Pieter Hurter se voorlegging aan byeenkoms in George

Kyk ook:

Ná die 2015 Algemene Sinode van die NG Kerk ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings, is daar ’n byeenkoms van die Ringe van Suid-Kaap in George op 4 November 2015 gereël om die besluit te bespreek. Die moderator, Nelis Janse van Rensburg, het ook as spreker opgetree tydens die byeenkoms.

Pieter Hurter, kerkraadslid van Moedergemeente George, het die volgende voorlegging opgestel en voorgelees tydens die byeenkoms. Daarna het Nelis voortgegaan om die 2015-besluit te verdedig waarna die meerderheid van mense die saal verlaat het.

Vir meer agtergrond, kyk Kerkraadslede stap uit vergadering met moderator.

Hier volg Pieter Hurter se voorlegging:

Geagte Voorsitter,

Ek lees hierdie verslag namens ’n groep NG Kerk lidmate voor.

Ons begin eers met ’n inleiding voordat ons by die vrae kom.

Ek dink die meeste van ons wat hier teenwoordig is, het gay-familie of goeie kennisse. Dit is nie ’n vreemde verskynsel nie. Baie gay-mense gedra hulle soos gerespekteerde oujongkêrels en -nooiens soos ons dit maar in die spreek taal ken. Dit gaan by ons groep oor die permissiewe en onnatuurlike gedrag van sommige gay persone in teenstelling met Bybelse opdragte en voorskrifte. Dit is juis waar gay-verbintenisse aangegaan word dat hierdie sondige handelinge volgens die Woord aangemoedig en goedgekeur word.

Ek wil baie kortliks verwys na die praktiese kant van homoseksualiteit. Ons weet die moderamen is toegegooi onder lidmate se besware grotendeels op die beoordeling van Bybelse uitsprake.

In my loopbaan het ek te doen gehad met die praktyk en realiteite van homoseksuele verhoudings. Jare gelede is die eerste geslagsiektes en later vigs op gereelde basis gediagnoseer met homoseksuele verhoudings as bron daarvan. Verder is daar vasgestel dat gay mans geslagsiektes ook na vroue oordra. Dit is van die sogenaamde bi-seksuele persone.

Vandag sit ons in ’n land met baie gay mense wat depressief oor hulle dade word en uiteindetik selfdood pleeg, hul lewensmaats vermoor of aanrand omdat hulle kwaad of jaloers is oor ’n verhouding wat meer hel as heil gebring het. Ek wens ek kan u vertel van die skok wat jy ervaar wanneer jy gays se verblyfplekke moet ondersoek weens die een of ander oortreding wat daar plaasgevind het. Dit is maar een van die redes waarom die Bybel dit kategories stel dat homoseksualiteit ’n gruwel is.

Prof. Jan Van der Walt, ’n voormalige professor in Nuwe Testament by die Universiteit van Pretoria, het by geleentheid gesê: Daar is baie sake waaroor die Bybel nie duidelike uitsprake gee nie, maar oor homoseksualiteit is daar geen onduidelikheid nie. Homoseksualiteit is sonde, punt.

Swart mense beleef hierdie gedragspatroon in baie erge vorm. Homoseksualiteit is nie deel van die swart kultuur en tradisie nie. Daarom dat swartes steeds ernstig teen gays gekant is en dikwels geweld teen hulle gebruik. U behoort dus te verstaan waarom die besluit nie in die NG Kerk Namibie van krag is nie. Ons verwag dat die AS teenstand van baie kerke in Afrika gaan kry. Op sigself is dit ’n doodskoot vir die NGK se ekumeniese uitreik in Afrika.

Voordat ek by ons vrae kom. In Rom 1:24-27 staan daar dat “mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulself die verdiende straf.” Is dit nie die geval met Sodom en Gomora nie? Die misdryf Sodomie is dan juis afgelei van die woord Sodom.

1. Met die besluit van die AS oor gays is daar nie aan die praktiese implikasies gedink nie? Dit is nou goedgekeur dat gay predikante nie meer selibaat hoef te leef nie. Sodra hulle na die “praktyk” oorgaan, pleeg hulle sodomie. Keer die kerk nou amptelik sodomie goed? Paulus skryf van die hoereerders, egbrekers, sodomiete ens. dat daar wel vir hierdie sondaars regverdiging deur Jesus Christus gekom het. Is die boodskap wat die AS moet uitdra nie dat daar vir homoseksuele mense wat homoseksuele dade pleeg verlossing en heiligmaking in Jesus Christus,nie. Ons hoor nie dit nie. Hoe kan die AS dan van homoseksuele mense praat sonder om hulle in liefde te vermaan dat hulle sondig wanneer hulle homoseksualiteit beoefen?

2. Hoe kan die AS dit regverdig om onderskeid te tref tussen ’n huwelik en ’n burgerlike verbintenis, terwyl dit in die praktyk presies dieselfde regsgronde en gevolge het. Maak ’n burgerlike verbintenis tussen mense van dieselfde geslag in die kerk nie ’n bespotting van die huis van die Here nie?

3. Het lidmate van die kerk, ampsdraers ingesluit, nie by aanvaarding van hul lidmaatskap van die NGK voor God en Sy gemeente verklaar dat hulle die belydenisskrifte aanvaar nie? Lei vraag 2 van die formulier van aanneming nie soos volg nie:

Aanvaar u die Ou en Nuwe Testment as die enigste onfeilbare woord van God EN o.a. verwerp u alle leringe wat daarmee in stryd is. Het die AS in Oktober nie hiermee in stryd gehandel nie en ook in die Media oor hoe die Bybel vertolk moet word nie?

4. Wat bedoel die moderator en is hy emstig as hy op TV noem dat die woord homoseksualiteit in die Bybel verkeerd vertaal is en dat daar aandrang is dat die woord uit die Bybel verwyder moet word?

5. Wat bedoel die moderator dat die Bybel histories, literêr en wetenskaplik gelees moet word.

6. Die moderator is veronderstel om onpartydig teenoor alle lidmate te wees. Waarom maak hy hom in ’n TV-debat skuldig aan ’n eensydige standpunt inname, wetende dat duisende lidmate nie met hom saamstem nie? Terwyl daar ontsagtelike simpatie deur die moderamen aan gays betoon word, is die teenoorgestelde waar as hulle optrede teen die oormag lidmate in aanmerking geneem word. Dit sal nie onvaspas wees om hier te sê dat die kerkleiding totaal uit voeling is met gewone lidmate se gevoelens, oortuigings en insigte in die Woord nie.

7. In aggenome die geweldige ontevredenheid en teen reaksie teen die sinode besluit, (gaan kyk maar na die sosiale media, baie E-posse en groeps besware) is die AS bereid om hul standpunt te heroorweeg? Daar is dan ook menings verskil in die moderamen self oor die besluit.

Met dank en groete,

Pieter Hurter

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui