Kyk ook:
*******
BRIEF | Neels wéét mos dit gaan oor veel meer as gay-debat | Rapport
Sondag, 3 Maart 2024
Dr. Henrietta Klaasing, Randfontein, skryf:
Neels Jackson maak ’n paar aanvegbare stellings in sy artikel “Só werk die anatomie van ’n kerkskeuring” (25.02).
Dit is nie waar dat die Koinonia-sinode besef het dat ’n “enkele geskilpunt nie genoeg is om ’n kerkskeuring te regverdig nie en toe ’n rasionaliseringsproses begin” het nie.
Boeke is deur die jare geskryf soos onder andere deur Pieter Pelser, Adrio König, Ferdie Mulder en Gerhard Mahne. Beswaarskrifte word al jare aan die Algemene Sinode gerig wat betref besluite oor Skrifgesag en Skrifgebruik, die bestaan van die duiwel en saamwoon voor die huwelik. Weinig aandag is gegee aan dié dokumente wat nou al opgehoop het tot meer as 600 bladsye.
Hy skryf dat die ontsteltenis in die NG Kerk begin het toe daar ruimte geskep is vir liefdevolle gay-verhoudings in die kerk. Dit is ’n halwe waarheid.
Die besluit oor homoseksualiteit was die vonk in die kruitvat vol ander besluite van die Algemene Sinode.
Die “huidige ontsteltenis” het ’n lang aanloop waarvan Neels deeglik bewus is as ’n jare lange kerksakejoernalis vir dagblaaie en ook redakteur van Kerkbode.
In 2013 het hy ’n berig in Beeld geskryf oor die kentering wat in die 1980’s begin het en dat die “NG skip aan die draai is”.
Beswaardes “beswadder” ook nie die NG Kerk nie. Die kerk is in ’n krisis en Koinonia stuur ’n opregte, liefdevolle wekroep uit aan alle lidmate om kennis te neem van wat aangaan.