NG Kerk: Kampe ‘ken mekaar nie meer nie’

***********

NG Kerk: Kampe ‘ken mekaar nie meer nie’ | Kerkbode

Kerkbode

12 Desember 2020

“Dit is vir ons moeilik en selfs onmoontlik om almal in die kerk as broers en susters te belewe,” sê die skrywers van ’n dokument wat ’n teologiese tuiste probeer skep vir ander NG lidmate wat verskil van die kerk se standpunt rondom selfdegeslagverbintenisse.

“Ons was eens kollegas en vriende, maar die afstand tussen ons word al groter. Ons ken mekaar nie meer nie. Ons glo die ervaring is wedersyds,” luidens die 19-blad dokument wat vroeg op 11 Desember aan verteenwoordigers van al die kerk se streeksinodes gestuur is.

Aan die woord is die Moreleta Kairos Netwerk (MKN), wat gevorm is na ’n samekoms in Februarie vanjaar by die Moreleta Gemeente in Pretoria.

Dit kom nadat afgevaardigdes by die NG Kerk se Algemene Sinode (AS) in Oktober 2019 ’n besluit aanvaar het wat ruimte bied vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Die MKN verskil van die besluit en kritiseer ’n amptelike gids wat opgestel is om gesprek oor die onderwerp te help voer. “Die gids gee voor dat die apostelvergadering in Handelinge 15 ’n ‘baie duidelike voorbeeld van twee groepe (is) wat saamstem om te verskil.’ Daarmee wil die (Algemene Sinodale Moderamen) ‘die kerk gerusstel dat ons 2019-besluit ’n Bybelse manier van besluit is’ … Dit is gewoon ’n valse voorstelling om die apostelvergadering in Handelinge 15 voor te hou as ’n skikking van standpunte!” luidens die dokument.

Ds Heerden van Niekerk was die sameroeper van die span wat in opdrag van die algemene sinode die gids saamgestel het. “Ons opdrag is om te verduidelik hoe die algemene sinode tot die 2019-besluit gekom het,” het Kerkbode berig toe ons die gids in Maart vanjaar HIER gepubliseer het.

Die gids kyk na dinge soos:

  • Die pad van die NG Kerk met selfdegeslagverhoudings sedert 1986.
  • Skrifhantering en ’n geskiedenis van teologiese verskille in die kerk.
  • Hoe die kerk dink oor “kern-” en “randsake” en reageer op onderliggende verskille.
  • Bybelse tekste oor “onderlinge eenheid”.
  • ’n “Christelike styl” van gesprek.

Die MKN bevraagteken teoloë se “lang filosofiese dissertasies”. Hulle voer aan: “Die waarskuwing teen onsedelikheid (porneia) loop soos ’n goue draad deur die hele Bybel en pertinent ook in die briewe van die apostels. God haat onsedelikheid. Porneia (die oorkoepelende term) is ’n kernsaak wat vanaf Handelinge 15:29 ’n neerslag vind in amper al die briewe van Paulus (aangevul met ’n reeks ander woorde en beskrywings van die tipe porneia wat ter sprake is): 1 Tessalonisense 4:7; Galasiërs 5:19; Romeine 1:29; 1 Korintiërs 5 – 7; 2 Korintiërs 12:21; Kolossense 3:5; Efesiërs 5:2 en 1 Timoteus 1:10. Dieselfde geld van Johannes in Openbaring 2:14; 9:21; 14:8; 17:2, 4; 18:3, 9; 19:2. Wil die sinodale amptenare van die taakspan wat met die gids van die ASM in die kerk wil rondgaan werklik voorgee dat hulle hierdie dinge nie weet nie? Hulle staan saam veroordeeld met die oordeel van die Skrif oor die mense wat met hierdie porneia omgaan en dit goedpraat (Rom 1:32).”

Kerkbode het HIER en HIER berig hoe die betrokke besluit rondom selfdegeslagverhoudings verlede jaar geneem is.

Die volledige besluit van die AS is HIER gepubliseer te midde van die vele ANDER BESLUITE wat deur die loop van daardie vergadering geneem is.

HIER is ’n oorsig van standpunte wat oor die jare oor die onderwerp gelug via Kerkbode se brieweblad en rubrieke-afdeling .

Hieronder publiseer ons die volledige dokument soos uitgestuur deur MKN.

(Vir die dokument op Glo die Bybel, kyk Beoordeling van ASM se “Gids” oor selfdegeslagverhoudings)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui