UP-professors vra om ‘kalm’ debat oor Bybel, Jesus

*******

UP-professors vra om ‘kalm’ debat oor Bybel, Jesus | Beeld

Beeld, 27 April 2002

Neels Jackson

Altesame 13 teologieprofessors van die NG Kerk het hulle in ’n openbare verklaring tot kernwaardes van die kerklike boodskap verbind, maar terselfdertyd gevra dat die openbare gesprek oor die persoon, lewe en werk van Jesus “kalm en saaklik” voortgesit word.

Die dosente, almal verbonde aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit teologie, het dié “openbare getuienis” uitgereik omdat die openbare gesprek van die afgelope maande oor die gesag van Die Bybel en die persoon en werk van Jesus Christus volgens hulle “die diepste oortuigings van Christene” raak.

Oor die teologie sê die professors dat dit ‘n akademiese taak het en ernstig opgeneem moet word. Teologiese standpunte moet altyd aan Die Bybel en die kerklike tradisie getoets word en dit moet altyd as voorlopige sienings beskou word.

Teoloë het ook ’n kerklike taak en daarom moet hulle na die vrae van die geloofsgemeenskap luister en in die gesprek saam met die kerk na rigting soek.

Die Bybel as geloofsdokument vorm die hart van die teologie. Dit is die Woord van God waaruit die geloofsgemeenskap dink, glo en leef. Omdat dit in ’n kultuur van langer as 2 000 jaar gelede gegiet is, is wetenskaplike studie van Die Bybel nodig.

Die professors sê Die Bybel moet binne sy konteks en raamwerk verstaan word.

“Deur te verstaan wat God vir sy mense van destyds wou sê, kan ons hoor wat God se boodskap vir ons vandag is.”

Oor al die vrae wat deesdae oor Jesus gevra word, sê die dosente dat dié besinning belangrik vir die geloof en die teologiese gesprek is. Dit moet voortgesit word, maar hulle meen dit moet uit spesifieke geloofsvertrekpunte gevoer word.

Dit behels onder meer dat Jesus Christus God se Seun is. “Hy het mens geword en onder ons kom woon. Hy het met sy liefde en genade uitgereik na alle mense, onder andere armes, eensames, treurendes, tollenaars en sondaars. Buite ons toedoen het sy kruisdood ons verlossing gebring.

“Die Gees van God gee aan ons die geloof en oorreed ons om die verlossing ons eie te maak.”

Hulle bely ook dat Christus die mag van sonde en dood deur sy opstanding oorwin het, dat dié opstandingsgeloof mense in staat stel om op te staan in ’n nuwe lewe en dat die Heilige Gees mense laat uitsien na die koms van God se koninkryk.

* Die getuienis is onderteken deur proff. Cas Vos, Jan van der Watt, Conrad Wethmar, Julian Müller, Hoffie Hofmeyr, Piet Meiring, Jurie le Roux, Dirk Human, Etienne de Villiers, Stephan Joubert, Dons Kritzinger, Malan Nel en Hennie Pieterse.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui