Du Toit skuld NGK ’n verduideliking

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Die Burger verskyn.

**************

Du Toit skuld NGK ’n verduideliking

Die Burger

deur Pieter Hurter

2010-11-23 22:40

Dr. Ben du Toit (DB, 22.11) tas mis as hy beweer dat dit in Belhar om die “hart van die evangelie” gaan. Belhar wentel om “eenheid, versoening en geregtigheid”. Die verlossing van sondes deur Jesus Christus is die kern van die evangelie. Daaroor swyg Belhar.

Belhar is in die eerste plek ’n protesdokument teen die NG Kerk se regverdiging van apartheid.

Daarvan getuig dr. Allan Boesak, wat een van die sleutelspelers by die formulering van Belhar was, in Die Ligdraer van 16 Oktober 1986.

Du Toit verswyg in sy aanhaling van art. 4 van Belhar “dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en verontregtes is en dat Hy aan verdruktes reg laat geskied…”

Daarmee is Belhar vierkant in die kader van die bevrydingsteologie wat Christus as die gekruisigde verswyg.

In die apostoliese geloofsbelydenis (12 artikels) word onder meer na die maagdelike geboorte, kruisiging, dood en opstanding van Jesus Christus verwys as kernsake omtrent Jesus (I Kor. 2:2).

Voordat Du Toit Belhar in sulke gloeiende taal ondersteun, skuld hy lidmate van die NG Kerk ’n verduideliking waarom hy in sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd vra: “Is dit regtig nodig om in die maagdelike geboorte te glo as voorvereiste om Jesus as Verlosser te sien?” (bl. 148).

Verwerp hy daarmee die maagdelike geboorte van Jesus? Wat van Luk. 1:26-35?

Du Toit aanvaar die Belhar-belydenis, maar hy bevraagteken dele van die apostoliese geloofsbelydenis.

Pieter Hurter
Hermanus

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui