Moreletapark beraad 25-26 Februarie 2020

Moreletapark beraad 25-26 Februarie 2020 |Kerkbode

28 Februarie 2020

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie ’n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Hierdie persverklaring is uitgereik deur Pieter Breytenbach | pieter@moreleta.co.za

Daar bestaan groot ongelukkigheid in talle gemeentes oor die rigting wat die NG Kerk tans inslaan betreffende die gesag en interpretasie van die Skrif. Baie van die sowat 500 beraadgangers getuig van die skade wat die 2019 besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings in hulle gemeentes tot gevolg het. Hierdie saak het slegs die kernprobleem, naamlik Skrifgesag en – interpretasie tot ’n punt gedryf. Heelwat gemeentes het lidmate verloor en gemeentes, ringe en selfs kollegas beleef onderlinge spanning, tweespalt en konflik. Die algemene gevoel van beraadgangers was dat die NG kerk klaar geskeur het.

Die beraad het eerstens ten doel gehad om ’n ruimte vir beraadgangers te skep waar hulle onbevange kon praat oor die probleme wat hulle ondervind sonder dat hulle afgemaak word as kerkskeurders, liefdeloos, beswaardes, verdagmakers, ens. Die vertroue in die Algemene Sinode en moderamen is tot ’n baie groot mate geskaad en daarom word die wyse waarop kwessies hanteer word, bevraagteken.

Die beraad het verder ten doel gehad om gemeentes op ’n praktiese manier te help om moontlike oplossings te vind en hulle te begelei in die proses vir die pad vorentoe.

Daar is gevra dat gemeentes by die drie G’s moet begin:

  • Gebed: Gemeentes is aangemoedig om met gebed in gebrokenheid en verootmoediging voor die Here te begin.
  • Geloof: Glo dat God almagtig is en nuwe lewe in Sy Kerk wil bewerk. Glo dat Hy jou juis in hierdie spesifieke tyd en plek geroep het om as instrument in Sy Hand ’n draer van hoop te wees.
  • Gehoorsaamheid: Antwoord gehoorsaam op Sy roeping en laat jou geloof tot dade oorgaan (Jak 2:14-26).

Tydens die beraad is nege moontlike opsies voorgehou waarvan 4 in diepte bespreek is. Stappe wat in elke gemeente gevolg kan word, is geïdentifiseer en word kortliks as volg opgesom:

Stap 1: Neem kennis van die huidige krisis in die NG Kerk, waarvan die kern van die saak is dat die Algemene Sinode oor tyd in ’n rigting beweeg het waar die gesag van die Skrif bevraagteken word en waar daar groot verskille oor die Skrifinterpretasie ontstaan het;

Stap 2: Begin by die drie G’s soos reeds genoem;

Stap 3: Bestudeer die nege opsies asook elkeen se implikasies;

[Vir die nege opsies, kyk bylaag A hieronder]

Stap 4: Alle behoudende lidmate en kerkvergaderings word sterk aanbeveel om sover moontlik eenvormig te wees in die reaksie op, en die hantering van die 2019-besluite. As elke lidmaat of gemeente sy eie pad sou loop, kan dit die kerk onherstelbaar versplinter;

Stap 5: Die Beraad verwerp die AS 2019 se besluit oor selfdegeslagverhoudinge in geheel en versoek alle behoudende lidmate en kerkvergaderings om soortgelyke besluite te neem. Die redes hiervoor was ook uitgespel;

Stap 6: Daadwerklike optrede nadat die besluit geneem is.

  • Stel besluite wat geneem word op skrif en stuur dit na al die belanghebbende vergaderings;
  • Lidmate, leraars, kerkrade en ringe word versoek om skriftelik by hul streeksinodes aan te dring om so gou moontlik uit te tree uit die Algemene Sinodale verband volgens Artikel 37 van die 2019 Kerkorde aangesien dit een van die beste oplossings onder die huidige omstandighede bied;
  • Verklaar ’n amptelike leergeskil met die Algemene Sinode; en
  • Daar bestaan groot behoefte om alternatiewe netwerke en kerkverbande te vorm deur die behoudende lidmate en kerkrade wat vertroue in die huidige kerkverband verloor het en teologies en emosioneel geïsoleer word. Deur die netwerke kan die geesgenote in leer en belydenis weer die kerk wat tans innerlik verskeur is, herenig tot ware eenheid in liefde en waarheid.

Die beraad het dus die geleentheid geskep vir ’n gemeenskaplike soeke na ware eenheid met erkenning van die gesag van die Woord, asook eenheid in leer en belydenis. Hierdie nuwe kerkverbande en netwerke word in die Tussen-Orde van die Kerkorde voorgeskryf.

Sekere kwelpunte wat tydens die beraad uitgekom het, soos byvoorbeeld teologiese opleiding, is nog nie aangespreek nie en daar word beplan om dit gesamentlik met ’n moontlike konferensie oor Skrifgesag en Skrifinterpretering in die nabye toekoms te hanteer.

Baie positiewe terugvoer is na afloop van die beraad ontvang. Getuienis oor die werking van die Gees tydens die beraad, ’n diep hartseer by mense oor wat met die NG kerk besig is om te gebeur maar ’n nuwe vlak van entoesiasme en opgewonderheid oor hoop en perspektiewe vir die toekoms is aan die orde van die dag. Alle eer vir dit wat plaasgevind en bereik is gaan aan die Here.

Bylaag A: Nege opsies

Die nege opsies word genoem in Moreletaberaad: Riglyne vir behoudende lidmate en kerkvergaderinge van die NG Kerk (27 Februarie 2020):

  1. Doen niks: sit maar net stil en kyk wat gebeur. Dit is die mees oneerbare opsie.
  2. Aanvaar besluite van die Algemene Sinode: dan staan ons skuldig aan die waarskuwing van ons Nederlandse Geloofsbelydenis Art 29: “Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God;…
  3. Word ’n Breker: sluit aan by mense binne- en buite die kerk, wat dit geniet om die NG Kerk ten alle koste af te kraak. Hulle vergeet ons probleem is nie eintlik die NG Kerk nie, maar die kerkleiers en sinodale vergaderinge wat hul perke oorskrei en hul mag misbruik.
  4. Ander kerk: baie lidmate het reeds die NG Kerk verlaat, maar dit mag slegs die laaste uitweg wees.
  5. Hofbevel: daar is genoeg regsgronde om 2019 se besluit ongeldig te verklaar (vgl. KO Art. 23.2). Tog is dit nie die wyse waarop ons kerklike geskille oplos nie.
1 Kor. 6:7 : Eintlik is julle saak al klaar verlore omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?
  1. Doleer: baie vorme. Probleem: Negatiewe en langdradige proses. Nie veel sukses op eie nie.
  2. Artikel 37 van KO: dit is ‘n goeie moontlikheid. Ons breek dan nie met die NG Kerk nie, maar met die Algemene Sinode. Die Algemene Sinode se besluite is dan nie meer vir ons bindend nie. Ander streke se gemeentes kan aansoek doen om deel te word van die betrokke sinode.

Probleem: Slegs een van die 10 samestellende sinodes kan so besluit.

  1. Verklaar ’n leergeskil met die Algemene Sinode en/of sinodes: Dit kan slegs werk indien genoeg tyd beskikbaar is. Enige mindere vergadering kan dit doen (Art 44.4 en 44.5).
  2. Vorm alternatiewe kerkverbande en netwerke oor die huidige struktuur heen. Doen dit na analogie van Artikel 72 en die NG Kerk se Tussen-Orde wat in beginsel sulke strukture toelaat as oorgangsmaatreël tot ware kerkeenheid. Hier gaan dit vir ons oor soeke na ware eenheid nl. eenheid met die gemeentes en gelowiges wat vashou aan die waarheid van die Woord.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui