Kyk ook:
*******
‘Huwelikswet’-voorstel maak opslae | Kerkbode
Kerkbode, 27 Oktober 2006
PRETORIA – Dit sal teenstrydig met die NG Kerk se beskouing van die huwelik wees as ’n wetlike verbintenis tussen twee mense van dieselfde geslag ook ’n huwelik genoem word.
So het die moderator van die jongste Sinode van Vrystaat, prof Piet Strauss, aan Kerkbode gesê na aanleiding van ’n storm wat losgebars het oor die NG Kerk se voorlegging aan die Parlement met betrekking tot verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag.
Sinodale kantore is landwyd oorval met oproepe van lidmate en leraars wat wou weet of die NG Kerk nou homoseksuele huwelike goedkeur. Prof Strauss sê sy telefoon het onophoudelik gelui nadat die media berig het oor die NG Kerk se voorlegging aan die parlement. (Lees berigte op bl 5.)
“As die kerk sy sin kon kry, sou hy sê homoseksuele huwelike is uit,” het prof Strauss aan Kerkbode gesê. Hy sê die kerk beoordeel die saak vanuit die Woord terwyl die regering dit vanuit die grondwet moet doen. Prof Strauss sê hy skaar hom by die besluit van die Sinode van Vrystaat oor homoseksualiteit. Indien daar wel wetlike voorsiening gemaak word vir verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag, behoort dit volgens prof Strauss iets anders as ’n huwelik genoem te word.
Die moderator van die jongste Sinode van Wes-Transvaal, dr Henk Gous, sê hy sou ook verkies dat daar ’n aparte wet naas die huwelikswet moet wees vir mense van dieselfde geslag wat ’n permanente verbintenis aangaan. Dr Gous sê hy begryp egter die grondwetlike dilemma. Hy glo nie die NG Kerk se voorlegging hou ’n bedreiging vir die Christelike huwelik in nie, maar hy sal nie twee mense van dieselfde geslag in die eg verbind nie.
Dr Gous sê as twee mense van dieselfde geslag saamwoon, sal hy hulle aanraai om ’n wetlike verbintenis aan te gaan omdat dit die “beter keuse van ’n slegte opsie is”. “Ek sal hulle nie aanhoudend met die Bybel oor die kop slaan nie. Dit beteken ook nie hulle is nie Christene nie.”
Die algemene sekretaris van die NG Kerk, dr Kobus Gerber, het in ’n verklaring gesê die NG Kerk beskou steeds die huwelik as die verbintenis tussen een man en een vrou. Dr Gerber sê die NG Kerk het nie in sy voorlegging gay huwelike per sê beredeneer of bepleit nie.
Die, volledige persverklaring kan op die NG Kerk se amptelike webblad by www.ngkerk.org.za gelees word.
jean@tydskrifte.co.za
Kommentaar
Daniel Louw
In ‘n video-onderhoud op 15 Maart 2023 sê Piet Strauss:
…homoseksualiteit of selfdegeslaghuwelike. Ek sou sê dat dit nie ‘n kernsaak is nie en om daaroor kerk te skeur sou regtig ‘n bietjie dwaas wees.