Kyk ook:
*******
GKSA distansieer hul van NGK-voorlegging | Kerkbode
Kerkbode, 27 Oktober 2006
POTCHEFSTROOM. – Die Gereformeerde Kerke VAN SA (GKSA) het hulle gedistansieer van die NG Kerk se voorlegging aan die Parlement oor die wysiging van die huwelikswet. Die GKSA sê in ’n verklaring hoewel hulle met die NG Kerk se parlementêre lessenaar saamwerk, kan die kerk hom nie met die NG Kerk se standpunt vereenselwig dat homoseksuele huwelike erken word nie.
Die GKSA het hulle eie voorlegging aan die Parlement gemaak teen die goedkeuring van die wetsontwerp wat statutêre erkenning verleen aan verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
Volgens die GKSA is homoseksuele gedrag volgens die Skrif teen die skeppingsorde. Hulle sê God het die heteroseksuele monogame huwelik ingestel as die ruimte waarbinne seksualiteit moet plaasvind. Daarom moet enige vorm van homoseksuele gedrag en dus ook homoseksuele huwelike deur die Christelike etiek afgewys word. Persone met die homoseksuele oriëntering het volgens die GKSA die verantwoordelikheid om hulle te weerhou van homoseksuele gedrag, net soos alle ander mense ten opsigte van hulle gebroke menslike natuur selfbeheersing moet beoefen
Die GKSA sê in hulle voorlegging as landsburger moet die persoon met ‘n homoseksuele oriëntasie alle regte van die Grondwet geniet en mag daar op geen wyse teen so ’n persoon gediskrimineer word nie. “Hierdie regte sluit egter nie die aangaan van ’n homoseksuele verhouding of huwelik in nie, omdat die huwelik ’n heteroseksuele verbintenis is. ’n Homoseksuele huwelik of wettige homoseksuele verbintenis word nie in die Christelike etiek as ‘n fundamentele reg beskou nie.”
Die kerk sê homofobiese gedrag en ook ander diskriminasie teen persone met ‘n homoseksuele oriëntasie is strydig met die liefdesgebod en dus oneties. Hulle voer aan persone met ‘n homoseksuele oriëntasie het die reg om volledig menslik behandel te word in die kerk en in die samelewing. Sulke persone kan volgens die GKSA egter geen aanspraak maak op die reg van ‘n homoseksuele huwelik nie. Homoseksueles het volgens dié kerk se beleid ’n verantwoordelikheid om hulle te weerhou van enige vorm van homoseksuele gedrag.
jean@ tydskrifte.co.za