NG Kerk skik oor gays

Kyk ook:

Die volgende artikel is oorspronklik in Beeld gepubliseer.

*********

NG Kerk skik oor gays

7 Jun 2007 10:20:59:953PM

NG predikante mag voortaan gay wees, maar hulle mag nie gay leef nie. Die algemene sinode van die NG Kerk het gister in Boksburg ’n kompromisbesluit oor die gay-vraagstuk aanvaar. Lees die verslag.

Neels Jackson

NG predikante mag voortaan gay wees, maar hulle mag nie gay leef nie.

Die algemene sinode van die NG Kerk het gister in Boksburg ’n kompromisbesluit oor die gay-vraagstuk aanvaar.

Dié besluit kan op verskillende maniere vertolk word. Volgens een interpretasie kan gemeentes gay ouderlinge, diakens en lidmate akkommodeer, sonder dat hulle selibaat moet bly. Gemeentes kan self besluit hoe hulle gay verhoudings onder hul lidmate sal hanteer.

Die groep wat gay akkommodasie voorstaan, het dit as ’n belangrike stap vorentoe bestempel. Saam met die feit dat ds. Laurie Gaum se appèl teen sy ontslag as predikant gister gehandhaaf is, het dit vir heelwat blydskap gesorg.

Nadat die sinode eergisteraand gekonfronteer is met twee stelle voorstelle oor die kwessie, is die kompromisvoorstel oornag deur die moderators van die tien streeksinodes uitgewerk.

Dit is gisteroggend met ’n oorweldigende meerderheid – met 299 teenoor 66 stemme – aanvaar.

Die sinode het besluit: “Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges, daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.”

Die NG Kerk aanvaar met dié besluit dat alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde. Hulle word op grond van hul doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar.

Die sinode hou egter by die kerk se ou standpunt dat net ’n verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word. Losbandigheid onder homo- én heteroseksuele word ook veroordeel.

Oor homoseksuele verbintenisse en huwelike lui die besluit dat dit “nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie”.

Hieroor wissel die interpretasies. Een siening is dat daar met dié besluit geen ruimte vir gay verhoudings gelaat word nie. ’n Ander siening is dat dit bloot sê dat gay verbintenisse nie dieselfde of in plek van die huwelik gestel kan word nie, maar dat dit as iets heel anders daarnaas kan bestaan.

Oor die predikantsamp is besluit dat homoseksuele wat predikante wil word, selibaat moet bly.

In ’n laaste punt van die besluit erken die algemene sinode “die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer”.

Hieroor was daar wye meningsverskil. Volgens dr. Nelus Niemandt, nuutverkose assessor van die sinode, is die bedoeling daarvan dat kerkrade kan besluit om gays wat in vaste verhoudings is, as kerkraadslede te bevestig.

Behoudende lede van die gay-taakspan meen egter dat die besluite wat oor die huwelik en homoseksuele verhoudinge geneem is, só ’n moontlikheid uitsluit.

As die eerste interpretasie aanvaar word, beteken dit egter ook dat gays nie oral ewe welkom sal wees nie omdat kerkrade ook hul diskresie sou kon uitoefen om enige gay bedrywighede te straf.

Ds. Pieter Oberholzer, gay predikant van Kaapstad, was veral bly oor die atmosfeer waarin die debat gevoer en die besluit geneem is. Hy het gesê hy het dit as baie vriendeliker as in die verlede ervaar.

njackson@beeld.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui