VS-NGK sê oor gay-troues

*******

VS-NGK sê oor gay-troues | Volksblad

Volksblad, 30 November 2006

Joylene van Wyk

Die moderamen van die Vrystaatse sinode van die NG Kerk distansieer hom van die voorlegging van die NG Kerk aan ’n parlementêre portefeuljekomitee oor homoseksuele verbintenisse.

In ’n verklaring sê die moderamen dat die voorlegging nie sy steun geniet nie.

Leraars in die Vrystaat word in die verklaring ook daarop gewys dat hulle nie huwelike tussen mense van dieselfde geslag hoef te voltrek nie.

Die voorlegging was voortydig omdat die algemene sinode eers volgende jaar ’n besluit oor homoseksualiteit sal neem, lui die verklaring. In vele opsigte het die voorlegging groot skade aan die getuienis van die NG Kerk berokken en tereg baie lidmate ontstel, sê die moderamen.

Die verklaring lui dat die moderamen volstaan met die besluite van die sinode van die NG Kerk in die Vrystaat en die besluit van die algemene sinode dat ’n huwelik net tussen een man en een vrou kan bestaan.

Die besluit van die sinode in die provinsie is dat “dit op eksegetiese gronde die sinode se oortuiging is dat homoseksuele praktyke nie Bybels geregverdig kan word nie”.

Die kerk moet met groot begrip en deernis homoseksuele mense pastoraal begelei. Die geestelike en psigiese worsteling van gay mense word erken. “Ons staan by die standpunt dat die huwelik beskou word as ’n eksklusiewe en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui