NG Kerk: Ons is méér as eindelose teologiese bekgevegte

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk: Ons is méér as eindelose teologiese bekgevegte | Rapport

Maartje van der Westhuizen

Sondag, 11 Mei 2025

Die NG Kerk word te dikwels gereduseer tot slegs die besluite van die algemene sinode (AS) of tot omstrede teologiese debatte, skryf Maartje van der Westhuizen, assessor van die NG Kerk se algemene sinode.

Terwyl die mees kritiese stemme die openbare gesprek oorheers, bestaan daar ’n hartklop wat die NG Kerk al dekades lank dra, meestal onhoorbaar te midde van omstrede debatte en opspraakwekkende media-opskrifte. Dié hartklop verteenwoordig die oorweldigende meerderheid van NG lidmate wat stilweg en toegewyd besig is om hul geloof prakties uit te leef sonder fanfare of opslae.

Die ware gesig van ons kerk word nie weerspieël in die vergaderings of debatte nie, maar in die gemeentes waar duisende Suid-Afrikaners elke Sondag oor die land heen byeenkom. Hier word geloof gevoed, gemeenskap gebou en hande uitgesteek na ander wat swaarkry.

Die ware gesig van die NG Kerk is ook te sien in die lidmate wat kos vir jongeres berei, skuilings vir haweloses bou, eensames en uitgeworpenes omarm, en in die ongesiene dienswerk wat weekliks plaasvind.

Die sinode is daarvan bewus dat sommige gemeentes wel nié dieselfde rustigheid ervaar nie en dit steeds oorweeg om hul band met die NG Kerk te verbreek. Die redes is uiteenlopend:

  • Sommige gemeentes het onder leiding van ’n leraar of leraars al jare lank ’n ander identiteit en spiritualiteit begin ontwikkel en kom nou maar net by ’n keerpunt; en
  • Sommige gemeentes het spesifiek oor die selfdegeslag-debat gevoel die sinode moet ? duideliker ja- of nee-standpunt inneem, in plaas van die pastorale weg wat gekies is.

Laasgenoemde is ’n kwessie wat nou op outonome gemeentevlak gehanteer word en daarom reeds groter rustigheid gebring het. As jy met die oorgrote meerderheid van dominees praat, aanvaar hulle die ruimte wat die Kerk gemaak het.

Lidmate kan inligting vra

Sommige gemeentes werk gewoon met voorveronderstellings van sinodebesluite en ontwikkel op grond van waninligting ? weerstand. Dit terwyl die sinode niks en niemand anders is as verteenwoordigers van die nege sinodes nie – dis nie ’n ander entiteit nie, maar ’n afvaardiging uit eie geledere.

Ongelukkig kan sommige nie die verskeidenheid van denke in een Kerk verdra nie. Hulle is nie verdraagsaam vir diversiteit wat die eenheid verryk en verdiep nie.

Ons glo die beste weg is langs voortdurende gesprek, soeke na wedersydse begrip en om daardeur saam nuwe insigte te bereik. Kom ons bid en besin saam eerder as om mekaar verdag te maak en afsplitsing te dryf.

Pas aan by veranderde tye

Die NG Kerk het bewys dat hy by veranderende tye kan aanpas. Liturgiese vernuwing het plaasgevind, met ’n groot verskeidenheid van aanbiddingstyle wat nou in gemeentes oor die land heen te vinde is. Gemeentes het hul eie unieke identiteit ontwikkel om by hul plaaslike konteks aan te pas. Die eens homogene NG Kerk het ’n ryk diversiteit van uitdrukkings van geloof ontwikkel – steeds verenig in kernwaardes en belydenis, maar met ruimte vir verskillende benaderings.

Een van die mees betekenisvolle ontwikkelinge in die Kerk is die diversifisering van leierskap. Meer vroue en jonger mense neem nou leiersposte in, wat nuwe perspektiewe en nuwe energie na die Kerk bring. Dié doelbewuste proses van bemagtiging en diversiteit verryk die Kerk se bediening en maak hom meer verteenwoordigend van die breër samelewing.

Die NG Kerk se betrokkenheid by gemeenskapsprojekte en die praktiese uitlewing van geloof het in die afgelope twee dekades merkbaar versterk.

Programme soos “In pas met die Lewende God” help gemeentes met kultuurskuiwe en praktyke om dieper betrokke te raak by hul omliggende gemeenskappe.

Sedert 2015 het die Kerk veral begin fokus op vroeëkinderontwikkeling as ’n sistemiese ingryping om armoede en ongelykheid aan te pak.

In die Wes-Kaap het ’n dinamiese vennootskap tussen die NG Kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk en die maatskaplike diensorganisasie Badisa gelei tot die Little Seeds-program, wat gemeentes help om aktief betrokke te raak by vroeëkinderontwikkeling.

Die NG Kerk het merkwaardige vordering gemaak in die herstel van ekumeniese verhoudings ná die apartheidsera. In 2017 is die Kerk weer tot die Wêreldraad van Kerke toegelaat en in 2018 het hy lid geword van die Church Unity Commission in Suid-Afrika.

Hierdie stappe verteenwoordig ’n belangrike skuif na versoening en samewerking met die breër Christelike gemeenskap. NG Kerk-leiers was deel van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se onlangse besoek aan pres. Cyril Ramaphosa en ander regeringslede. Padlangs is gepraat oor brandpunte soos korrupsie, misdaad en dienslewering.

’n Besondere ontwikkeling was die verdieping van vennootskappe met kerklik geaffilieerde maatskaplike diensorganisasies. In 2019 het 12 sulke organisasies (die Christelike Maatskaplike Diensteraad-forum) ’n memorandum aan die sinode voorgelê waarin hulle hul verbintenis tot die NG Kerk herbevestig het. Dié versterkte band het in 2025 gelei tot ’n konkrete samewerking waar die sinode administratiewe ondersteuning aan die forum bied.

Fokus meer op gemeentes

Dis hierdie hartklop – saamgestel uit duisende lidmate, honderde gemeentes en ontelbare dade van omgee – wat die NG Kerk dra en steeds relevant maak in ’n veranderende Suid-Afrika. Die energie wat daaruit spruit, maak ons opgewonde.

My slotsom is dus dat die fokus meer op die plaaslike gemeente en minder op die sinode moet wees.

Die dinamika van kerkwees lê in die heilsaamheid van plaaslike betrokkenheid en die uitleef van geloof.

Die amptelike nuusblad van die NG Kerk, Kerkbode, vertel week ná week die stories van gemeentes wat floreer, gefokus op hul identiteit en roeping in die plaaslike konteks.

Die tydskrif LIG deel deurlopend die getuienisse van gewone mense, gelowiges regdeur die Kerk, wie se lewe deur God aangeraak is, daagliks verander word en lewens lei in diens van God en hul medemens.

Gemeentes se Facebook-platforms vertel die stories van uitreik, verhoudings oor grense heen, diensbaarheid, groei, geloof, voorbidding, wonderwerke – alles wat dui op ’n aktiewe en gesonde Kerk – daar waar die fokus op God en hul medemens en die bewaring van die skepping is.

Gefokuste bedienings getuig van dialoog, onwaarskynlike mense wie se paaie kruis en die mooiste getuienisse na vore kom, mense wat laat in hul lewe ’n roeping ervaar en ’n tweede loopbaan van bediening volg, voltooi en diensbaar raak – ook as diensleraar, predikers, beraders, jeugbedienaars en ander spesialisbedieningsgebiede.

Jesus staan sentraal en sinodes en gemeentes is besig om die goeie nuus van Jesus te verkondig en uit te leef.

Te midde van ’n gepolariseerde samelewing, waarin ekstreme standpunte dikwels die meeste aandag trek, verteenwoordig die NG Kerk ’n standvastige ewewig – nie omdat dit probeer om almal tevrede te stel nie, maar omdat dit erns maak met die kompleksiteit van geloof en lewe in die 21ste eeu.

’n Stille fokus moet nie verwar word met onaktiwiteit of irrelevansie nie. Inteendeel, dit verteenwoordig die bedaarde volharding van ’n Kerk wat steeds daagliks ’n impak maak in gemeenskappe oor Suid-Afrika heen.

Die NG Kerk bly standvastig, nie as ’n kompromie nie, maar as ’n getuienis van ’n geloof wat diep gewortel en wyd vertakkend is.

weekliks@rapport.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Die probleem met Maartje se skrywe is dat sy geen onderskeid maak tussen kernkwessies en randkwessies nie. Sy is besig met aas en omskakel: sy gee pragtige, geldige voorbeelde van diversiteit in die kerk dan dan wil sy daarmee wys dat daar ook diversiteit moet wees oor verskillende sieninge oor kernkwessies.

Maartje sê: “Ongelukkig kan sommige nie die verskeidenheid van denke in een Kerk verdra nie. Hulle is nie verdraagsaam vir diversiteit wat die eenheid verryk en verdiep nie.”

Onder behoudendes is daar oor die algemeen baie verdraagsaamheid oor diversiteit. Die musiek wat in die kerk gebruik word is maar een voorbeeld. Die vraag is egter waar ‘n mens die lyn van verdraagsaamheid trek? Moet ons ook verdraagsaam wees teenoor mense in die kerk met verskillende sieninge oor:

  • Jesus se maagdelike geboorte
  • Jesus se liggaamlike opstanding
  • Jesus se Godheid
  • Bestaan van die duiwel en die hel
  • Wat die bestemming is van mense van ander gelowe (Hindoes, Moslems, Boeddhiste, Ateïste, ens) nadat hulle sterf
  • Die doop
  • Ensovoorts

Maartje sê: “Kom ons bid en besin saam eerder as om mekaar verdag te maak en afsplitsing te dryf.”

Verdagmakery is wanneer jy iemand anders skuldig probeer bewys of skuldig laat lyk op grond van geen of gebrekkige bewyse. Wanneer jy egter iemand anders valslik beskuldig van verdagmakery dan is jy self skuldig aan verdagmakery. Kan Maartje enige voorbeelde gee van hierdie sogenaamde verdagmakery?

Maartje sê daar moet meer op gemeentes gefokus word. Hoe kan daar egter enige eenheid wees tussen gemeentes wanneer daar totaal verskillende sieninge tussen gemeentes is oor kern kwessies? Wat sou dan die doel wees van die algemene sinode as gemeentes kan doen wat hulle wil? (Kyk Dit help nie om algemene sinode te ontbind)

Maartje eindig af met: “Die NG Kerk bly standvastig, nie as ’n kompromie nie…”

Waarin bly die NG Kerk standvastig? Om verandering te dryf…?

1 thought on “NG Kerk: Ons is méér as eindelose teologiese bekgevegte”

  1. Hierdie artikel van die NG Kerk amptenaar het net weereens my persepsie versterk dat die NG Kerk en die Bybel vreemdelinge van mekaar geword het. Die sentrale tema van God se boodskap word verwater na n sosiale evangelie om “goeie goed” te doen. Ek besef weereens dat die NG Kerk en die Bybel nie meer veel met mekaar te doen het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui