Kyk ook:
*******
‘Ek sal nie ‘n ander kerk soek’ | Volksblad
Volksblad, 9 Desember 2006
Dit is bemoedigend om te sien dat prof. Piet Strauss (NG Kerk onderskryf nie gay-huwelike, VB 06/12/06) erken dat dr. Kobus Gerber, hoofsekretaris, en dr. Ben du Toit van die NG Kerk se parlementêre lessenaar se “ongelukkige formulering van die voorlegging” die oorsaak was van wat hy noem “een groot misverstand”
Dit is duidelik dat Strauss poog om verwarring en ongelukkigheid by lidmate oor die verloop van sake by te lê en die skade wat die twee here se voorlegging veroorsaak het, probeer besweer. Wat ek nie verstaan nie, is dat die NG Kerk aanhou om verwarrende seine na sy lidmate uit te stuur.
Dit dui op ’n Skrifverstaan en -uitleg wat wars is aan die tradisionele voorveronderstellings waarmee die Skrif uitgelê is. En dit is die grondoorsaak van die debakel. Hier is ’n onderliggende gesindheid by sommige teoloë wat verdere probleme vir die kerk uitspel. Daar is ’n humanistiese aanslag in hul benadering tot die Skrif, wat niks goeds vir die NG Kerk inhou nie. Ons is by die Méns wat beter weet as God, die Méns wat die Skrif só uitlê dat wat God self verkeerd noem, nou reg is, en omgekeerd.
En tensy dié debat nie die kern van die probleem pak nie, gaan ons weer met dieselfde opwelling van ongelukkigheid onder lidmate sit.
Intussen loop my kerk leeg. As die kerk sy geloofwaardigheid by lidmate wil behou, sal meer as net ’n ligte vermaning nodig wees om mense wat die Skrif verdraai, tereg te wys. As hulle dan nie tevrede is met die tradisionele Skrifverstaan nie, staan dit hulle vry om van kerk te verander. Dit is onbillik om van my en ander te verwag om ‘n ander kerk te soek, omdat myne iewers langs die pad die spoor byster geraak het.
Gert Roodt
Struisbaai