Waarom gebeur dit?

Kyk ook:

Op Vrydag 1 Februarie 2019 het ’n beton loopbrug ineengestort by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark (kyk Driehoek-ramp skud Vaal). Vier kinders het in die proses gesterf.

Na aanleiding hiervan het iemand die volgende op Facebook geplaas.

Waarom gebeur dit?

Op die Hoërskool Driehoek het iemand nou hierdie geplaas.

Na aanleiding van ’n posstuk wat ek op ons blad gelees het wil ek graag die dame se vraag beantwoord.

Sy wou weet waarom so ’n tragedie gebeur het. En in alle eerlikheid weet ons dat daar sekere dinge is wat ons nie kan verklaar nie. Selfs die Woord sê daar is dinge wat ons nie nou weet nie.

Ek wil egter iets met julle deel wat dalk meer duidelikheid sal gee.

Jare terug moes my man ’n begrafnis doen van ’n paar weke oue babatjie. Hy het ’n hele week geworstel oor wat hy vir almal moes sê. Hoe kon hy hulle bemoedig as hy self wonder? En die aand voor die begrafnis toe praat die Here met hom. En daardie dag het die boodskap werklik ’n geweldige impak gemaak.

Hy vra toe vir die gemeente die vraag: Waarom, waarom? Dit was die enigste vraag wat almal gevra het. Waarom het die mamma hierdie dogtertjie nege maande gedra om haar net ’n paar dae na geboorte te verloor?

Wat was die doel van hierdie dogtertjie se lewe?

Wat was die nut van haar kortstondige lewetjie?

En toe sê hy:

Kyk vanoggend om julle rond. Mense wat in geen jare gebid het nie, het werklik die afgelope week op hulle knieë neergesak en gebid.

Familielede wat vir mekaar kwaad was en jare nie met mekaar gepraat het nie, het arms om mekaar geslaan en saam gehuil.

Mense wat jy as vyande beskou het, het bakke en bakke kos aangedra.

Mense wat jy as onbekendes beskou het, het skielik geliefde vriende geword wat alles gegee het wat jy nodig het.

Geharde sondaars het God aangeroep.

Hierdie dogtertjie se doel om gebore te word was om mense bymekaar uit te bring. Om gebroke verhoudings te herstel. Haar werk op aarde was voltooi en God het haar self kom haal. Sy het meer vir God gedoen in haar kort lewetjie as wat baie van ons in ’n volle leeftyd doen.

Ek sê vandag vir julle almal wat so diep geraak is deur Vrydag se tragedie, dieselfde: Kyk om jou rond. Hierdie tragedie het gebeur sodat mense verenig kon word. Swart en wit het saam gebid. Alle rasse het boodskappe gestuur. Die gemeenskap is saam gebind. Mense het ongelooflik na mekaar uitgereik. Hulp is aangebied.

Dan sê ek vir julle, die Here het hierdie vreeslike tragedie in ’n groot getuienis omskep. Hierdie kinders het nie net hulle skool en gemeenskap saam gebind nie. Hulle het die hele land teruggeruk na samesyn. Hulle het ons oë oopgemaak dat ons almal om ons sien as mense wat almal deur God geskape is.

Hulle was nie net gewone skoolkinders nie. Hulle het ’n hoër roeping gehad.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui