NG leier distansieer hom van Moderatuur oor huwelikswet

*******

NG leier distansieer hom van Moderatuur oor huwelikswet | Kerkbode

Kerkbode, 24 November 2006

‘n Lid van die NG Kerk se moderamen het hom amptelik gedistansieer van die kerk se voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee rakende die wetgewing oor huwelike en burgerlike verbintenisse.

Die voorsitter van die die Sinode van Oos-Transvaal se sinodale diensraad en moderator van Oos-Transvaal se jongste sinode, dr Johann Ernst, sê die opstellers van die dokument het buite hulle bevoegdheid en strydig met die Kerkorde en besluite van die Algemene Sinode gehandel toe hulle die voorlegging aan die parlement gemaak het.

Tydens die afgelope vergadering van die moderamen het dr Ernst hom gedistansieer van die NG Kerk se parlementêre voorlegging oor die wysiging aan die huwelikswet. ’n Dokument wat hy daaroor opgestel en onder moderatuurslede versprei het, is deur hom teruggetrek, maar gaan wel deur ’n subkommissie bespreek word.

In ’n brief aan Kerkbode sê dr Ernst hy vereenselwig hom allermins met die kerk se voorlegging aan die parlement. “Nóg die moderatuur nóg die algemene sekretaris, dr Kobus Gerber, nog dr Ben du Toit van die NG Kerk se parlementêre lessenaar het die magtiging gehad om so ’n ingrypende en omstrede voorlegging namens die NG Kerk in besonder en gereformeerde kerke in die algemeen te maak.”

Hy voer ook aan dat daar ’n wanvoorstelling in die begeleidende brief aan leraars gemaak word oor die Huweliks-alliansie se standpunt en dat dit “reggestel” moet word omdat dit die NG Kerkfamilie “allermins tot eer strek”.

Dr Ernst is van mening dat die voorlegging geinterpreteer kan word as ’n “ja” aan die staat om in terme van die Grondwet ook die verbintenis tussen twee persone van dieselfde geslag as huwelik te wettig.

Dr Du Toit het alle navrae na dr Gerber verwys. Dr Gerber sê die moderamen onderskryf die kerkleiers se verklaring van 27 Oktober 2006. Daarin sê die leierskap hulle is tevrede dat die kerk se standpunt oor ’n Christelike huwelik duidelik in die voorlegging gestel word. Hulle ontken ook dat gay-huwelike in die voorlegging bepleit word. Dr Gerber sê daar is ’n subkommissie benoem om weer te kyk na prosedures ten opsigte van deelname aan die parlementêre prosesse en die kommunikasie daarvan. Die subkommissie sal as deel van die gesprek ook aandag gee aan dr Ernst se dokument. Die kommissie bestaan uit drr Nelus Niemandt, aktuarius van die Algemene Sinode, Johann Ernst, Ben du Toit en Kobus Gerber.

– jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui