Kyk ook: |
Die volgende artikel deur Annari du Plessis, ’n jong proponent, het oorspronlik in Kerkbode verskyn waarin sy skeppingsleer/kreasionisme ’n dwaasheid noem. Sy het haarself reeds ook in die verlede sterk uitgespreek teenoor skeppingsleer (kyk Gesprekke op strokiesnet/kerkbode oor Job en evolusie).
Kommentaar verskyn tussenin in [rooibruin blokhakies].
*******************
Augustinus het al gewaarsku teen sulke dwaasheid
2015-01-23
Annari du Plessis
In die tyd waarin ons leef is die debat tussen geloof en wetenskap steeds sterk aan die gang. Opinies en standpunte wissel van stoere kreasioniste soos Ken Ham tot anti-teïstiese wetenskaplikes soos Richard Dawkins. Dit is dikwels ook die twee uiterstes wat die hardste skree en die meeste aandag trek. ’n 1700 jaar terug het die kerkvader Augustinus die Christene van sy tyd gewaarsku dat dit ’n “skandelike en gevaarlike” ding is vir ’n ongelowige om te hoor hoe ’n Christen “nonsens” praat oor ander velde van kennis. Ongelowiges kan dan die Christen as belaglik sien. Die term vir hierdie lae indruk van die Christen deur ’n ongelowige is “irrisio infidelium”. Die Latynse term kan letterlik vertaal word as “die bespotting van die ongelowiges.” [Eerstens is dit baie belangrik om te onderskei tussen operasionele en historiese wetenskap. Tweedens moet ’n mens ingedagte hou dat daar baie Christenwetenskaplikes is wat evolusie en miljarde jare verwerp (kyk Scientists alive today who accept the biblical account of creation en In six days).]
Die groot gevaar lê nie soseer daarin dat iemand wat oningelig is uitgelag word nie, maar dat ongelowiges dink dat die skrywers van die Bybel dieselfde opinies gekoester het. Die Bybel word dan maklik verstoot as ’n boek vol belaglike stories as daar aangehoor word hoe ’n Christen onakkurate en selfs dwase opinies uiter oor dinge wat die aanhoorders self geleer het deur ondervinding en rede. Die aanhoorders sal dan nie maklik die Bybel glo in sake aangaande die koninkryk van God, die ewige lewe, en ander geestelike dinge nie. [Dit klink logies, maar dit is nie wat in praktyk gebeur nie. Inteendeel, presies die teenoorgestelde gebeur. Die einste Richard Dawkins wat vroeër genoem word, het die volgende gesê:
“Ek dink die evangeliese Christene is eintlik soortvan reg in ’n sin om evolusie as die vyand te sien teenoor die, wat sal ons sê, gesofistikeerde teoloë wat heel gemaklik is daarmee om met evolusie saam te leef. Ek dink hulle is mislei. Ek dink die evangeliese Christene is reg dat evolusie en Christendom onversoenbaar is en ek dink ek het dit besef toe ek ongeveer 16 jaar oud was.”
Kyk ook Aanhalings – Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?.
Die praktyk het geleer dat dit nie help om ongelowiges te probeer wysmaak dat evolusie en die Bybel versoenbaar is nie. Wat wel help is om vir mense te wys dat die Bybel reg is en die sogenaamde wetenskap verkeerd (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed).
Augustinus het ook gesê dat “sorgelose en onbevoegte uitlêers” van die Skrifte “ontelbare moeilikheid en hartseer” oor hulle wyser broeders en susters bring, veral wanneer hulle aangevat word deur ongelowiges. [Annari glo dat Genesis figuurlik gelees moet word, nie letterlik nie. Daar is ’n hele paar kenners wat met haar sal verskil – kyk Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word?.]
Vele vreemde verduidelikings is al gegee deur mense wat nie die Bybel met sorg en bevoegdheid hanteer nie. [Dit kan jy weer sê!]
Een so ’n vreemde, selfs belaglike, verdediging van kreasionisme was vroeër te vinde in die hoërskool se wetenskap-kurrikulum van Accelerated Christian Education. Daarin is aangevoer dat die Loch Ness-monster ’n bewys is dat daar nog dinosourusse bestaan en dat ewolusie dus onwaar is. Na onwelkome aandag op daardie brokkie onderrig, is Nessie uit die kurrikulum verwyder, maar ander onwaarhede en fabrikasies word steeds aangetref. [Of Nessie werklik bestaan weet niemand nie, maar om dit sommer so vinnig af te maak as nonsens, is ook nie baie wys nie. Kyk Loch Ness ‘monster’ caught on video? en Dinosourusse saam met mense.]
Uit bogenoemde voorbeeld is dit duidelik dat ons as gelowiges versigtig moet wees wanneer ons oor sake soos die wetenskap praat. In die teologie word daar gepraat van verantwoordelike eksegese, waar ’n dissipline van Skrifontleding en interpretasie toegepas word. [Dit is baie waar. Die eenvoudige reël is om geskiedenis as geskiedenis te lees, poësie as poësie, ens. Kyk ook Die verskillende genres van die Bybel.] Ons behoort ons stemme verantwoordelik te gebruik. Die wetenskap-geloof debat is interessant en kan ’n baie ryker horison ontsluit vir ons verstaan van die heelal en ons geloof.
- Proponent Annari du Plessis wag tans op ’n beroep terwyl sy in die Algemene Sinode se kantoor werk.