NG Kerk vereer Desmond Tutu

Kyk:

Op die dag van Desmond Tutu se dood het Gustav Claassen die volgende op Facebook uitgereik namens die NG Kerk leierskap.

Desmond Tutu het egter nie net soms baie kontroversiële politieke standpunte gehad nie, maar ook baie kontroversiële teologiese standpunte – kyk Desmond Tutu.

*******

NG Kerk Facebook

26 Desember 2021 13:45

Desmond Mpilo Tutu (7 Oktober 1931 – 26 Desember 2021)

Die NG Kerk het met groot hartseer verneem van die dood van Aartsbiskop Desmond Tutu op 26 Desember 2021. Kommer het geheers oor sy gesondheid sowel as dié van sy vrou Leah die afgelope paar dae.

Desmond Tutu was tydens die apartheidsera ’n fel kritikus van die NG Kerk, maar het in alle opsigte ’n liefdevolle en warm verhouding met die NG Kerk en lede van sy leierskap gehad. Sy gasvryheid is telkens ervaar in ontmoetings met hom deur Gustav Claassen en Nelis Janse van Rensburg en ander. Die verhouding tussen hom en prof Piet Meiring sal altyd ’n kosbare herinnering wees. Dit was altyd Tutu se uitgesproke oortuiging dat die NG Kerk ’n onmisbare rol moet en kan speel in die heling van ons kosbare land.

Die NG Kerk eer Desmond Tutu vir die feit dat hy vir soveel jare ’n morele kompas was. Hy was vir dekades lank onverskrokke aan die voorpunt van die bewegings vir waarheid, vrede en geregtigheid, hier en internasionaal. Dit is sy onwrikbare navolging van hierdie waardes, sy onwankelbare moed, aktivisme en integriteit wat Desmond Tutu onderskei het van ander in leierskap in Suid-Afrika vandag en in die verlede. Die kenmerk van sy inspirerende leierskapfilosofie was die onwrikbare konsekwentheid waarmee hy magsmisbruik verwerp het – beide tydens apartheid en in post-apartheid Suid-Afrika.

Meer onlangs het sy prinsipiële standpunte teen korrupsie en magsmisbruik deur ’n swart meerderheidsregering in Suid-Afrika geloofwaardigheid gevoeg tot sy onversetlike teenkanting teen onderdrukking en uitbuiting – deur almal en in alle vorme.

Geliefde Arch, jou onwrikbare optimisme in die aangesig van oorweldigende uitdagings en onbeperkte geloof in die vermoë van mense om goed te doen, sal ons almal steeds hoop gee. “Ten spyte van al die aaklighede in die wêreld, is mense gemaak vir goedheid,” het jy meer as een keer gesê.

Die NG Kerk wil onsself verbind tot die droom, wat jou droom is, dat goedheid, geregtigheid, lag, vreugde, omgee, deernis, die dinge sal wees wat alles te bowe sal kom.

Ons harte en gebede gaan uit na sy eggenote Leah, kinders Trevor, Thandeka, Nontombi en Mpho en hulle families.

Uitgereik op 26 Desember 2021 deur dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Kommentaar

Trudie van der Merwe

Groot respek afgedwing

Mpete Tshepiso

May the Lord accept the departured Soul of DMT,He ran the race and fought the fight now it’s time for Him to receive His reward from Our Lord

Renier Schoeman

Baie gepas-dankie broer Gus

Marius Britz

Mooi huldeblyk Gus.

Betsie Wessels

Sterkte aan familie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui