Uitslag van ondersoek teen moderator bekend: Lubbe onskuldig

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

********

Uitslag van ondersoek teen moderator bekend: Lubbe onskuldig | Kerkbode

Deur Kerkbode / 22 Mei 2025 / Verklarings

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie ‘n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

’n Tugliggaam het ds Jan Lubbe onskuldig bevind op ’n klag wat verband hou met opmerkings wat hy verlede jaar tydens ’n RSG-onderhoud gemaak het.

Die ondersoekproses is, volgens die voorskrifte van die Kerkorde, vertroulik hanteer.

In ’n ongewone stap is die uitslag van dié klag van leerdwaling wat teen die moderator van die Algemene Sinode ingedien is, bekendgemaak.

“Deursigtigheid in hierdie saak “(sal) help om verdere gerugte en volgehoue gissings te voorkom,” luidens ’n verklaring.

Lees die verklaring hieronder. – Red.

VERKLARING: NG KERK MODERATOR ONSKULDIG OP KLAG VAN LEERDWALING

Ds Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, is onskuldig bevind op ’n klag van leerdwaling.

Die NG Kerk maak nie gewoonlik die uitslag van tugondersoeke in die openbaar bekend nie. In die geval van die klag van leerdwaling wat teen ds Jan Lubbe (moderator van die Algemene Sinode) ingebring is, mediadekking en talle kommentare op verskillende sosiale platforms, blyk dit egter in openbare belang te wees om die uitslag van die ondersoek bekend te maak. Deursigtigheid in hierdie saak help om verdere gerugte en volgehoue gissings te voorkom.

Die Ring van Bloemfontein-Noord het op 18 Maart 2025 ’n onafhanklike liggaam aangewys om ’n tugondersoek te doen na aanleiding van ’n klag van prof Johan Janse van Rensburg teen ds Jan Lubbe. Die klag het in verband gestaan met opmerkings wat ds Lubbe gemaak het tydens ’n radio-onderhoud op RSG op 23 Julie 2024. Die saak is aanvanklik ondersoek, maar die bevinding is op grond van prosedurele besware nietig verklaar en is van voor af begin.

Intussen het die kerkraad van NG Gemeente Berg-en-Dal, waar ds Lubbe die leraar is, vandeesweek ’n skrywe gerig aan die kantoor van die algemene sinode waarin hulle die uitslag van die nuutste ondersoek bekendmaak. Die tugliggaam het ds Jan Lubbe onskuldig bevind aan leerdwaling.

Die ondersoekproses is volgens die voorskrifte van die Kerkorde vertroulik hanteer. Beide prof Van Rensburg en ds Lubbe is tydens gesprekke vir ’n voorafondersoek aangehoor. Die gesprekke het in Bloemfontein plaasgevind. Hierna het die geslote formele ondersoek in Pretoria plaasgevind. By hierdie geleentheid is die klaer en die aangeklaagde en hulle getuies aangehoor. Die tugliggaam het die getuienis oorweeg en bykomend ook deskundige getuienis ingewin. Hierna het die tugliggaam ’n bevinding gemaak, in ’n omvattende verslag gedokumenteer en met alle betrokke partye gekommunikeer.

Die kerkraad van Berg-en-Dal doen in hulle skrywe ’n beroep op lidmate en leraars om “altyd dié Weg te volg wat vir ons in die Skrif rakende die negende gebod oor ‘valse getuienis’ uiteengesit is”. Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 43) beskryf hierdie weg. In die toepaslike kerkordelike bepalinge hieroor word daar na Matteus 18 verwys. Wanneer daar “onderlinge meningsverskille oor teologiese sake mag ontstaan, behoort medegelowiges (lidmate sowel as leraars) hulle van enige vorm van verdagmaking te weerhou”.

Openbare verantwoording versterk die legitimiteit van kerklike prosesse deur te bewys dat alle gelegitimeerdes (wat leiers insluit) volgens dieselfde standaarde beoordeel word en dat tugprosedures deeglik en met die nodige erns uitgevoer word.

Deur die bevinding van hierdie ondersoek bekend te maak, hoop die kerk om ’n balans in respek vir beide die integriteit van interne prosesse én die belang van openbare verantwoordbaarheid te beklemtoon. Uiteindelik is dit ook die getuienis van die kerk en die eer van God wat hierdeur geraak word. Daarom het die tugliggaam ook hulle dank uitgespreek vir die integriteit waarmee al die betrokke partye hulleself aan die proses onderwerp het.

Navrae kan gerig word aan Denise Louw, NG Gemeente Berg-en-Dal, Tel: 051 436 2750/073 180 3193, E-pos: kantoor@bergendalkerk.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Hierdie verklaring word amptelik uitgereik kwansuis ter wille van deursigtigheid. Dit sê egter niks – die rede hoekom Lubbe onskuldig bevind is, word nie gesê nie.

En dan, hoekom verwys die kerkraad van Berg-en-Dal na die negende gebod? Insinueer hulle dat die klaer, prof Johan Janse van Rensburg, nie die waarheid gepraat het nie?

Hoekom die verwysing na die Matteus 18-pad (Heidelbergse Kategismus, Sondag 43)? Moes Johan Janse van Rensburg hierdie saak slegs persoonlik met Jan Lubbe opgeneem het, oor iets wat Jan Lubbe in die openbaar gesê het? (Kyk Mag Christene mekaar in die publiek oordeel of teregwys?)

Ek sien ook weer die woord “verdagmaking”. Behoudendes word tot vervelens toe daarvan beskuldig wanneer leiers in die NG Kerk tot verantwoording opgeroep word oor die on-Bybelse dinge wat hulle in die openbaar sê.

In die RSG onderhoud is die volgende vraag aan Lubbe gevra:

Gaan almal wat nie Christene is nie, beërwe hulle nie die ewige lewe nie? Die hemel en die hel nie?

Sy antwoord:

Hier waar ek nou sit en oor my skouer kyk sal ek die boek van Desmond Tutu raaksien waarin die baie omstrede stelling is: “God is not a Christian”

As jy die vier evangelies lees waarin Jesus se verhale opgeteken is, het Hy nie in die eerste plek met mense gepraat oor hoe hulle in die hemel kom nie. Die omgekeerde is waar. … Jesus het veel meer gepraat oor die aarde as oor die hemel … dit gaan oor die redding van jou siel, want dit het ewigheidswaarde en jy moet in die hemel kom. Waar is die hemel? Ek dink Jesus het gesê: die hemel is waar God is. En dit kan wees in die verhoudinge van mense, in die heelheid van die skepping. Waar is die hel dan? Waar God nie is nie. God verlaat ‘n plek.

Abraham het Jesus nie geken nie. En tog noem Hebreërs 11 Abraham een van die gelowiges wat in die hemel, by God is nou nadat hy gesterf het terwyl hy die naam Jesus nie geken het nie.

Ons moet baie versigtig wees om my kerk, my tradisie, my lees van die Bybel te verhef tot “dit is die enigste weg na saligheid”. Ek het nie die waarheid beet nie.

Wie is ek … om sommer ‘n kategoriese uitspraak te maak oor die Joodse gelowiges? Hulle aanbid dieselfde God.

Let daarop dat hy met geen sekerheid wil sê dat Jesus die enigste weg na saligheid is nie. Hy wil ook nie eers sê dat die Jode, wat nie Jesus as God erken nie, ongered is nie.

Dit is niks anders as universalisme nie.

Op grond waarvan het tugliggaam gevoel dat Jan Lubbe nie universalisties was nie?

Tydens Lubbe se legitimasie-eed het hy die volgende belowe:

Ek belowe om die voorgenome leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. … so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer.

Volgens my het hy hierdie eed verbreek deur ruimte te skep vir universalisme.

1 thought on “Uitslag van ondersoek teen moderator bekend: Lubbe onskuldig”

  1. Dankie tog dit was dit was net ‘n mors van tyd om Lubbe aan te kla. Hy het niks verkeerd gedoen nie , net die sy opinie gegee waarmee die meeste van ons saamstem. Die sogenaamde Prof van Rensburg moet aftree en rustig erens op die stoep gaan sit met ‘n koppie koffie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui