’n Man wat by ’n man lê soos by ’n vrou…

Jan Louw het die volgende plasing op Facebook gemaak.

**************

’n Man wat by ’n man lê soos by ’n vrou…

31 Oktober 2018

Hierdie woorde kom uit een van die boeke van Moses en is as sulks in ons Bybel opgeneem. Die 1953 Afrikaanse Bybel vertaal Lev 20:13 as volg:

“En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle”.

Die English Standard Version vertaal die teks meer letterlik uit die Hebreeus as volg:

“If a man lies with a male as with a woman, both of them have committed an abomination; they shall surely be put to death; their blood is upon them.”

Ek het ’n foto van hierdie woorde in die Hebreeuse Bybel geneem en sluit dit hieronder in.

Ons moet onsself afvra of hierdie woorde in Levitikus, na 3500 jaar ook op ons in die Nuwe Testament van toepassing is?

Om die Bybel reg uit te lê moet ons sekere (hermeneutiese) beginsels in aanmerking neem. Ons moet kyk na die konteks: Wie het die woorde gesê, vir wie is dit gesê en onder watter omstandighede is dit gesê? Daarna moet ons gaan kyk of die woorde ook op ander plekke in die Bybel voorkom. Is dit deel van die breër Bybelse en teologiese raamwerk? Daarna kan ons gevolgtrekkings maak oor die toepassing van ’n teks vir vandag. Hieroor ’n paar opmerkings aangaande Levitikus 20:

1. Die waarskuwings en voorskrifte in Levitikus 20 begin met die woorde: “Die Here het vir Moses gesê …

Ons moet dus aanvaar dat die woorde wat hierop volg, ’n uiting is van die wil van die Here aan sy volk Israel. Israel was op daardie stadium in die woestyn. Die wetgewing wat Israel in die woestyn by die Here gekry het, was uniek. Daar was nie weer ’n Moses nie. Die wet van Moses moes dien as verbondsvoorskrifte vir Israel tot by die koms van die Seun van God (Deut 18:15).

2. Toe Jesus, die Seun van God gekom het, het hy nie die wet van Moses opgehef nie. Hy het gesê: Mat 5:17: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle, hulle volle betekenis te laat kry”. Dit is duidelik dat Jesus en die apostels die wet van Moses steeds hoog geag het (Mat 4:4; Luk 10:26; Joh 7:19; Rom 7:12).

3. Die wetgewing oor die offerandes het verval. Daaroor skryf die Hebreërbriefskrywer uitvoerig en sê bv: “Hy (Jesus) skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd” (Hebr 10:9,10).

4. Daar is ook ander wette wat nie direk op ons in die Nuwe Testament van toepassing is nie, maar dit is goed dat ons al die wette sal oordink, omdat hulle steeds ’n weerspieëling van die wysheid van God is. Die doel van die wet is dat God wil hê dat sy mense anders moet lewe as die mense van die wêreld. Die woorde: Wees heilig, soos Ek heilig is, loop soos ’n goue draad deur die wetgewing van die Ou Testament (Lev 11:44,45)

5. Die die voorskrifte in Lev 20 het besondere betekenis vir ons, omdat dit soos die Tien Gebooie, etiese implikasies vir alle tye het.

6. Die gevolgtrekking wat ons na aanleiding van Lev 20:13 oor homoseksuele verhoudings moet maak is dat die verbod steeds geldig is. Dit is ’n ernstige oortreding in die oë van die Here wat in die kategorie van afgodery en bloedskande genoem word.

Die beginsels van Skrifuitleg wat ek hier aanbied is veronderstel om basiese vertrekpunte van Gereformeerde prediking te wees, maar ons word almeer ontnugter by die gewaarwording dat leraars glad nie meer op dieselde bladsy is, as ons oor die Bybel met mekaar praat nie. Ons kan mekaar nie meer verstaan nie. Dit is soos met die taalverwarring by Babel waar die mense in frustrasie uitmekaar gegaan het.

Wat het onder ons gebeur? Ek glo die oorsaak moet gesoek word by die suurdeeg van die liberale teologie wat besit geneem het van die denke van baie leraars in die kerk.

Kom ons neem die voorbeeld van Levitikus 20. In die liberale teologie word vandag algemeen geleer dat die boeke van Moses dateer uit ’n tyd ná of týdens die ballingskap. Hulle meen priesters rondom die jare 500 vC en nog later, het uit Babiloniese en Ugaritiese bronne, boeke saamgestel om inhoud te gee aan die Jahwe godsdiens. So sou die boeke van Moses en ook die wetgewing in Levitikus dan tot stand gekom het. Hiervolgens was daar dus nooit werklik ’n Moses wat vir 40 jaar saam met ’n groot nasie in ’n woestyn oorleef het nie. Die tog deur die see word gesien as oordrewe verhale van storievertellers wat oor eeue mondelings oorgelewer is. Die wetgewing kom nie van God af nie, maar is deur mense opgestel.

Vanuit sulke twyfelagtige vertrekpunte wil die geleerdes dan oor bv Lev 20:13 uitsprake maak. By ’n Sinode van Suid-Transvaal in 2001 is voorgestel dat dit hier “nie oor homoseksualiteit as sodanig handel nie, maar oor kultiese tempelprostitusie wat algemeen in die Kanaänitiese vrugbaarheidsrituele beoefen is”. Die skrywers van die verslag maak die gevolgtrekking, dat die bedoeling van Lev 20:13 is, om te sê dat “sulke seksuele dade, of dit nou homoseksueel of heteroseksueel is, nie tuishoort in die erediens van Israel nie.”

Bo-oor al die teologiese dwaasheid van die teenswoordige wêreld weerklink die Woord van die Here egter steeds helder en duidelik:

“As ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen”. So het die Here gesê, so staan dit geskrywe en niemand kan dit ontken of ongedaan maak nie.

Hierdie Woord in Lev 20:13 het in ons tyd ’n tsoenami veroorsaak. ’n Oorstroming het die kerk (internasionaal) getref. In die verwarring hoor ons stemme wat roep: “Ons moet vashou aan mekaar …. ons moet liefhê ….. menswaardigheid ….”

Dit help egter niks. Die vloedwater dryf ons net verder uitmekaar uit. Ons verloor mekaar. Leraars, kerkrade, sinodegangers, familielede en vriende hoor mekaar nie meer nie. Ons dryf al verder van mekaar af weg.

Sal ons mekaar ooit weer vind tussen die puin wat oorbly?

Kommentaar

Somerset Morkel

Op jou vraag:

Nee.

Dis verby.

2 Tess 2:11-12 : Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.

Gerhard Landman

Die homoseksuele agenda is vanaf die duisternis. En wat het die lig en donker in gemeen..? ~ 2 Korinthiërs 6:14

Ons hoef mekaar dus nie te vind in die puin nie.

Ons wat die waarheid ken mis niks as ons mekaar nie vind oor hierdie saak nie, want dis twee verskillende geloofsmentaliteite.

Wolf Cilliers

Lyk goed. Ek lees later graag die hele skrywe sodra ek kans kry.

Cornelis Potgieter

JA!! Dis SUIWER EVANGELIE!!

Francois Deyzel

Jan, wanneer jy na Paulus se herhaling daarvan kyk in 1Kor 6 in die Grieks se woord-vir-woord vertaling dan bly dit nogsteeds dieselfde al is daar grieks interliniëre wat dit nie so duidelik weergee nie. Daar is ’n moedswillige verdraaiing van die Woord.

Ritha Grobbelaar

En mens hoef nie eens oor dit te wonder nie want fisies is mans se liggame nie vir mekaar gemaak nie, so ook nie vrouens se liggame vir mekaar nie. Ek het nou die dag so seergekry vir die Here se part: sien foto’s van 2 “getroude” vrouens voor in ’n NG gemeente wat “hulle” babadogtertjie laat doop, en die 2 vrouens staan daar en handjies vashou! Om handjies vas te hou voor in ’n kerk, so in die Here se aangesig! Maak so seer soos as iemand die Here se Naam ydelik gebruik.

Koos Reyneke

Dankie Jan!

Het die ‘83 vertalers gegly?

Nee!

Byna woordeliks…

“As ’n man by ’n man slaap soos ’n man by ’n vrou slaap, moet beide doodgemaak word. Dit is ’n afskuwelike ding en hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.”

[Hierdie is die NLV, nie 83 vertaling nie. Die 83 vertaling sê: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”]

Jan Louw

Koos Reyneke daar was ’n stadium toe die vertalers geglo het in die sg dinamiese vertaling. Dit behels dat hulle betekenis wou oordra en nie woorde nie. Dit was die onderliggende filosofie van die ’83 vertaling. Dit was nie ’n sukses nie. Daarom is hulle nou besig met ’n direkte vertaling.

Ongelukkig is die kerk nooit gevrywaar van die teologie van ’n vertaler nie en dit geld selfs van die beoogde direkte vertaling

Delan Kruger Daar kan geen ander gevolgtrkking wees nie ….dankie vir die duidelike Woord ……sommiges sal hoor ander kan nie hulle is aan hul eie luste oorgegee …..ons moet ophou skuldig voel maar mag nooit ophou waarsku nie ….dit is immers ons opdrag !!!

Andrew En Sontie Hattingh Delan Kruger ja en dit is so ons moet waarsku en dit is nie veroordeling nie, as iemand kaapstad (hemel) toe wil ry en hy of sy ken nie die pad nie, moet jy hulle verduidelik hoe hulle daar kan uitkom en sê as hulle daar wil uitkom moet daar nie ander afdraaie vat nie, anders kom jy by durban(hel) uit

Somerset Morkel

Geen manier hoe ons met hierdie mense wat humanistiese rebellie teen Christus in die naam van liefde verkondig kan aanhou fellowship nie.

Hulle is van ’n ander gees, nie die Gees van Christus nie.

Ek kan nie verstaan waarom so baie NGK teoloë & lidmate wat nog behoudend is, aan fellowship in dieselfde struktuur met hierdie mense bly vashou nie.

Julle verleen legitimasie aan hierdie mense binne die kerkstruktuur, terwyl hulle nie ware Christene is nie, leuenaars is, ’n ander evangelie aanhang, ’n ander Jesus volg & misleiers is.

Waarom hoor ek nie dat NGK mense hierdie mense vals profete in ’n vals kerk noem nie?

Waarom is julle so versigtig om bande met dié mense te breek?

Is julle bang julle word beledig?

Waar is die waagmoed vir die Waarheid van Christus?

Moet nou net nie sê jy post jou opposisie op Facebook nie.

Dis piffle in vergelyking met opstaan openlik binne die kerk.

Delan Kruger

Oom Sommie jys reg in jou ander plasing ….ons sal uit die kerk moet gaan …die meerderheid gaan bly sit en kompromië aangaan met die mense ….

Gerhard Landman

Wonder ek ook hoekom hulle so bang is om bande te breek met die vals profete en hulle aanhangers.

Daardie mense glo nie dat sodomie sonde is nie, en basta met die res.

En niks gaan hulle in hierdie leeftyd van die teendeel oortuig nie.

Delan Kruger

Omdat ons in die kerk wil bly ….ons hoor nie die duidelike boodskap” ….kom uit haar uit nie “….ons is mislei om te glo dat die kerk die bruid van Christus is ….Terwyl dit duidelik net gelowiges is wat in geloof deur gehoorsaamheid volhard tot die einde toe….

Delan Kruger Die valse een godsdiens valse kerk is besig om voor ons oë te manifisteer…..ons het net een opdrag …”Kom uit haar uit “.

Herman van Rensburg

Delan Kruger Dit skyn so te wees

Delan Kruger

Ons is gewaarsku Oom Herman 2000 jaar terug ….en juis die waarwording bevestig die betroubaarheid vd Evangelie ….Ons behoort God te prys vir die bevestiging dat ons God alwetend is …..en dat die Woord betroubaar is ….ook wat die Hemel en hel aanbetref

Peet van Tonder

Dankie Jan ,die Woord is die waarheid en ons bly daarby. Net tyd skei O.T. en N.T… die N.T. is net die voltooiing van wat reeds begin is..en bly God se Wil. Jesus leef in die N.T. en haal uit bykans elke boek van die O.T. uit aan…daarmee bevestig hy die egtheid van die O.T. Hoe blind kan mense wat nie wil sien nie tog wees?.

Jan Louw

Somerset Morkel en ander. Die rede waarom ek hierdie plasings doen is nie ’n poging om met die kerkleiding te kommunikeer nie. Hulle het die hef in die hand met Kerkbode en hulle Sinodale strukture. Dis nou vir jare dat ek met die kerkleiers probeer praat het. Daarvan kan ek heelwat voorbeelde noem. Ek het saam met Theo Danzfuss ’n beswaarskrif ingedien toe die Sinode besluit het ons hoef nie in die duiwel te glo nie. Ek het ’n klomp beskrywingspunte ingedien by die Sinode van die Vrystaat en dit daar probeer verdedig. Ek het die kuratorium van die Vrystaat toegespreek ens, ens.

Die leiers staan sterk. Hulle weet om jou met mooiklinkende woorde uit te knikker.

As ek sou opstaan en wegloop sal hulle maar net te dankbaar wees. Dan is daar te minste een stem stil, sodat hulle hulle eie ding kan doen.

Ek skrywe hier vir my eie mense. Daar is baie gewone lidmate in die kerk wat besorgd is maar nie die omvang van die valsheid verstaan nie. Hulle glo nog in die kerk. Die kerk met sy geleerdes kan tog seker nie so van die pad af wees nie. Almal is nie so ingelig soos ek nie omdat ek nou al jare die dinge dophou.

Ek het op ’n stadium nog probeer kommunikeer by predikante forums op faceboek, maar ek het besef dis nutteloos. Jy word eenvoudig oorweldig deur gemeenheid, beledigings en irrasionele argumente wat jou nêrens bring nie en die bestuurders van die forums wys niemand tereg nie. Die Kerkbode se amptelike faceboek is ’n goeie voorbeeld.

Ek het my voorgeneem my rol is om te getuig. Daarom het ek die plasing gedoen oor Lev 20:13. Ek wil die twyfelendes herinner aan wat die Skrif sê. Daar sal ’n dag kom dat die Here sal ingryp, soos Hy by Israel ingegryp het en Jerusalem laat val het. Jeremia het egter in die stad gebly en voorgegaan om te getuig. So sien ek my rol in hierdie tyd. Intussen het ek ’n plek hier in my gemeente waar ek kan getuig dat ek broederskap beleef en waar ek die gawes wat die Here my gegee het kan uitleef.

Ritha Grobbelaar Mens verwonder mens ook maar net dat daar soveel mense is wat hierdie dinge maar as deel van die normale gang van die mensdom sien, naamlik dat ons diegene wat gay wil leef maar net moet uitlos en hulle hulle gang moet laat gaan. Mense is ook al so gebreinspoel met “moenie oordeel nie”. Feit is hulle wil ook nie he mense moet waarsku nie. Als is mos maar reg deesdae. Die mens staan voorop in alles. Solank die mens net happy is. Wat van God se Heiligheid? Mens voel nie meer tuis tussen mense wat als goedpraat nie.

Rheinier Nel

Hierdie stryd gaan gewen word deur hulle wie die langste asem het. Ek weet. Been there, done it got my T shirts. Gordel vas ons gaan.vd postlib beweging.!!!!!

Johnnie le Roux

Jan, is die Kerk nie bang om die ou suurdeeg onder ons uit te verwyder nie. Die Kerk, by name die N.G. Kerk hoef nie te skeur nie. Die ou suurdeeg moet net uit. (Natuurlik na deeglike broederlike onderhoud). Is dit liefdeloosheid? NEE!!! Maar so kan dit nie aangaan nie. Daar is sekerlik ander sake wat ook aandag nodig het, maar dit vir ’n ander dag.

Jan Louw

Johnnie le Roux die ouens wat die kerkleer uitdaag is gewetenloos. As jy oor die leer praat is hulle glibberig en hulle skroom nie om hof toe te gaan nie. Kan voorbeelde noem in die onlangse en verre verlede.

Herman van Rensburg Dit is hierbo klaar duidelik verwoord: “Dit help egter niks. Die vloedwater dryf ons net verder uitmekaar uit. Ons verloor mekaar.” (Sedert die Vat 2 Ekomeniese Konsilie van die vroe-e 1960s is God en die hiernamaals uit die sentrum van die christelike godsdiens gehaal en draai als om die mens en die hiernoumaals. Dit vind direk aansluiting by die ou mens en die daarmee gepaardgaande Armiianisme. Ons ken die eeueoue stryd wat dit gebring het.) Dit is in hierdie puin/chaos wat oorbly wat ons soeke na gemeenskaplikhede plaasvind.

Nico Rademeyer

Jan hoewel ek jou salueer omdat jy behoudend is, en ook jou stem laat hoor het wil ek volmondig met Somerset Morkel saamstem oor sy plasing ek het dit gekopieër en plak dit weer hier onderaan want ek dink dit kan nie oorbeklemtoon word nie. SOMERSET MORKEL SE PLASING; Geen manier hoe ons met hierdie mense wat humanistiese rebellie teen Christus in die naam van liefde verkondig kan aanhou fellowship nie.

Hulle is van ’n ander gees, nie die Gees van Christus nie.

Ek kan nie verstaan waarom so baie NGK teoloë & lidmate wat nog behoudend is, aan fellowship in dieselfde struktuur met hierdie mense bly vashou nie.

Julle verleen legitimasie aan hierdie mense binne die kerkstruktuur, terwyl hulle nie ware Christene is nie, leuenaars is, ’n ander evangelie aanhang, ’n ander Jesus volg & misleiers is.

Waarom hoor ek nie dat NGK mense hierdie mense vals profete in ’n vals kerk noem nie?

Waarom is julle so versigtig om bande met dié mense te breek?

Is julle bang julle word beledig?

Waar is die waagmoed vir die Waarheid van Christus?

Moet nou net nie sê jy post jou opposisie op Facebook nie.

Dis piffle in vergelyking met opstaan openlik binne die kerk.

Chris Saayman

Dankie vir die deeglike stuk werk. Stem 100% saam. Skrifkritiek kom al dekades lank in die fakulteite. Ek troos my daaraan dat die apostel Paulus die woord arsenokoites uit die Griekse vertaling van Levitikus 20 gehaal het. Daardeur bevestig hy die tydlose waarheid daarvan asook die Goddelike oorsprong. Dit wat Christus en die skrywers van die NT oor die OT geglo het tel 1000% meer gewig as dit wat enige moderne teoloog opdis. Ons weet gewoon nie beter as hulle nie en hulle het onder meevoering van die Gees gepraat.

Pieter Cloete

Ek het ’n probleem met wat liberale teoloë hul by ons teologiefakulteite mee besig hou. Verkies om nie deel van daardie groep te wees nie.

Nico Malan

Net weereens die skrif wat in vervulling gaan. Die wolwe in skaapklere wat die mens sal wegrokkel van die Waarheid af nl. Jesus Christus.

Nico Rademeyer

Nico Malan…die wolwe ja, maar dan weer sê Paulus vir Timotheus vanweë die feit dat mense in die gehoor gestreel wil word sal hulle vir hul ’n menigte leraars versamel volgens hulle eie begeerlikhede. Maw die mense sal hierdie “OORSTREELERS” soos magnete na hulle toe aantrek. Maar hoekom ? Omdat, sê Paulus hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maw hulle sal ’n weersin in die gesonde leer hê. Hierdie gesonde leer is dan juis ook dit wat hulle verbied om volgens hul eie begeerlikhede te wandel. Let ook op dat hulle nie net een of twee nie, maar ’n menigte predikers sal versamel (bymekaar maak).

Jan Louw

Interessant dat die koerant vir Andre Bartlett so nuuswaardig vind vir ’n dubbele volblad. Bartlett: Om weer die Goeie Herder se stem te hoor

Jan Louw

Saint Nicolaas Coetzee hier is ’n skakel oor Wie is Andre Bartlett

Wie is André Bartlett?

Sarita-Elize Badenhorst

Dis maar nét soos met Nelis Janse van Rensburg. Deel van die proses om koppe te probeer swaai na “seisoen van menswaardigheid” om verkeerd as reg te aanvaar,om tog net nie aanstoot te gee nie.Ons gaan waarskynlik nog baie sulke berigte en bekendstellings kry.Daai lys van predikante en dosente is lank!!

1 thought on “’n Man wat by ’n man lê soos by ’n vrou…”

  1. Baie dankie hiervoor, dit antwoord soveel vrae.
    Wat ek wil weet, is waarom kerke dan steeds verkondig dat ons die ‘nuwe leefstyl’ moet aanvaar?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui