Brief | Om kos uit te deel maak nie van jou ’n ware Christen-kerk

*******

Brief | Om kos uit te deel maak nie van jou ’n ware Christen-kerk | Rapport

Sondag, 18 Mei 2025

Johannes de Villiers, Durbanville, skryf:

Ds. Maartje van der Westhuizen wil ons oortuig dat die NG Kerk méér is as eindelose teologiese geskille.

Ironies genoeg lê juis dáárin die probleem. Dit is nie die stryd om leer wat die Kerk bedreig nie, maar die verlies aan leer. Wanneer leer nie meer absoluut is nie, word waarheid onderhandelbaar. En waar waarheid onderhandelbaar word, verdwyn die Evangelie.

Die gereformeerde tradisie bestaan nie omdat mense daarvan hou om te redeneer nie.

Dit bestaan omdat God gepraat het – finaal, duidelik, onveranderlik.

Die Woord van God is nie ’n uitnodiging tot dialoog nie. Dit is ’n bevel tot gehoorsaamheid. Waar hierdie gesag nou vervang word deur sogenaamde pastorale ruimte, tree ons nie ’n nuwe seisoen van genade binne nie – ons tree die oordeel van God binne.

Want laat ons dit duidelik stel: ’n Kerk wat die sonde nie meer sonde noem nie, wat selfdegeslagverhoudings vier en vroue in gesagsampte plaas sonder Bybelse gronde, het nie liturgies vernuwe nie – sy het Skrif geskend.

Hierdie is nie bloot verskillende “benaderings” nie. Dit is ander evangelies. En ander evangelies is volgens Paulus vervloek (Gal. 1:6–9).

Daar is nie twee “soorte Gereformeerdheid” nie – een vir vrede, een vir waarheid. Gereformeerdheid bestaan slegs waar die Woord regeer. Nie kultuur, nie sinode, nie “diversiteit van denke” nie – die Woord alléén. En daardie Woord is duidelik oor die aard van die mens, die skeppingsorde, die amp van die leraar en die verlossing van sondaars.

Maartje spreek van lidmate wat “nie verskeidenheid van denke kan verdra nie”. Maar die Kerk is nie geroep tot verdraagsaamheid teenoor dwaling nie – sy is geroep tot die handhawing van waarheid.

Waar daar geen verdraagsaamheid teenoor sonde is nie, word daar nie ongenadig opgetree nie – daar word heilig geleef. Ware eenheid word nie gebou op verskeidenheid van opinies nie, maar op eenheid van belydenis.

Die sogenaamde hartklop wat sy beskryf – van kosgee en sorg en diens – is prysenswaardig, maar dit is nie wat ’n kerk Kerk maak nie.

Dié dinge kom ook in tempels, moskees en selfs humanistiese organisasies voor. Wat die ware Kerk onderskei, is dat sy die suiwer leer van die Evangelie handhaaf en die sakramente reg bedien.

Sonder hierdie kenmerke is sy nie meer Kerk nie, hoe aktief of betrokke sy ook al is.

Die pynlike werklikheid is dat die NGK al hoe minder herderlike sorg verleen en al hoe meer soos ’n organisatoriese netwerk funksioneer.

Haar belydenisskrifte is in die rak, haar Skrifverklaring word hermeneuties gerelativeer, haar oordeel oor sonde is stil en haar prediking word moreel of terapeuties.

Wanneer sinodes as selfregerende liggame begin optree – en nie meer as dienaars van die Woord nie – het ons nie net ’n kerklike probleem nie. Ons het ’n geestelike katastrofe.

Daar is ’n ontnugterde groep gelowiges wat nog vra: “Waarheen nou?” Die antwoord is nie in afsplitsing om politieke redes nie, maar in reformasie om Bybelse redes. As die NGK nie terugkeer na die een Woord van God nie – en nie net ’n verskeidenheid van menings nie – het haar lamp reeds uitgegaan (Op. 2:5).

’n Kerk wat die waarheid versaak, het reeds God se oordeel oor haar. En so ’n kerk moet nie gevlei word met mooi stories van diens en betrokkenheid nie – sy moet geroep word tot bekering, soos Israel van ouds.

Daarom sê ek saam met Luther: “My gewete is gebonde aan die Woord van God. Hier staan ek. Ek kan nie anders nie.”

briewe@rapport.co.za

1 thought on “Brief | Om kos uit te deel maak nie van jou ’n ware Christen-kerk”

  1. Jy is heeltemal reg, die gewone kerkganger will nie eers praat oor die Kerk of hulle Godsdiens nie, wat nog van dink, en moenie praat oor redeneer wat reg of verkeerd is nie. Hulle volg maar die gewoonte om elke Sondag maar kerk toe te gaan , net daar te sit en luister na dieselfde storie en dan kopskuddend saamstem met wat Ou Dominee sê wat 20 jaar gelede in die kweekskool was. Niks moet tog verander nie want dan moet ons begin dink en dan is die duiwel los. Dankie tog daar is ‘n paar mense wat dink aan die honger kinders en met liefde die kospakkies gaan uitdeel in opdrag van die Woord van God.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui