Hoeveel Ben du Toit’s is daar in die NGK?

********

Hoeveel Ben du Toit’s is daar in die NGK? | Kerkbode

22 Junie 2021

Dr Bernhard Ficker van Somerset-Wes skryf:

In “Is daar ’n verskil tussen post-teisme en ateisme” (14.05.21) [kyk ook Onhaalbaar om Godvry te leef] skryf prof Amie van Wyk dat Ben du Toit se boek “waarskynlik een van die opspraakwekkendste teologiese boeke is wat ooit in Afrikaans geskryf is”. Wat egter meer opspraakwekkend is, is die reis van Ben du Toit van gelowige na ongelowige, van teoloog na post-teoloog, en van leidende NGK-woordvoerder tot NGK-verlater.

As ’n mens al Ben se boeke lees, asook sy voorleggings aan kerklike sinodes en instansies, dan is die pad van groeiende ongeloof duidelik te bespeur. Maar in die ‘groot tent’-siening van die NG Kerk, het sy groeiende ongeloof egter nie juis saak gemaak nie, want almal moes kon inpas onder die al groter wordende tentseile.

Soos Amie uitwys, maak Ben gebruik van die evolusiedenke om die bestaan van die mens en God, te verklaar. Ben het al lank gelede in sy boeke die feit uitgewys dat evolusiedenke totaal onversoenbaar is met God. Al wat nou gebeur het, is dat Ben eerlik genoeg is om dit te erken en die denke oor evolusie tot sy logiese uiteinde te voer waarvolgens daar nie net geen nodigheid vir God is nie, maar dat Hy totaal oorbodig is en ’n verdigsel van die mens se evolusiedenke is.

Skeppingsleer, waarvolgens God alles direk geskape het, word blykbaar nie meer by kweekskole aanvaar of doseer soos in vroeëre jare nie. Die vertrekpunt is blykbaar die evolusiedenke en om dit dan met God te probeer versoen. Die twee is onversoenbaar. In die boek “Hier staan ek … maar ek kan nie sê wie ek is nie en ek is nie alleen nie” wat alreeds in 2011 gepubliseer is, het etlike dominees en andere hulle ongeloof bevestig. Ben was egter eerlik genoeg om te sê hier staan ek en om te sê wie hy is. Die vraag is: Hoeveel NG Kerk-teoloë gaan nog in die voetspore van Ben du Toit volg?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui