Brief: Wie se spyskaart saai die verdeeldheid?

Brief: Wie se spyskaart saai die verdeeldheid?

Deur Kerkbode / 21 Mei 2025 / Briewe

Hierdie is ‘n lesersbrief. Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Julian Olivier van Groblersdal skryf: Dr Leon Foot skryf in Kerkbode (12 Mei 2025) dat “die kerk plek het vir meer as net my oortuigings”. Hy gebruik veral Paulus se hantering van vleiseters en groente-eters (Romeine 14) om te argumenteer dat die kerk ruimte moet bied vir verskille, insluitend oor homoseksualiteit.

Hy skrywe verder dat Christene wat beswaard is oor selfdegeslagverbintenisse die kerk mislei: “Omdat die kerk selfdegeslagverbintenisse goedkeur, glo hulle sommer ook nie meer in die verlossende werk van Christus, of die maagdelike geboorte, of die bestaan van die bose nie (om net ’n paar te noem). Dit is eenvoudig nie waar nie”.

Eerstens, Paulus se lering oor homoseksuele verhoudings is duidelik in Romeine 1, 1 Korintiërs 6:9-11 en 1 Timoteus 1:10, waar hy dit as sonde onder God se oordeel klassifiseer, saam met talle ander sondes. In 1 Timoteus 1:10 verbind hy dit met die suiwer evangelie, wat dit verhef bo ’n randsaak soos dié in Romeine 14. Om selfdegeslagverbintenisse nie as sonde te erken nie, ontneem ons mense van Christus se verlossing vir daardie sondes, wat daarom ernstige kritiek uitlok. Die evangelie gaan tog nie net om vergifnis van sonde nie, maar ook oor die bevryding daarvan en ’n oproep tot ’n heilige lewe.

Tweedens, sonder om enigsins skuldig te wees aan verdagmaking op sosiale en publieke media (wat dr Foot pla), kan ’n stortvloed onweerspreekbare voorbeelde genoem word waar gelegitimeerde NG predikante wat selfdegeslagverbintenisse aanvaar, ook skaamteloos (in die publieke media) die kern van Christus se verlossing in die gedrang bring. ’n Voorbeeld: Die nuwe NG akademiese dekaan by Hugenote Kollege*, verklaar sonder om doekies om te draai in haar PhD (wat publiek beskikbaar is) dat die erfsonde deur Augustinus en Paulus uitgedink is, dat Paulus in Romeine 3 oordryf het oor die sondigheid van die mens, dat die dood nie die gevolg van God se oordeel oor Adam was nie (Rom 5:12-18), en Christus se plaasvervangende soendoodoffer vir ons sondes is deur Paulus uitgedink. As hierdie soort uitsprake deur gelegitimeerde NG predikante “nie die waarheid van die evangelie op die spel” plaas nie, wat doen dit dan?

In Galasiërs 2 het Paulus in die openbaar vir Petrus gekonfronteer toe die evangelie in die gedrang was (Gal 2:11-14), omdat ander gelowiges deur Petrus se optrede beïnvloed is. Dít blyk nie meer moontlik te wees onder die spyskaart van die Algemene Sinode nie, omdat gelegitimeerde NG teoloë ’n ander evangelie verkondig sonder enige gevolge. Erfsonde, Christus se sterwe as plaasvervanger vir ons sondes, genade en transformasie – al hierdie dinge is tog kernsake van ons geloof – maar word so maklik “geherinterpreteer” om by wêreldse standaarde aan te pas dat ons ’n nuwe godsdiens voorstel.

Dr Foot voer aan: “Tans verhef sommige egter hulle eie verstaan tot die enigste verstaan … Dit dreig om die kerk te skeur”. Ek vra nederig: Het die Algemene Sinode met haar spyskaart nie alreeds die kerk geskeur nie?


KERKBODE HET NA AANLEIDING VAN DIE SKRYWE HIERBO DR YOLANDE STEENKAMP (DEKAAN: HUGENOTE KOLLEGE) OM KOMMENTAAR GENADER.

Steenkamp skryf: Ek waardeer dit dat daar moeite gedoen is om my tesis te lees, maar versoek dat die volgende in ag geneem sal word by die beoordeling daarvan:

Akademiese studies poog om ’n spesifieke onderwerp vanuit ’n bepaalde perspektief te verhelder. Daarmee neem ons deel aan ’n geloofsgesprek wat reeds duisende jare oud is, en nog lank na ’n gegewe studie sal voortgaan.

In my proefskrif (2016) het ek ’n argument gebou dat verlossing verstaan kan word as algehele oorgawe aan God se wil, met sonde as die ontkenning daarvan en die najaag van die eie wil. Verlossing is dus om vrygemaak te word van die tipies menslike aangetrokkenheid na beheer en die skep van ons eie wêreld na ons eie beeld en voorkeure. My studie stel die opstanding van Christus as crescendo van die Christusverhaal voor, omdat ons daarin sien dat die Een wat voor menslike oë totale oorgawe aan God kom beliggaam het, nie deur die dood vasgehou kon word nie. Christus is dan vir gelowiges die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Eerste Vrug wat die belofte dra dat hierdie verlossing vir die wêreld bedoel is: Ons verwag die groot oes wat inkom, en daarvoor slaan ons almal saam hand aan die ploeg.

Die weg na hierdie uiteindelike argument loop in die tesis langs ’n interdissiplinêre roete waar ek gesprek bewerkstellig tussen verskillende benaderings, ten einde te vra hoe daar in ons konteks oor sonde (en verlossing) nagedink kan word. Ek oorweeg (i) die historiese ontwikkeling van die sonde- en verlossingsleer, (ii) kultuurhistoriese kontekste se rol in die interpretasie van spesifieke tekste waarmee ek werk (beide Bybelse maar ook dié van teoloë), (iii) die filosofiese tradisie, en (iv) die Ou- en Nuwe-Testamentiese dissiplines deur die nadere lees van twee Bybelse verhale. Deur hierdie reis het ek die belang van oorgawe aan God se wil probeer illustreer. Terwyl die paartjie in die Eden-verhaal hulle verbeelding rig op hulle eie vermoëns om self hulle toekoms te skep, dui Maria se “laat dit met my wees volgens u woord” ’n verbeelding aan wat deur God se nuwe toekoms aangegryp word, en deur haar “ja” word die skynbaar onmoontlike moontlik: God word mens en kom woon onder ons.

Ek versoek dat my tesis, indien dit wel gelees en aangehaal word, binne die konteks van die volle argument geïnterpreteer sal word en in die gees van gesprek en gemeenskaplike op-weg-wees. Ekself is van oordeel dat die konklusie van my studie juis die kern van die Christelike tradisie onderstreep, naamlik erkenning van my wil tot selfbeskikking as sonde, en oorgawe aan God se wil as verlossing. Hierdie oorgawe is bevrydend en skep die moontlikheid vir die deurbreek van God se koninkryk in ons wêreld.

Hugenote Kollege is daaraan verbind om bedienaars en diensleraars op te lei wat die Kerk in Afrika tot diens kan wees. As dekaan gee ek self nie klas nie, maar kan ek getuig dat ons kurrikula volgens hierdie verbintenis ontwerp en saamgestel is. Enige navrae oor ons aanbieding en ons werk is altyd welkom, en die Algemene Kuratorium voorsien ’n protokol waarbinne sulke gesprekke kan plaasvind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui