Waarom is ‘woke’ ’n vloekwoord? Dis mos goed om onreg te beveg, sê oudregter

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Waarom is ‘woke’ ’n vloekwoord? Dis mos goed om onreg te beveg, sê oudregter | Rapport

Johann van der Westhuizen

Sondag, 18 Mei 2025

’n Kultuur waarin diegene met mag en getalle vrye denke versmoor, is dodelik vir vooruitgang, skryf Johann van der Westhuizen.

“Ek is moeg vir menseregte. Almal het regte behalwe ek,” sê ’n jong nabye familielid onlangs.

My skok laat my toe dink aan ’n brief waarin ’n Rapport-leser my in Desember verlede jaar uitgedaag het om oor wokeness te skryf.

My antwoord was dat ek sal skryf sodra ek dit verstaan.

Ek besef egter dat ek baie dinge nooit behoorlik sal verstaan nie. As ’n mens net mog praat oor wat jy verstaan, sou spraakvryheid sterf en doodse stilte heers. Dit help egter om jou onkunde te besef.

Ná die gruwels van twee barbaarse wêreldoorloë tussen sogenaamde beskaafde lande is gepoog om ’n wêreldorde gegrond op menseregte tot stand te bring. Die Universele Deklarasie van Menseregte is in 1948 geskep. Internasionale konvensies het gevolg. State se grondwette het menswaardigheid en gelykheid beskerm. Diskriminasie op grond van ras, kleur en geslag is verbied. Suid-Afrika het seksuele oriëntasie bygevoeg.

Kolonies het onafhanklik geword. Feminisme het sterk geword. Taal het verander. Marxisme se rol en impak het ook in Westerse filosofie prominent geword. In politieke, kerklike en gesinstrukture is patriargie uitgedaag.

Die menseregtewêreld was nie perfek nie. Sommige het uitgesluit gevoel. Daarteenoor is swart Amerikaners soos George Floyd op straat deur polisiebeamptes vermoor; fisiek en geestelik gestremde mense is vermy en dikwels verafsku; mans met mag, soos die rolprentmagnaat Harvey Weinstein en die voormalige Fox News-baas Roger Ailes, het vroue soos eiendom en seksslawe behandel. Mense wat worstel met hul genderidentiteit is as sondige fratse beskou.

Die term “woke” het glo in Afro-Amerikaanse Engels ontstaan. Soos die woord aandui, hou dit verband met ontwaking ten aansien van die lot van armes, onderdruktes en ander randfigure van die samelewing.

“Stay woke,” veral teen ongelykheid en diskriminasie, is jare reeds gesê. Veral die afgelope dekade het dit ’n slagspreuk in die stryd om maatskaplike geregtigheid geword. Die veldtogte Black Lives Matter en #MeToo het bygedra. Ander lewensfasette het gevolg.

Bewustheid van maatskaplike ongeregtigheid word deur verskeie godsdienste vereis. Wat sou dan fout wees met waaksaamheid teen onreg? Is die Afrikaans vir “woke” in hierdie taaljaar nie “waak”, en vir “wokeness” “waaksaamheid” nie?

Verstaanbaar sou die grootbase, stoere stoetbulle en vrome volksmoeders magsverlies vrees. Van hulle het in ieder geval maar langtand geproe aan menseregte en – heimlik of openlik – vasgeklou aan rassisme, seksisme en homofobie. Baie wakers teen woke word steeds hierdeur gedryf.

Uiterstes het tog baie van ons konserwatiewe ouens se geesdrif en begrip effens agtergelaat – benewens die vrees wat ’n mens tref as jy op ’n draaiende wêreld jou balans verloor. Sommige verskynsels is koddig, ander skadelik.

Jaguar se nuwe vervaardigers maak nou ’n pienk F-tipe. As die mark daarvoor vra, is dit reg. Maar iemand wat op skool Mark Condor se rooi E-tipe bewonder het (en kortstondig ’n “Italiaanse rooi” F-tipe bestuur het) hoop darem dat ou kleure beskikbaar sal bly vir dié van ons oues wat nog in die ikoniese plat sportmotor kan pas.

Disney se meerminnetjie Ariel kan maar swart wees. Wat is die kleur van meerminne in ieder geval? Wie sê hul hare is lank, vloeiend en rooi? Hoe gemaak met Sneeuwitjie, dít weet ek nie. Enige swart ekwivalent klink rassisties . . . Wat insluitende diversiteit betref, was Barbie en Ken hul tyd vooruit.

Gay mense moet hul liefde en eenheid in die openbaar kan vier, deur te trou, het regter Albie Sachs in ’n uitspraak van die konstitusionele hof geskryf. Waarom sommige LGBTQI+-mense nie in die weermag vir hul land mag sterf nie, verstaan ek nie.

In vergaderings en gesprekke word soms daarop aangedring dat elke hy en sy nou ’n hulle moet word. Vir baie van ons klink dit skoon verspot. In die Grondwet se menseregtehandves het ons egter in 1996 reeds “hulle” (their) gebruik, om ter wille van bondigheid die omslagtige “sy of haar” (his or her) te vermy.

Ek noem graag almal soos hulle verkies en gee nie juis om hoe ek genoem word nie. (My vriende spel immers dikwels my voornaam verkeerd.)

Verwarring is egter moontlik. Toe ons ’n tyd gelede ’n queer professor na ’n taamlik formele ete uitnooi en hoor dat “they” aanvaar, was ons bekommerd. Daar was nog net een plek aan die tafel beskikbaar!

Mense moet hul seksuele identiteit en voorkeure kan uitleef – soos alle keuses en behoeftes, sonder om ander te benadeel. Kinders moet vroeg leer om besluite te neem. Of dit gesond is om kleintjies wat nog skaars besef dat hulle bestaan, aan te moedig om te kies of hulle meisietjies of seuntjies wil wees, weet ek nie.

Heelwat van die stories wat ons hoor, is egter fopnuus, geskep deur oneerlike haters wat voorgee dat hulle vir ’n goeie saak veg.

Polities korrekte taalgebruik het ’n rol om te speel. Dit maan ons om sensitief teenoor ons naastes te wees en haatspraak te vermy.

’n Kultuur waarin diegene met mag en getalle vrye denke versmoor, is egter dodelik vir vooruitgang. In sommige akademiese kringe mag bekende filosowe soos John Locke, Immanuel Kant en Georg Hegel nie meer aangehaal word nie omdat hulle dooie wit mans is. In dié opsig red Karl Marx ons ouens, darem. Hy was ’n wit man . . . en het nog op Hegel gebou ook!

Baie het gesmag na ’n held om die wêreld van woke te red. Kommandant Andries Pretorius en genl. Koos de la Rey was ’n bietjie te plaaslik. James Bond het ’n swart vrou geword. Wonder Woman is oulik, maar geen sterkman nie. Superman is te oud en die nuwe pous te jonk.

’n Ridder het egter verskyn en oorlog verklaar teen alles wat na woke lyk.

Daar is geskryf dat keelvolheid vir wokeness mense vir Donald Trump laat ondersteun. Ongelukkig is dit minstens gedeeltelik waar. Soos dit ’n sterk leier betaam, herstel hy summier – met talryke uitvoerende bevele – kragdadig die twee geslagte soos God hulle glo geskape het; en staak sommer oornag hulp aan siekes, armes en ander swakkelinge wêreldwyd.

Verskeie aspekte wek egter kommer. “Die waarheid sal jou vry maak,” het Jesus luidens Johannes 8:32 gesê. Kan ’n mens ’n oënskynlik psigopatiese leuenaar met jou kinders se veiligheid vertrou?

Om die waarheid af te skaf, was ’n presidensiële dekreet nie eens vir Trump nodig nie.

Ná die Eerste Wêreldoorlog was Duitsland diep in die skuld. Ander lande het hulle uitgebuit, is geglo. Miljoene Duitsers was verneder, werkloos en woedend. Adolf Hitler moes Duitsland weer groots maak.

Die Nazi’s was ’n nuttige werktuig. Daarna sou van hulle ontslae geraak word, het intellektueel gesofistikeerdes geglo. Dit sien ons in die wonderlike verhoogstuk en rolprent Cabaret.

Wat toe met die land van Bach, Beethoven en Goethe gebeur het, verstom ons steeds.

Op soek na leefruimte (“Lebensraum”) is lande platgeloop en ingepalm. Trump wil Kanada hê omdat die kaart van Noord-Amerika vir hom as “kunstige” mens dan mooier sal lyk. Groenland sal hy dalk met militêre mag vat. Hitler het hoeka reeds klein Denemarke oorweldig.

Die Duitse grondwet is vernietig. Nazi-regters se ampseed het ingesluit dat hulle reg sou spreek soos wat die “Führer” sou doen.

Trump “weet nie” of hy die Grondwet sal bewaar nie, al het hy in sy ampseed so belowe. Met regters baklei hy gereeld. Hofbevele word verontagsaam.

Trump is nie soos Hitler ’n massamoordenaar van miljoene nie. Hoeveel mense weens sy opskorting van hulp en tariewe ’n hongerdood sal sterf, sien ons dalk later.

Hitler was ’n magsbehepte narsis, soos Trump. Hy het egter ’n ideologie en ideaal nagestreef. Pervers en boos soos dit was, het hy geglo dat dit Duitsland se bestemming was. In die tronk het hy ’n boek oor sy stryd (Mein Kampf) geskryf – nie oor sy vermoë om “deals” te maak nie. Het Trump ’n saak of ideologie, of slegs ’n onversadigbare aptyt vir publisiteit en bewondering? Is hy in dié opsig sieker as Hitler?

Die Nazi’s het boeke verbrand en kritiese denkers na konsentrasiekampe gestuur of vermoor. Amerika was lank die baken van spraakvryheid. Nou beloof Trump dat hy spraakvryheid sal herstel! Visepres. JD Vance en Mike Johnson, speaker, juig hom staande toe. Met sy eie kansellasiekultuur debatteer hy nie kritiek nie; vanuit sy goue kokon van mag beswadder en verneder hy eerder.

In die geniale Woody Allen se rolprent Bananas uit 1971 bevind die hoofkarakter (vertolk deur Allen) hom per abuis midde-in ’n revolusie in ’n Suid-Amerikaanse piesangrepubliek. Hy word die nuwe diktator. In sy eerste toespraak sê hy: “Van vandag af is daar spraakvryheid vir almal . . . en van môre af is die amptelike taal Sweeds!”

Johann van der Westhuizen is ’n voormalige regter van die konstitusionele hof.

weekliks@rapport.co.za

Kommentaar

xxx

1 thought on “Waarom is ‘woke’ ’n vloekwoord? Dis mos goed om onreg te beveg, sê oudregter”

  1. Ek lees onlangs die volgende uittreksel wat na bewering (aldus die “Altered or synthetic content” voorbehoud van die YouTube-kanaal, “Macro Minds”), deur Thomas Sowell geuiter is. Hy spreek aan die geweldige eensydigheid van ‘n ideologie – en aggressiewe vooroordeel (of “BIAS” in Engels), wat verkondig almal behoort “ingesluit” te word in hul definisie van ‘n demokratiese samelewing, maar dikwels dit juis nie doen nie. “We need to let children be whatever they want to be.” “What if they want to be conservative?” “Not that.” And there it is. The quiet part said out loud. The so-called ideology of tolerance collapses the moment it’s tested with dissent. We are not dealing with a movement that promotes freedom. We are dealing with a movement that tolerates only one kind of freedom—freedom to conform. This isn’t about compassion. This isn’t about inclusion. This is about control. And behind the bright slogans and rainbow stickers, is a rot that [proclaims it] is intellectual, cultural, and ultimately, moral…….the most dangerous liberal ideologies—[is] each dressed in noble language, each engineered to erode the foundations of a functional society….any serious mind knows. that real destruction doesn’t arrive all at once. It unfolds, ideology by ideology, lie by lie…”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui