas uit die Ou Testament uitbeeld. Die bekende prent hierbo is Michaelangelo se voorstelling van God wat aan Adam die vonk van die lewe oordra. Teen die een muur is ’n uitbeelding van die Laaste Oordeel. Hy het daarvoor 391 figure gebruik waarvan sommiges twee en ’n half meter hoog is!

Vandag kom mense van oor die hele wêreld om te kyk na die indrukwekkende kunswerke in die Sistynse Kapel. Amor sê toe sy daar was, was die hele plek vol mense wat na die dak en die mure gestaar het. Daar was ook baie Chinese en ander oosterlinge. Elkeen het ’n oorfoontjie gekry waarmee aan die besoekers verduidelik is wat die betekenis van die skilderye is. Wat die mense in werklikheid daar hoor en sien is die die Bybelse geskiedenis en God se plan met die einde van die wêreld. So preek Michaelangelo vandag, 500 jaar na sy dood vir die moderne mense. Daar in die Sistynse Kapel is die Evangelie, die boodskap van die Bybel vir almal wat daar kom beskikbaar.

Hierdie verskynsel dat ’n kerkgebou ’n boodskap bring is nie net waar van die Sistynse Kapel nie, maar van baie plekke in Europa en Engeland. Mense kom van heinde en verre om na die Christelike kuns uit die verlede te kom kyk. Dit is ’n wonderlike geleentheid. Ons hoef nie sendelinge te stuur na ver plekke nie. Hulle kom na Europa om na geboue en kunswerke te kyk en in die proses kom hulle in aanraking met die Bybelse boodskap en kan hulle Christus leer ken.

Hier is ’n paar belangrike gebedsonderwerpe:

  • Kom ons bid dat die miljoene mense wat Europa kom besoek, sal nadink oor die Evangelie waarmee hulle in aanraking gekom het as hulle terugkom by hulle huise.
  • Bid dat hierdie toeriste na die Bybel sal soek om meer te wete te kom van God en dat daar mense sal wees wat hulle verder sal onderrig, soos wat Filippus vir die Etiopiër wat Jerusalem besoek het onderrig het. (Handelinge 8:35)
  • Bid vir die kerk in Europa wat nie meer entoesiasme het vir Christus en die Evangelie nie. Hoe wonderlik sal dit nie wees as die mense van die wêreld na Europa toe sou kom en daar entoesiastiese Christene sou ontmoet wat nie kan ophou om te vertel van die groot dade van God en van sy liefde vir die mense nie.
  • Kom ons verootmoedig onsself ook voor die Here dat ons aan ons doel sal beantwoord hier in Afrika waar God ons geplant het.

Ds Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui