Wat ’n pragtige voorbeeld

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Volksblad verskyn (skakel).

****************

Wat ’n pragtige voorbeeld

2006-11-20 18:33

Die brief Gay mense en kerk (1/11/06) asook Gemeente distansieer (31/10/06) verwys.

Tweeduisend en ses jaar gelede het die Almagtige, Skepper God, Sy Seun Jesus Christus gestuur om die sondaarmens van Satan se leuens te verlos deur Sy Bloed.

Sy bruid, die kerk byvoorbeeld NG-gemeente Fichardtpark onderwerp hul vrywillig aan die Bybel en gehoorsaam die Here eerder as postmodernisme en humanisme.

Die apostel Paulus sê in Gal. 1: 10: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.”

Fichardtpark reik baie liefdevol uit na sodomiete en lesbiërs tot bevryding en oorwinning eerder as misleiding.

Baie mense plaaslik en oorsee is verlos hiervan en nie meer in ’n “eie oorlog” gewikkel nie. Ons moet meer van hul verhale hoor.

Wanneer ’n mens jouself nie kan help nie en na Jesus vra, sal Hy help. Dit is Sy doel met die mens.

Jesus se Verlossingskrag mag ons nie bevraagteken nie! Hy verhoor dan ons gebede vir reën of beskerming. Die onmoontlike, liefdevolle God verlos en vernuwe die mens.

Hy is vir alle sondaars lief, maar hul moet wedergebore word.

Niemand lig ’n wenkbrou oor Dawid en Jonatan nie, want dit was ’n normale verhouding. Mense van dieselfde geslag mag goeie vriende wees.

Dawid en Jonatan het dadelik “gekliek” en word groot vriende, pêlle. Jonatan het Dawid se mooi gesindheid en seker sy krygsvernuf bewonder teenoor Saul se yslike ego en moorddadigheid.

Jonatan sê eintlik vir Dawid – ek weet my pa bots met jou, maar dit raak ons nie. Laat die Here ons getuie wees tot in ons nageslag.

Dawid trou met Jonatan se sus, Mikal, en hulle is nou swaers ook. Dit gebeur soms met goeie vriende.

Sowel Mikal as Jonatan moes Dawid teen hul pa beskerm en onder sy woede deurloop.
Dawid hou enduit woord voor die Here deur (wyle) Jonatan se kreupel seun Mefiboset op te soek, te versorg en sy erfenis van Oupa Saul terug te gee.

Wat ’n pragtige voorbeeld vir ons oppervlakkige wêreld vandag.

Mev. A.S.M. Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui