Brief | Kategese-boek wys NG Kerk kies verkeerde roete

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief | Kategese-boek wys NG Kerk kies verkeerde roete | Rapport

Sondag, 15 Junie 2025

Rheinier Nel, Bethulie, skryf:

Alle aanduidings is dat die algemene sinode van die NG Kerk gaan volhard op ’n pad wat gemeentelike onenigheid en kerkskeuring aanhits.

Die sinode se besluite oor die afgelope paar jare wys dat hy die DEI-ideologie omarm het: diversity, equity, inclusion. En dit lyk of die algemene sinode van 2027 net nog verder sal gaan as die sinodes van 2019 en 2023.

Dit ten spyte van verskeie kerklike vergaderings (die Namibiese sinode, die Koinonia-sinode en verskeie dolerende gemeentes) se jare lange pleidooie dat die kerk moet terugkeer na die beginsel van Sola Scriptura. Slegs die Skrif.

Die verknogtheid aan die ideologie van DEI blyk onder meer duidelik uit die werk van die algemene sinode se taakspan vir kategese en roetemerkers.

Die finalejaar-kategesehandboek vir 2025 meld dat homoseksuele mense ’n sekere seksuele oriëntasie en seksuele identiteit het wat hulle nie self gekies het nie. Die insluiting (inclusion) van mense met ’n ander seksuele identiteit (diversity en equity) word benadruk. Hulle moet “behoort” en kan dan as leermeesters dien vir die geloofsgemeenskap.

Drie lede van die algemene sinode se taakspan vir roetemerkers en twee lede van die algemene sinode se werkgroep vir diversiteit en inklusiwiteit met betrekking tot seksuele oriëntasie was medewerkers aan ’n boek gepubliseer deur Bybelmedia, die NG Kerk se uitgewer. Die boek – Ongekaart: ’n Bronboek met roetemerkers vir oorgange, met die beskrywing op die voorblad, “Nuwe rituele om op ’n betekenisvolle manier oor die ongekarteerde drumpels van die lewe te tree” – bied riglyne vir leraars en gemeentes om die ongekarteerde roetemerkers/lewensdeurgange op ’n liturgiese wyse in gemeentes te fasiliteer.

Die roetemerkers wat in bogenoemde boek gepropageer word, sluit in ’n formulier om ’n vaste lewensverbintenis tussen twee persone van dieselfde geslag te sluit.

Die handboek het ook ’n ritueel-voorskrywing vir persone wat lesbies, gay, biseksueel, transgender of interseks is (LBGTQIA+). Hierdie ritueel-voorskrywing het onder meer ten doel om die betrokkenes te help om “uit te kom”.

Die liturgiese formulier stel onder meer die volgende ritueel in die vooruitsig: Wanneer die vertrek donker gemaak word, moet die liturg uitroep “Lasarus kom uit. NN kom uit,” waarna uit Joh. 11:43 gelees word oor Lasarus wat deur Jesus uit die graf opgewek is. Daarna word die persoon aangemoedig om soos die Opgestane Jesus uit die dood gekom het na ’n nuwe lewe toe, hy of sy ook moet uitkom. (NN staan vir nomen nescio in Latyns, oftewel “noem naam”.)

Nog ’n bydrae in die onderhawige boek gee riglyne vir transgender persone om deur middel van ’n liturgiese ritueel ’n nuwe identiteit te aanvaar. Daarmee bely die transgender persoon ook “die liefde van God ons Ouer”, volgens die formulier.

Die algemene sinode het in beginsel aanvaar dat die kerk ’n transformasieproses moet fasiliteer wat gebou word rondom die beginsel van roetemerkers of lewensdeurgange. Dit dien as voertuig om aan DEI prakties gestalte te kan gee.

Die kondonering van DEI deur die algemene sinode se onderskeie taakspanne en werkgroepe het daartoe gelei dat talle profetiese stemme hierteen in verset gekom het.

Hierop het die kerk se vergaderings gereageer met dreigemente dat die beswaarde gemeentes se bestuur ingevolge art. 22.3 van die Kerkorde deur ’n ring of ’n sinode oorgeneem word.

Die verdediging van DEI deur die algemene sinode se onderskeie taakspanne en kommissies eis ’n hoë tol wat kerklike integriteit in Suid-Afrika betref.

Onder aanvoering van pres. Donald Trump neem Amerika tans sterk standpunt in teen DEI. En Europa begin ook bykom. Engeland se hoogste hof het onlangs beslis dat daar juridies nét twee geslagte bestaan: manlik en vroulik.

Dit staan in skerp kontras met die algemene sinode se mistasting dat daar ’n hele spektrum geslagtelike “oriëntasies” is.

Die NG Kerk sal daadwerklik moet terugkeer na die boodskap van die Bybel.

Indien nie, gaan hy saam met die skande van die “kerklike apartheidsteologie” ook die albatros dra van die skande van DEI.

briewe@rapport.co.za

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui