Kyk ook:
Hierdie is in reaksie op Riaan de Villiers se brief: Waaroor het Jesus wél gepraat? (11 Jun 2025)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Brief: As jou Pinkstersop bitter word – Kerkbode
Kerkbode
13 Junie 2025
Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: In Kerkbode van 11 Junie 2025 kla ds Riaan de Villiers dat sy Pinkstersop so ’n bietjie bitter word “omdat ’n handvol lidmate en gemeentes” nou aankondig dat hulle hulle afskei van die liggaam van Christus “omdat die NG Kerk selfdegeslagverbintenisse erken en gay leraars in verbintenis in die amp toelaat.”
As ons egter by die feite bly dan is dit nie nodig om bitter sop te drink en dit ook vir ander lesers te skink nie.
- Ek weet nie van een gemeente wat wil afskei van die liggaam van Christus nie.
- Ek weet wel van leraars wat al so afvallig geword het dat hulle die Roomse dwaling aanvaar deur te dink dat slegs gemeentes wat struktureel aan die Algemene Sinode verbind is, die enigste gestalte van die liggaam van Christus is.
- Ek weet nie van dolerende gemeentes wat, soos hy suggereer, hulle sinodale bydraes terughou om dit soos Ananias en Saffira in hulle eie sakke te steek nie.
- Ek weet wel van verskeie gemeentes wat biddend besluit het om nie langer finansiële ondersteuning te gee aan die kerkvergaderings wat dwaalleer ondersteun nie.
- Ek weet dat die meeste dolerende gemeentes verkies om hulle sinodale bydraes liewers direk vir sending en barmhartigheid aan te wend deur projekte waar die evangelie suiwer verkondig word.
- Ek weet nie van ’n enkele deel in die Bybel waar Jesus ’n gay-huwelik goedgepraat het soos wat ds Riaan by implikasie beweer nie.
- Ek weet wel van verskeie plekke waar Jesus die heiligheid van die huwelik beklemtoon soos wat God dit van die begin af ingestel het, as ’n heilige verhouding tussen een man en een vrou. Markus 10:6-9. Sien ook Genesis 2:18-25; Matteus 19:4-6; 5:27-28.
- Ek weet dat Jesus se woorde nooit in stryd is met die res van God se Woord nie en dat talle ander tekste die heiligheid van die huwelik en seksuele omgang slegs tussen man en vrou bevestig – geen selfdegeslagverhoudinge nie.
- Ek weet ds Riaan suggereer herhaaldelik dat die dolerende gemeentes wat hulle sinodale bydraes weerhou die eintlike krisis in die kerk ignoreer soos : “… ongelykheid, geslagsgebaseerde geweld en chroniese armoede … Kinders stap kilometers skool toe sonder kos; … bendegeweld; … die gaping tussen ryk en arm.”
- Ek weet nie van dolerende gemeentes wat een van daardie krisisse ignoreer nie, en ek weet ook nie waar Jesus hierdie krisisse kwansuis hoër ag as die kerk se roeping om ook die draer en beskermer van die waarheid te wees nie.
- Ek weet dat dit juis Judas is wat vir Maria gekritiseer het omdat sy haar liefde vir Jesus bo die nood van die armes gestel het: “Waarom is hierdie reukolie nie vir 300 silwer-muntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Johannes 12:5.
- Maar ek weet ook nie of ’n kerk wat self sit met vaste beleggings van sowat honderd miljoen, kan vinger wys na gemeentes wat soms kies om Maria se voorbeeld te volg nie.
- Een ding weet ek wel: As jou Pinkstersop begin suur word, maak eers seker jou vinger wys in die regte rigting.
Kommentaar
Daniel Louw
Hierdie is werklik waar ‘n uitstekende reaksie op Riaan de Villiers se brief.
Ek het egter net een opmerking. Theo Danzfuss skryf:
Ek weet wel van leraars wat al so afvallig geword het dat hulle die Roomse dwaling aanvaar deur te dink dat slegs gemeentes wat struktureel aan die Algemene Sinode verbind is, die enigste gestalte van die liggaam van Christus is.
Dit lyk soms vir my of daar ook onder behoudendes mense is wat glo dat die NG Kerk die enigste gestalte van die liggaam van Christus is. Ek het al vir iemand gevra wanneer hy die NG Kerk sal verlaat. Sy reaksie was: wanneer hy ‘n perfekte kerk gevind het. Met ander woorde, hy sal nooit die NG Kerk verlaat nie, ongeag hoe ver die kerk dwaal.
Dit is tyd dat die paaie skei.