Kyk ook:
Let daarop dat Piet Strauss in Berig kan wanindrukke laat (26 Jan 2007) op die stellings in hierdie artikel reageer.
*******
Vrystaters skop vas oor gay-voorlegging | Kerkbode
Kerkbode, 8 Desember 2006
Die NG Kerk in die Vrystaat het hom van die kerk se parlementêre voorlegging oor homoseksuele verbintenisse gedistansieer. Dit volg nadat daar ’n storm oor die aangeleentheid in die provinsie losgebars het.
Verlede maand het die moderator van die vorige Sinode van Oos-Transvaal, dr Johann Ernst, gesê hy kan hom nie met die voorlegging vereenselwig nie terwyl die moderator van die vorige Sinode van Noord-Kaapland, ds FD Hugo, ook sy ontevredenheid oor die voorlegging uitgespreek het tydens die jongste moderamenvergadering.
Die moderamen van die Vrystaatse Sinode sê in ’n verklaring die NG Kerk se voorlegging oor homoseksuele verbintenisse geniet nie die Vrystaatse Sinode se ondersteuning nie.
Volgens dié sinode se moderamen was die voorlegging voortydig omdat die Algemene Sinode eers volgende jaar ’n besluit oor homoseksualiteit sal neem. Die voorlegging – wat voor indiening die goedkeuring van die Algemene Sinode se moderatuur gehad het – het volgens die Vrystaat groot skade aan die getuienis van die NG Kerk berokken en baie lidmate ontstel.
Die moderator van die jongste Sinode van die Vrystaat, prof Piet Strauss, is ook lid van die Algemene Sinode se moderatuur wat die parlementêre voorlegging voor die tyd ter insae gehad het. Prof Strauss het aan Kerkbode gesê hy stem saam met die gedagterigting van die voorlegging, maar daar word nie ’n duidelike onderskeid getref tussen die kerk “wat uit die Woord van die Here werk” en die owerheid wat “die grondwet moet gehoorsaam nie”. Prof Strauss sê die finale dokument het ’n wanindruk geskep dat die kerk aan gay-huwelike dieselfde status wil toeken as aan ’n heteroseksuele huwelik.
Een van die twee opstellers van die finale dokument, dr Ben du Toit van die NG Kerk se parlementêre lessenaar, het aan Kerkbode gesê die voorlegging is voor die tyd aan al die moderatuurslede van die Algemene Sinode gestuur vir kommentaar en hulle goedkeuring. “Prof Strauss is deel van die moderatuur en hy het sy skriftelike instemming daarmee te kenne gegee en ook sy goeie wense vir die voorlegging aan my oorgedra,” het dr Du Toit gesê.
Dr Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk wat die mondelinge voorlegging aan die parlement se portefeuljekomitee gedoen het, sê hy het dit in die begin en aan die einde van sy voordrag baie duidelik gestel dat die kerk ’n Bybelse standpunt oor die huwelik het. Dr Gerber sê hy is tevrede dat hy die Bybelse getuienis van die NG Kerk helder en duidelik gestel het.
Die verskille in die NG Kerk in die Vrystaat het opnuut op die voorgrond getree toe ’n voormalige moderator van die NG Kerk in dié provinsie, dr. Lourens Erasmus, in die Volksblad na sy opvolger, prof Strauss, verwys het as iemand wat vure moet doodslaan om lidmate rustig te maak. “Vir hoe lank gaan die NG Kerk-politiek nog voortgaan om die volk met dieselfde retoriek te probeer sus?”, vra dr Erasmus in ’n artikel wat in Volksblad verskyn het.
In nog ’n artikel in Volksblad, skryf prof Dolf Britz van die Vrystaatse Universiteit: “Met elke omstrede besluit, elke standpunt, elke voorlegging, elke nuusverklaring en elke teruggekrabbel en verduideliking van die NG kerk, groei die ongemak onder lidmate.”
In sy Kersboodskap (bl 7) pleit die moderator van die vorige Algemene Sinode, dr Coenie Burger, vir kalmte oor die gaydebat.
– jean@tydskrifie.co.za