Wynand Louw

Kyk ook:

17 September 1964 – 21 Januarie 2021

Wynand Louw was ’n oor-neus-en-keel-chirurg in Kaapstad en ’n groot kampvegter vir die waarheid.

Sy webblad is www.hierstaanek.com.

Hy het onder andere Ben du Toit in 2013 by sy ring aangekla omdat hy sy legitimasie-eed verbreek deur te glo dat die duiwel nie bestaan nie. Die NGK het egter amptelik besluit dat daar ruimte gemaak word vir lidmate wat so glo. Vir meer oor hierdie kwessie, kyk Korrespondensie met dr Ben du Toit en Die uitkoms van die dwaalleer tug ondersoek teen Dr Ben du Toit.

Kyk ook

***********

Die volgende huldeblyk is voorgelees op Wynand se begrafnis deur sy broer, Attie.

Huldeblyk aan my broer Wynand Louw

Ek lees die volgende berig deur NB Uitgewers aangaande Wynand se heengaan:

Ons is hartseer om te verneem van die heengaan van die skrywer Wynand Louw wat as neus-, oor- en keelspesialis gepraktiseer het in Kaapstad. Sy debuut-kinderboek, Mr Humperdinck’s wonderful whatsit, het in 2004 by Human & Rousseau verskyn. In 2005 ontvang hy die M.E.R.-prys vir kinderliteratuur vir Mr Humperdinck’s wonderful whatsit. In 2009 verskyn die Afrikaanse vertaling, Mnr. Humperdinck se wonderlike watsenaam, by Human & Rousseau.

Simone Hough, Uitgewer: Kinder & Jeug, sê: “Wynand Louw was ‘n besonderse skrywer om mee saam te werk. Sy verhale was wonderlik kreatief en vindingryk en hy het ’n merkwaardige fantasiewêreld geskep wat jong lesers vir baie jare vermaak het. Sy verbeeldingrykheid het nie verniet gesorg dat hy as Suid-Afrika se eie J.K. Rowling beskryf is nie. Dit is vir ons baie hartseer dat so ’n unieke stem nou stil is.”

Wynand was inderdaad in alle opsigte ʼn merkwaardige mens. So vertel ek hom verlede jaar dat ek ʼn vertaling van die Franse gedig van Baudelaire, nl. “Les Fleur du Mal” of te wel “Die blomme van die Kwaad” gelees het. Hy het net daar die gedig net so in die oorspronklike Frans uit sy kop uit begin resiteer.

Hier is ʼn aanhaling vanuit sy boek Mr Humperdinck’s Wonderfull Whatsit:

“People say that seeing is believing. They have it wrong. Believing is seeing, ” stated Percival.

Jy moet glo om te kan sien. As jy nie glo nie, sien jy nie wat jou oë sien nie. Kom ons kyk hoe Wynand dit gestel het:

“What’s the sight?” he (Pete) asked. “Humans are very stupid beings. They seldom believe their eyes,” replied Sir Percival. “I could change one of them into a pig right before the others’ eyes, and they would say that it was a trick. They wouldn’t believe it. I’ve seen a human staring at a fairy, saying, ‘Oh look, that little flower’s just like a fairy!’ and she still didn’t believe what her eyes told her: that it really was a fairy. But there are some humans who do believe their eyes, and they do see the fairies.” “So if I have the sight it means that I believe my eyes.” Pete was beginning to understand a lot of things that had puzzled him.

Wynand het die sig of te wel die hemelse lig gehad. Dit is om betower te word deur die skoonheid en goedheid van dinge in die werklikheid, wat hulle beurt bloot ʼn weerkaatsing is van God hemelse lig.

Dit is hierdie betowering wat die werklikheid omtower in feë verhale en mites wat aan ons die diepte van hierdie skoonheid en goedheid na die oppervlakte bring. Dit is presies wat Wynand in sy verhale na vore gebring het. Die Woord van God was nie net die lig van sy lewe nie, dit was die fontein daarvan. Soos die Psalmdigter dit stel:

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. (Ps 36: 10)

Wynand het sy foute gehad. Hy was egter duidelik deurlopend altyd bewus van God se genade en reddende krag in sy lewe. Hy was ook geensins skaam om dit deurlopend te bely nie.

Hy het ʼn baie groot liefde vir die Gereformeerde geloof gehad en kon ure daaroor praat en debat voer, ook met my. Sy kennis van die Bybel was verstommend.

Ons kan lank praat oor sy prestasies en wat hy bereik het, nie net op mediese gebied of literêre gebied nie. Die hoogtepunt in sy lewe, dink ek, was sy stryd teen die Algemene Sinode van die NG Kerk sedert 2011. Die sinode het in daardie jaar bepaalde ketterse en onBybelse besluite geneem wat Wynand genoop het om die strydbyl op te neem.

Alhoewel hy heelwat aandag met sy blog Hier staan ek getrek het, het hy, behalwe vir ondersteuning van twee afgetrede predikante, geen ondersteuning vanuit die NG Kerk self ontvang het nie. Hy is verkleineer en geïsoleer, ook vanuit die geledere van sy eie gemeente. Tog het hy met moed vas gestaan soos die martelare van ouds. Later was hy genoop om die NG Kerk te verlaat en by die Presbiteriaanse Kerk aan te sluit.

Ek glo dat Wynand eendag met die Oordeelsdag as een van die heiliges om God se troon teenwoordig sal wees. Hy was nie bang vir die dood nie en ek glo dat hy eerder daarna met verwagting uitgesien het.

Ek verskil met NB Uitgewers se kompliment dat Wynand as Suid Afrika se eie JK Rowling beskryf kan word. Hy was baie meer as dit. Wynand was uniek. Hy was Wynand Louw, pa, geneesheer, skrywer en teoloog, formidabel in elkeen van die gebiede. Hy het, ten spyte van sy foute, die lewe en die werklikheid in God se hemelse lig gesien. JK Rowling se Hogwarts staan hierteenoor, ten spyte van die skyn van ʼn ou wêreldse glans en glorie, afgeëts teen die duisternis en afgrondelikheid van die hel.

Ons mis jou my broer. Maar ek weet deur God se hemelse lig dat ons mekaar weer in God se hemelse saligheid sal sien.

Attie

1 thought on “Wynand Louw”

  1. Besonderse kommentaar deur sy broer: Die hoogtepunt van sy lewe was sy Stryd teen die Algemene Sinode van die NGK sedert 2011!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui