Hoofstuk 20
Uitkom (“Coming out”)
Inleiding
“Coming out” of “uit die kas kom” is ‘n uitnodiging om tot groter egtheid, eerlikheid en integrasie oor seksuele oriëntasie te kom. Dit het ‘n persoonlike dimensie, maar beskik ook oor ‘n openbare implikasie. Dit gaan oor individue, maar kan ook op hul ouers, gesinne of gemeenskap (ook geloofsgemeenskap) van toepassing gemaak word. Behalwe vir lesbiese en gay mense, kan dit ook vir ander seksuele minderhede soos biseksuele mense geld, of vir diegene wat ander genderidentiteite of -uitdrukkings het, soos transgender- of interseksmense. In hierdie bydrae word spesifiek op transgender-persone gefokus en ek gebruik “gay” hier dus as ‘n sambreelterm vir die LGBTQIA+-gemeenskap, soos wat dit soms in Afrikaans gedoen word.
In ‘n samelewing wat steeds so georden is dat heteroseksualiteit of straight-wees die voorgeskrewe norm is, word gay persone wat uitkom as deel van ‘n minderheid (wat vandag gelukkig toenemend meer aanvaar word) geidentifiseer. Om uit te kom is ‘n proses wat voortduur en sover moontlik bestuur moet word.
Dis ‘n uitnodiging om ‘n wereld waarin jy aangeleer het om voor te gee wie jy nie is nie, agter te laat en eerstens deur jou eie ontkenning te breek. Só breek jy deur die vals self en omhels ‘n groter deel van jou waarheid. Om te bly voorgee lei tot geweldige angstigheid waarin jy self verlore raak, jou verhoudings met dié naaste aan jou oppervlakkig bly en jy onsigbaar is. In die proses dra jy daartoe by dat daar steeds teen jou en ander gay mense as randfigure gediskrimineer word.
Die skuldgevoelens waarmee jy worstel, kan egter ‘n positiewe effek hê. Dit maak jou bewus dat jy vry is om op te tree en só jou situasie kan verander. Om meer bewustelik met jou werklikheid om te gaan deur te leer om in die oomblik te leef (mindfulness en meditasie-oefeninge kan hiermee help) en op grond daarvan keuses te maak kan jy jou eie, nuwe
betekenis skep. Jy leer ook om by die gevolge van jou keuses te staan wanneer jy sê: “Dit is ek. Dit glo ek. Dit doen ek”.
Dis goed om te onthou dat om uit te kom ‘n proses is wat bewustelik en strategies aangepak moet word. Dit gebeur altyd binne die konteks en deur die bou van verhoudings. Soos dit jou waarskynlik jare gekos het om tot selfaanvaarding en -erkenning te kom en jy nog te doen kry met “geïnternaliseerde homofobie” (waar jy jou meet aan die heteroseksuele norm), moet jy jou ouers, vriende en familie ook ‘n uitkomproses toelaat waarin hulle tot ‘n nuwe aanvaarding kan kom.
Dis belangrik om daarop te let dat die kerk nie tradisioneel as ‘n veilige plek gesien is om uit te kom en jou seksualiteit met jou menswees te versoen nie en dat alternatiewe plekke soos die club of familie van keuse eerder daardie plekke geword het. Om uit te kom, is ‘n belangrike oorgang en verdien ‘n sinvolle oorgangritueel wat saam met familie en vriende
gevier behoort te word.
Die simboliek wat hier ter sprake kom, is dié van nuwe lewe en opstanding. Tekste waarmee gewerk kan word, is Jona se uitkom uit die vis, Lasarus se opwekking uit die dood en Jesus se opstanding.