Christina Landman: Gaan ’n vrou uiteindelik die pous word?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Christina Landman: Gaan ’n vrou uiteindelik die pous word? | Netwerk24

Christina Landman

14 Mei 2025

Ek vra vir auntie Bettie of sy van die nuwe pous hou.

“Wie is die pous nou weer?” vra sy.

“Hy is die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk,” sê ek.

“Maar is dit nie hulle wat vir Jesus gekruisig het nie?” vra sy.

“Nee, auntie, dis die Romeine.”

“O ja, ek onthou nou. Die nuwe pous. Hy is Amerikaans. Van daai Tromp-ou nou regeer, is als Amerikaans,” sê auntie Bettie, “maar verder weet ek nie van die pous nie.”

Ek pols nog ’n paar mense oor die pous. Die pous skeel hulle nie. Of hulle dink dis hul plig om nie sy sake te volg nie. Hulle is nie van die pous se mense nie. “Jy moet liewers daar by die Rooms-Katolieke kerk daar oorkant gaan vra oor die pous, Dominee. Maar jy moenie dat ons mense jou daar sien nie,” sê een.

Nou, ons is as kinders grootgemaak om nie erg oor die pous te wees nie. Ons ouers was streng gereformeerd. Tog is daar 3,8 miljoen Rooms-Katolieke in Suid-Afrika. Is dit nie ’n goeie 6% van die bevolking nie? Die Rooms-Katolieke Kerk is die enigste hoofstroomkerk in die land wat groei – teen omtrent 5% per jaar. En veral in die rondom-stedelike gebiede, wat ons voorheen townships genoem het. Dit is nie net omrede hulle baie gemeenskapswerk doen, soos kospakkies voorsien en hospiese bedryf, nie. Hulle voer lieflike rituele uit in goedgeboude kerke.

Inderdaad, toe mense bewus geword het daarvan dat MIV ’n groot gemeenskapsprobleem is, kon ons in ’n groot (toe) swart woonbuurt rondom-Pretoria net twee kerke kry met MIV-programme: die Rooms-Katolieke Kerk en die Doppers.

Tog interessant dat dit juis dié twee kerke is wat nie vroue as geestelike leiers wil hê nie. Al is hierdie kerke werklik gemeenskapsbewus.

Jare gelede het ek ’n dag deurgebring met ’n Dominikaanse suster in die buitewyke van Nairobi, Kenia. In ’n karretjie waarvan die enjin bloedstollend gewroeg het op die grondpad, het sy in ’n dorpie die siekes gaan besoek. By ’n mark het sy aartappels gekoop vir die vlugtelingkamp en die prys behendig afgestry. By die hospitaal het sy ’n uitvoerende vergadering bygewoon en klasse by die laer- en hoërskool gegee. Al dié instellings is deur haar kerk bedryf; en by almal sit sy in die bestuur. Ná nog ses of sewe stoppe om behoeftiges te versorg, het ons betyds vir die aangebede aangekom.

Hoekom kan so ’n vrou nie ’n geestelike leier in haar kerk wees nie? wonder ek steeds.

Ons het gewonder of die nuwe pous wit of swart gaan wees. Ons het vergeet om te wonder of hy Amerikaans gaan wees, maar ons is gou daaraan herinner. Ons het nie gewonder of dit ’n vrou sou wees nie, want ons het geweet dis onmoontlik. En dit gaan nog lank só bly.

Daar is mooi profesieë vir die nuwe pous. Dat hy die misbruik van seuntjies in die kerk sal aanpak. Dat hy sal uitreik na die armes met die blootstelling wat hy in Peru gehad het. Niemand voorspel dat hy die ordening van vroue sal hanteer nie. Pous Franciskus het eenvoudig gesê: Ordening is vir vroue gesluit. Punt. Pous Leo XIV gaan dit nie probeer verander nie.

Is vroue se reg om formeel geestelike leiers te word, dan nie deel van die sosiale verandering waarna die nuwe pous streef nie? Vra maar net.

• Landman is ’n professor in teologie verbonde aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui