Kyk ook:
*******
Brief: Kan Roetemerkers die kerk op ’n verkeerde roete lei? – Kerkbode
Kerkbode
27 November 2024
Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Roetemerkers vir die jeug kan groot waarde hê mits dit reg verstaan word. Ongelukkig flikker daar rooi ligte oor die Algemene Sinode (AS) se teologie van roetemerkers. In watter mate is hierdie roetemerkers besig om teenproduktief die ganse NG Kerk op ’n verkeerde roete te plaas?
Die AS het al in 1998 asook 2002 duidelike besluite geneem soos:
- “dat dooplidmate én belydende lidmate op grond van die verbond volledig lidmate van die kerk is …”
- “Die Algemene Sinode handhaaf die praktiese onderskeiding van dooplidmate en belydende lidmate …”
- “Die onderskeid tussen doop- en belydende lidmaatskap dui nie op dubbele lidmaatskap nie.”
- “Die Algemene Sinode besluit dat die formele aflegging van geloofsbelydenis ingeklee word as ’n getuienis van persoonlike geloof in Jesus Christus, onderskrywing van die Gereformeerde leer soos vervat in die Ou en Nuwe Testament en die artikels van die Christelike geloof en gereedheid om leiding te neem in die gemeente”.
Niemand word met hierdie belydenis gebore nie. Die Here werk dit deur sy Gees in my hart. Geen roetemerker kan dit vervang nie. Talle gedooptes het dit nog nie bely nie en sal of wil dit nooit bely nie.
Voorheen het my lidmaatbewys wel van my doop getuig, maar ook: DAT EK GLO én WAT EK GLO: Ek ken en aanvaar die suiwer belydenis as my eie geloofsoortuiging.
Deur openbare geloofsbelydenis te vervang met blote “roetemerkers” het die AS die NG Kerk stil-stil op ’n verkeerde roete geplaas. Tot onlangs kon hulle lidmate flous met beloftes soos “Roetemerkers: Dit vervang nie die geloofsbelydenis nie” (Kerkbode 29/10/23). Maar nou het die waarheid hulle ingehaal, want dit hét reeds gebeur!
- In 2023 het die AS besluit om alle verwysings na doop- en belydende lidmate in die Kerkorde te verander na slegs “lidmate”.
- “Die tegniese term Belydenis van Geloof val nou weg ten gunste van die belydenis van geloof regdeur die lewe” (ASM 2021).
Rampspoedige implikasies:
- My lidmaatbewys kan nou slegs getuig dat ek gedoop is.
- Dit getuig nie meer DAT EK GLO NIE, en ook nie WAT EK GLO nie.
- Ander gereformeerde kerke sal baie versigtig wees om so ’n lidmaatbewys te erken.
- Gedooptes wat nooit gekatkiseer of belydenis van geloof afgelê het nie kan nou op die kerkraad dien.
- Ek kan kinders doop sonder enige lidmaatbewys van my eie geloofsoortuigings.
- Leertug verdwyn want suiwer leer is nie meer voorwaarde vir belydende lidmaatskap nie.
- Wat van gedooptes wat geen roetemerkers ontvang het nie?
In Oktober 2024 gee die ASM advies oor die bevoegdheid van sulke kerkrade.
RAAI WAT? Die ASM maak toe ’n akrobatiese sprong in stryd met hulle eie besluite, terug na 1998 “dat slegs belydende lidmate tot die ampte (diens, leierskap) gekies word”. Tong in die kies wonder ek toe: Waar kry ons dan belydende lidmate vir die kerkraad as hulle volgens die AS nie meer bestaan nie? Dit lyk my ons gereformeerde vaders was toe nie so dom soos wat sommige dink nie.