Hoe ‘bewys’ jy God bestaan?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Hoe ‘bewys’ jy God bestaan? | Netwerk24

Anton van Niekerk

Dinsdag, 6 Junie 2023

Daar is miljoene mense ter wêreld wat die vraag of God regtig bestaan as die belangrikste van alle vrae beskou.

Is die antwoord “nee” val die bodem weg onder vele se wêreld. Is die antwoord “ja” skuif die gordyn wat die geheimenis van ons almal se bestaan versluier uiteindelik weg.

Of God se bestaan in ’n deurslaggewende sin bewysbaar is, weet ek nie.

Wat ek wel weet, is dat ’n paar van die pogings wat in ons teologies-wysgerige tradisie aangewend is om te bewys dat God bestaan, ware juwele in terme van argumente opgelewer het – of daardie argumente uiteindelik geldig is of nie. Ek sou my voortande gee om een of meer van genoemde argumente te kon uitdink.

Kom ons neem as voorbeeld die sogenaamde ontologiese bewys vir die bestaan van God, bedink deur Anselmus, aartsbiskop van Kantelberg, in die 12de eeu en in sy boek Proslogion gepubliseer.

Anselmus pak die amper onvoorstelbare aan, naamlik om op grond van niks meer nie as ’n ontleding van die begrip “God” te demonstreer dat God wel bestaan.

Hier is sy argument: Ons almal stem saam dat wanneer ons die begrip of woord “God” uiter, ons daarmee bedoel “ ’n wese groter (in die sin van volmaakter) as wat niks anders gedink kan word nie”. Ook die “dwaas”, beweer Anselmus, wat in sy hart sê “daar is geen god nie” (Psalm 14:1) bedoel bogenoemde definisie as hy die woord “God” gebruik.

Die argument vervolg: “Ons het almal só ’n idee van God in ons denke.

“Die vraag is of daar in die werklike wêreld, buite ons denke, só ’n wese bestaan.”

Nou kom die kern van die bewys: Om sowél in ons denke as in die wêreld buite ons denke te bestaan, is tog “groter of meer volmaak” as om slegs in ons denke te bestaan. As ons saamstem dat God die wese is “groter as wat niks gedink kan word nie” en Hy bestaan slegs in ons denke, dan is Hy nie “groter as wat niks gedink kan word” nie, want dan kan ons aan ’n nóg groter wese dink – een wat sowel in ons denke as in die wêreld buite ons denke bestaan.

Dáárom bestaan God (noodsaaklik) as die wese wat sowel in die denke as in die werklikheid bestaan – die een “groter as wat niks gedink kan word”.

Let op: Anselmus beweer hy het God se bestaan bewys deur slegs ’n skerp, intelligente begripsanalise te doen; hy het God se bestaan afgelei van die betekenis van die begrip “God”!

Miskien is u oortuig. Ek twyfel of almal vir Anselmus sal val. Reeds in sy eie tyd is hy uitgedaag deur ’n monnik met die naam Gaunilo, wat Anselmus se argument probeer reduseer het tot die absurde.

Gaunilo sê: “Vervang die begrip ‘God’ in Anselmus se argument met die begrip ‘die grootste denkbare eiland’. Dieselfde argument kan nou volg: ‘Ek het die idee van so ’n eiland in my denke. Bestaan die eiland ook in die werklikheid buite my denke? Om sowel in my denke as in die werklikheid te bestaan, is groter of meer volmaak as om slegs in die denke te bestaan. Dus bestaan die grootste denkbare eiland! As laasgenoemde egter waar is, kan ons die bestaan van die ‘grootste denkbare enigiets’ bewys.”

Het ons met hierdie argument God se bestaan bewys, of het Gaunilo se argument koning gekraai? Die kritiese gesprek oor hierdie bewys ontwikkel steeds sedert die 12de eeu tot in ons tyd. Anselmus se bewys is myns insiens een van die skerpsinnigste argumente van alle tye. Dis die moeite werd om ’n mens se verstand te probeer slyp teen so ’n prestasie.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie
    noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Daar is baie minder ingewikkelde maniere om God se bestaan aan te toon. Die grootste hiervan is die skepping. As mens egter glo dat alles verklaar kan word deur die oerknal en evolusie, dan begin jou argumente vir God min te raak.

Vir meer hieroor, kyk Hoekom glo ons in die bestaan van God?

2 thoughts on “Hoe ‘bewys’ jy God bestaan?”

  1. Eenkeer stap ek ‘n bekende kruidenierswinkel in.

    By die afdeling waar daar kombuisware is, was daar ‘n dame op haar knieë besig om die rakke reg te pak, maar het oënskynlik ‘n wyle geneem en gerus, terwyl ‘n mede-kollega haar skouer masseer. Mens kon bespeur sy ervaar ongemak en baie pyn.

    Ek kon nie die item neem wat ek gevind het nie, synde haar liggaam die area blokkeer het. In beantwoording op my vraag of sy wel is, sê sy dat ‘n ernstige motorongeluk haar skouer bínne-in amper vergruis het, en sy al vir baie lank steeds pyn beleef met die spiere wat nie meer normaal funksioneer nie. Die mede-werker het gehelp met spierspasma massering.

    Die gedagte kom by mens op om hande op haar skouer te plaas, en te bid. Nodeloos om te sê, was dit buite my normale verwysingsraamwerk, want só is mens nie geleer in kerkruimtes nie. Maar die gedagte bly by mens, en ek vra haar toestemming. Ek het nie hardop gebid nie, maar in my gedagtes, en my hande op haar geplaas. En aangehou vir 5 minute. Toe spring sy op en skree. En swaai haar arm in die rondte soos ‘n vliegtuig se ”propeller”. Volmaak genees. En gryp my van dankbaarheid en huil. Ek was vér meer geskok as sy. So ook haar mede-werker. Hoe is so iets moontlik?

    So het ek geleer: as mense DóéN wat die Bybel sê – soos Christus ook gedoen het – word die ”bestaan van God” nie oorgelaat aan filosofiese debatte deur Phd-grade nie, maar deur bewyslewering soos Christus Sélf dit voorgehou het.

    Word alle mense 100% só genees? Nee. Maar die vraag is eerder: “Hoor u Sy Stem wat fluister om te bid vir genesing?” Nee wat. Leraars. Ouderlinge. Diakens. Ens. Te lief vir TV….Rugby kyk….nonsens praat…darem so uurtjie afknyp dan en wan om kerk toe te gaan by geleentheid…geen wonder daar word so getwyfel aan God se bestaan nie, want die méns bestaan vir hul eie agenda éérder as Sý Agenda. Politiek in die Afrikaanse domein is vir meesste ”christene” ook van verre méér belang as om Christus se woorde te gehoorsaam.

    “Christene” sélf is die oorsaak dat die wèreld twyfel aan God se Bestaan.

  2. “Of God se bestaan in ’n deurslaggewende sin bewysbaar is, weet ek nie.”
    Hoekom is jy dan ‘n professor in wysbegeerte, Anton?!
    Hoekom word ander mense gedwing om jou salaris te betaal?

    Daar is wysgerige bewyse vir die bestaan van God. En jy is selfs bewus daarvan. Dis natuurlik bewysvoering vanuit die imperfekte en deur middel van dekonstruksie oba sofistiek kan ‘n mens altyd tenminste skynargumente skep wat as teenargument gebruik kan word. Maar dit kan mens met enige stelling doen, mits mens bereid is om logika te verkrag. Die filosofiese argumente vir die bestaan van God skep egter die moontlikheid van ‘n “beste verklaring’ of dan ‘n plousibiliteitsargument wat dit redelik maak om aan God te glo. Dus is ateisme eintlik maar in beginsel ‘n irrasionele standpunt. Ware geloof is egter nog ‘n ander saak. Dis ‘n geskenk van God en die gelowige word in sy hart oortuig dat God is. Wat geestlik is, is egter onsin vir diegene wat vleeslik is. Hulle sal dit verwerp. Dit se egter ook nie dat alles wat vir vleeslike mense onsin is en deur hulle verwerp word waar en reg is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui