NG Kerk maak keel skoon oor gay-troues

*******

NG Kerk maak keel skoon oor gay-troues | Beeld

‘Misverstand’ dat kerk dié huwelike onderskryf

Beeld, 6 Desember 2006

Hilda Fourie

“Die enigste huwelik wat Skriftuurlik is, is dié tussen ’n man en ’n vrou.”

Prof. Piet Strauss, ondervoorsitter van die NG Kerk se algemene sinode en voorsitter van die Vrystaatse sinode, het gesê die wanindruk wat bestaan dat dié kerk dieselfde status wil toeken aan gayhuwelike as aan heteroseksuele huwelike, is “een groot misverstand”.

Dit kom nadat die Vrystaatse sinode, nes die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, nié die NG Kerk se parlementêre voorlegging oor homoseksuele verbintenisse ondersteun nie.

Die misverstand het glo ingeglip by dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris en dr. Ben du Toit van die NG Kerk se parlementêre lessenaar, se “ongelukkige formulering van die voorlegging”, het Strauss gesê.

“In hul voorlegging het hulle dit só geformuleer dat dit klink asof die NG Kerk gay-huwelike onderskryf.

“Die staat is gebonde aan die Grondwet soos uitgelê deur die grondwetlike hof. ’n Mens mag nie diskrimineer teen iemand op grond van seksuele oriëntasie nie.

“Die staat werk vanuit die Grondwet, terwyl die NG Kerk vanuit die Bybel werk.

“Volgens die kerk se Algemene Sinode van 2004 is die enigste huwelik wat Skriftuurlik is, dié tussen ’n man en ’n vrou.

“Koos en Ben het aan die begin van hul voorlegging gesê die enigste huwelik is dié tussen ’n man en ’n vrou. In die res van die voorlegging het dit nie duidelik oorgekom nie. Dit het geklink asof gay- en heteroseksuele huwelike dieselfde status in die NG Kerk geniet,” het Strauss gesê.

’n Persverklaring deur die NG Kerk se moderatuur oor die parlementêre voorlegging, lui: “Ons het die geskrewe voorlegging en die mondelinge beredenering wat dit vergesel het, weer nagegaan en is gerus dat die kerk se standpunt oor ’n Christelike huwelik duidelik gestel is. Dit is beslis ook nie so dat die voorlegging gay-huwelike bepleit nie. Terwyl die voorlegging die staat se reg erken om op grond van die Grondwet ook andersoortige huwelike of verbintenisse te wettig, is daar beslis nie kerklike of Skriftuurlike sanksie daaraan gegee nie”.

Die NG Kerk sal by aanstaande jaar se Algemene Sinode homoseksualiteit bespreek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui