Mag geskeides weer trou?

Voor ons die vraag “mag geskeides weer trou volgens die Bybel?” kan bespreek, is dit goed om te onderskei tussen twee tipes egskeidings:

  1. Onaanvaarbare egskeidings volgens die Bybel
  2. Aanvaarbare egskeidings volgens die Bybel.

Daar is twee verklaarde gevalle wanneer egskeiding aanvaarbaar is vir die Here volgens die Bybel.

  1. Die een geval is wanneer ’n ongelowige van ’n gelowige wil skei. Kyk 1 Kor 7: (15)“As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie.”
  2. Die ander geval is oor owerspel. Kyk Mat 19: (9)“Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk.” Hierdie was Jesus se eie woorde.

Selfs dan is dit nie ’n gebod om te skei nie, maar die Here laat dit wel toe. In baie sulke gevalle is versoening egter steeds moontlik.

Die volgende is dus onaanvaarbare redes om te skei:

  • Ons verstaan mekaar net nie meer nie of swak kommunikasie.
  • Ons moes nooit getrou het nie.
  • God het nie bedoel dat ons ooit moes trou nie.
  • Ek het iemand anders ontmoet wat my so goed verstaan.
  • My nuwe verhouding is so wonderlik – dit moet van God af kom.
  • Die vonk is uit ons huwelik of ons voel net niks meer vir mekaar nie of die verhouding is dood.
  • Hy het niks verkeerds gedoen nie, maar die probleem is hy doen net niks nie.
  • Ensovoorts…

Ons wil nie sê dat ons met bogenoemde alle redes vir egskeidings kon klassifiseer in “onaanvaarbaar” en “aanvaarbaar” nie, maar met bogenoemde riglynonderskeid kan mens ver met die bespreking kom.

(Daar bestaan uitstekende, verhoudingsveranderende Lewensverrykingseminare vir enigiemand wie se verhouding in ’n krisis is, of wie se verhouding maar net bietjie flou is, of wie se verhouding goed is — selfs baie goed — en wat dit nog verder wil verbeter. Gaan kyk gerus na lewensverryking.co.za.)

Die rede waarom die verskoning dat “God ons nie vir mekaar bedoel het nie”, nie ’n geldige rede is om te skei nie, is duidelik uit die volgende vers. 1 Kor 7: (15)“As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie.” Die gelowige word selfs hier nie die toestemming gegee om die skei-aksie aan die gang te sit nie, selfs al weet ons God wil nie hê gelowiges moet met ongelowiges trou nie.

Hierdie saak van hertrou van geskeides is vir ons moeilik om bo alle twyfel uit die Bybel te beantwoord, maar ons glo tog dat God wat volkome kan vergewe, wel ook hertrou van geskeides toelaat. Ons probeer hieronder alles in die Bybel lys wat daaroor gaan en lewer dan kommentaar soos ons dit sien.

Matteus 5: (31)Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ’n skeibrief gee. (32)Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

Die gedeelte “maak dat sy egbreuk pleeg” is problematies tensy dit eintlik beteken dat dit kan maak dat sy egbreuk gaan pleeg. Met ander woorde ons sou dit wou sien as “kan daartoe lei dat sy egbreuk pleeg”. Die laaste gedeelte van vers 32 verwys dan na die man wat met so ’n egbrekende vrou trou. Beteken dit dat ’n gelowige nooit met ’n gewese egbreekster of selfs prostituut mag trou nie? Nee ons dink dis wel toelaatbaar mits so iemand tot bekering gekom het, en dus nie meer onder God se oordeel staan nie.

Daar is selfs ’n voorbeeld in die Bybel waar ’n gelowige nie net met ’n prostituut getrou het nie, maar van die Here opdrag gekry het om dit te doen:

Hosia 1: (1)Die woord van die HERE wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel. (2)Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou ’n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word. (3)Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom ’n seun gebaar.

Dit blyk ongelukkig uit die verdere gedeeltes dat sy weer ontrou geword het, maar tenminste was daar sprake van ’n tydelike bekering (nie noodwendig redding nie).

Die oudprostituut Ragab het selfs deel geword van Jesus se aardse voorgeslag:

Josua 2: (1)verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur, veral Jerigo.” Hulle is toe weg en het uitgekom by die huis van ’n prostituut met die naam Ragab en daar tuis gegaan. (2)Die koning van Jerigo het berig gekry dat daar in die nag van die Israeliete af mense aangekom het om die land te verken, (3)en hy het vir Ragab laat weet: “Lewer die manne uit wat na jou toe, na jou huis toe, gekom het. Hulle is hier om die land te verken.” (4)Die vrou het die twee manne weggesteek en vir die koning laat weet: “Daar het manne by my aangekom, maar ek weet nie waarvandaan hulle is nie. (5)Hulle het met donker vertrek toe dit tyd was vir die stadspoort om te sluit, en ek weet nie waarheen hulle is nie. Maak gou en agtervolg hulle. Miskien haal u hulle in.” (6)Sy het die twee manne intussen op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat sy daar oopgesprei het. (7)Die koning se manne het na die twee verkenners gaan soek op die pad na die Jordaan toe, in die driwwe se rigting. Nadat die agtervolgers weg is agter die verkenners aan, is die stadspoort gesluit. (8)Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak (9)en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. (10)Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. (11)Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde. (12)“Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my ’n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my ’n betroubare aanduiding (13)dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.” (14)Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s’n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.”

Josua 6: (16)En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE gee die stad aan julle oor. (17)Maar die stad met al wat daarin is, moet ’n banoffer aan die HERE wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het. …… (23)Die jongmanne, die spioene, het toe ingegaan en Ragab met haar vader en haar moeder en haar broers en almal wat aan haar behoort het uitgebring–al haar familiebetrekkinge het hulle uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel laat bly. En die stad met alles wat daarin was, het hulle met vuur verbrand; net die silwer en die goud en die koper–en ystervoorwerpe het hulle by die skat van die huis van die HERE gevoeg. Maar Josua het Ragab, die hoer, laat lewe en haar familie en almal wat aan haar behoort het; sodat sy onder Israel gewoon het tot vandag toe, omdat sy die boodskappers weggesteek het wat Josua gestuur het om Jérigo te verken.

Matteus 1: (5)… en Salmon die vader van Boas by Ragab, en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Isai, en (6)Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría, …

Hebreërs 11: (30)Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was. (31)Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.

Jakobus 2: (24)Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie? (25)En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ’n ander pad weggestuur het nie? (26)Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.

Matteus 19: (3)Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit ’n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? (4)En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, (5)en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; (6)sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. (7)Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ’n skeibrief te gee en van haar te skei? (8)Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. (9)Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

Dit lyk vir ons billik om af te lei dat vers 9 verwys na trou met die vrou wat omrede haar hoerery geskei is.

Markus 10: (2)Toe kom die Fariseërs na Hom; en, om Hom te versoek, stel hulle Hom die vraag of dit ’n man geoorloof is om van sy vrou te skei? (3)Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Wat het Moses julle beveel? (4)En hulle sê: Moses het toegelaat om ’n skeibrief te skrywe en van haar te skei. (5)En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe, (6)maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak. (7)Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, (8)en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. (9)Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. (10)En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra. (11)En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; (12)en as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.

Vers 11 en 12 behoort te geld wanneer egskeiding nie gebeur het om die redes wat vir die Here aanvaarbaar is nie, soos hierbo in die inleiding genoem.

Dieselfde geld vir Lukas 16: (18)Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.

Indien die eerste deel van hierdie vers verwys na skei om onaanvaarbare redes, met ander woorde die vrou is onskuldig, en die tweede deel van die vers verwys na dieselfde vrou as die eerste gedeelte, lyk hierdie vers na ’n goeie rede om te dink dat geen troue na enige egskeiding mag gebeur nie. Maar omdat Lukas 16:18 en Markus 10:11 en 12 sekerlik na dieselfde uitspraak van Jesus verwys, glo ons dat Lukas 16:18 se eerste en tweede gedeeltes na verskillende vrouens verwys soos wat by Markus 10 waarskynlik blyk.

1 Korintiërs 7: (1)Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het–dit is goed vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie. (2)Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê. (3)Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. (4)Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. (5)Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ’n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie. (6)Maar dit sê ek by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie. (7)Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders. (8)Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek; (9)maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. (10)En aan die getroudes beveel ek–nie ek nie, maar die Here–dat die vrou nie van die man moet skei nie; (11)en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.

1983 vertaling(10) Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. (11)As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie.

(12)Maar vir die ander sê ek–nie die Here nie–as enige broeder ’n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie; (13)en as ’n vrou ’n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie. (14)Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. (15)Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.

1983 vertaling: (15)As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe.

Ook hier is dit na ons mening redelik om af te lei dat vers 11 verwys na iemand wat om onaanvaarbare redes geskei het, daarom staan daar “as sy tog van hom skei”.

Daarom geld die “moet sy ongetroud bly” nie vir aanvaarbare egskeidings volgens die Bybel nie, maar slegs vir onaanvaarbare egskeidings.

Daarom glo ons hierdie “nie gebonde/gebind nie” in vers 15 sluit die toelating in om weer te trou, want dit gaan oor ’n geval van ’n aanvaarbare egskeiding.

3 thoughts on “Mag geskeides weer trou?”

  1. Sjoe……. HIER IS BAIE ONSEKERHEDE
    *ek is 29 jaar al geskei
    *Wil weer trou na ek iemand ontmoet het
    *ONS BLY APART
    *LEEF SELIBAAT DEURDAT GEEN PENETRASIE PLAASVIND AGV MY DIABETES MAAR SLAAP NAWEKE SAAM EN TTYDENS ONS 3 WEKE VAKANSIE STORT SAAM ens
    *WANNEER IS INTIMITEIET SONDE EN AS ONS SAAMSLAAP IN DIE TENTJIE OF MOBIELE KARAVAAN MET EEN BED?
    *EK IS VERWARD
    SY TREE OOR 3 JAAR AF EN IS 62 EN EK 68
    * FINANSIEEL MOET ONS WAG VIR HAAR AFTREE PAKKET VOOR ONS SAAM KAN BLY EN TROU….
    *IS VERLOWING NIE GEREGVERDIG NIE?
    * MY EPOS IS BUITE WERKING
    *WHATSAPP OF SMS MY 0822989355 of 0828808148

  2. As ñ vrou geskei is, en ontmoet weer iemand met wie sy wil trou, is voorhuwelikse seks geregverdig

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui