Kyk ook:
- NG Kerk: Ons is méér as eindelose teologiese bekgevegte (11 Mei 2025)
*******
Brief | Nee, ds. Maartje, nou woed die twis éérs | Rapport
Sondag, 18 Mei 2025
Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:
Dit is duidelik dat Maartje van der Westhuizen, assessor van die NG Kerk se algemene sinode (AS), se beoogde teologiese uitklophou nie net gemis het nie, maar dat sy blykbaar ook ’n ernstige wanpersepsie het van waaroor die huidige stryd in kerkgeledere gaan.
Sy meld dat kwessies rakende die selfdegeslag-debat “nou op outonome gemeentevlak gehanteer word en daarom reeds groter rustigheid gebring het”.
Nee! Die AS het die hele twispunt afgewentel na die plaaslike gemeentevlak waar die teologiese twis en gevegte nou groot onenigheid saai en die onrustigheid al hoe groter word.
Twispunte oor kernbelangrike teologiese sake moet nie na lidmate afgewentel word waar dit gemeentes verdeel nie.
Dit is verder onvanpas van Maartje om te sê “ongelukkig kan sommige nie die verskeidenheid van denke in een Kerk verdra nie”.
Nee! Wat sommiges glad nie kan verdra nie, is die duidelike wegbeweeg deur die AS van erkenning van Skrifgesag. Laasgenoemde het daartoe gelei dat bykans 100 gemeentes begin doleer het asook tot die stigting van die Koinonia-sinode.
As lidmate self moet besluit of daar ’n daadwerklike duiwel en demone is, word ’n basis geskep vir ongeloof in die Bybel.
Maartje verstaan duidelik nie hoe ernstig die Bybel die sonde van seksuele immoraliteit hanteer nie. Seksuele sondes word nooit beskou as adiaphora, of randsake nie.
Inteendeel, die Bybel dui aan dat seksuele immoraliteit presies die soort sonde is wat diegene kenmerk wat nie die koninkryk van die hemele sal binnegaan nie.
Daar is minstens agt sondelyste in die Nuwe Testament (Mark 7:21-22; Rom. 1:24-31; 13:13; 1 Kor. 6:9-10; Gal. 5:19-21; Kol. 3:5-9; 1 Tim. 1:9-10; en Open. 21:8) en seksuele immoraliteit word elke keer ingesluit.
Om die waarheid te sê, in sewe van die agt lyste is daar veelvoudige verwysings na seksuele immoraliteit, naamlik onreinheid, sensualiteit, orgies, mans wat homoseksualiteit beoefen, ensovoorts.
Geen sonde word meer gereeld in die Nuwe Testament veroordeel as juis seksuele sondes nie.
Die probleem met die AS is dat dit nie meer kom met ’n “Daar staan geskrywe” nie, maar eerder met ’n aanbeveling om maar self te besluit, pas aan by veranderende tye, doen dit net in liefde, of kyk wat sê die moderne wetenskap en sielkunde.
Amper alles word nou ontsondig en ’n kompromis word met sonde aangegaan.
Met die verdere opsie om die duiwel, die vader van die sonde, uit die prentjie te stel, bestaan sonde basies nie meer nie en word dit nie meer op kansels aangespreek nie. Die AS is deur die gay-lobby en die post-moderne liberales gekaap. Selfs nuwe gay-georiënteerde katkisasie-handboeke, soos Roetemerkers en Ongekaart, is ingebring om die jonges se koppe te draai en hulle aan te moedig om uit die kas te klim.
Voorheen het die NG Kerk onder meer gefokus op sonde, genade en transformasie.
Maartje gee ’n mooi uiteensetting van hoe die NG Kerk se fokus nou wegbeweeg het van vertikale verhoudings met God, tot hoofsaaklik horisontale verhoudings met die fokus op welsynswerk, vroeë kinderontwikkeling, gemeenskapsprojekte, diensorganisasies, kultuurskuiwe en ekumeniese verhoudings, binne ’n “ruim huis” wat al hoe “ruimer” word en toenemend vir sinkretisme voorsiening maak.
Sal die NG Kerk ooit terugkeer na ’n “Daar staan geskrywe”?