Voorlegging aan die kuratorium van die Vrystaatse Sinode

Kyk ook:

Ek het beskywingspunte by die Sinode van die Vrystaat in 2017 ingedien wat betrekking het op teologiese opleiding. Na aanleiding daarvan het die Sinode besluit om my na die Dagbestuur van die Kuratorium uit te nooi om bewys te lewer van my standpunte.

Op 20 Februarie 2018 het ek toe die geleentheid gekry om lede van die Kuratorium te ontmoet waar ek ’n voorlegging gemaak het. My voorlegging wat hieronder op Glodiebybel.co.za verskyn is ’n voortsetting van standpunte en argumente wat ek reeds tevore aan die Kuratorium en die Moderamen gestuur het en wat ook op Glodiebybel.co.za verskyn.

Die gesprek het in goeie trou en in ’n gesindheid van wedersydse respek plaasgevind. Die lede van die kuratorium het meer as twee ure beskikbaar gestel om my te woord te staan.

Ek wil veral my waardering uitspreek teenoor Jan Lubbe die voorsitter van die Kuratorium wat my gelyk gegee het op sommige punte wat ek te berde gebring het. Hy het my egter ook daarop gewys dat een van my bekommernisse nie heeltemaal water dra nie. Dit is nl dat die bestudering van ander godsdienste in die Dept Religie nie werklik 25% van die teologiese studente se studie behels nie.

Die skriba Johann Kemp, wat met my oor die gespreksgeleentheid gekommunikeer het, het my vriendelik behandel en ek wil graag melding maak daarvan.

Die ander lede van die kuratorium wat my aangehoor het, was Deon Serfontein, eksaminator OT, Riaan Stander, eksaminator NT, Johan Nel, Bestuurder van die Seminarium en Bertus Cilliers, ’n lid van die kuratorium.

Aan die einde van die dag het ek tot die konklusie gekom dat die meeste lede van die vergadering nie dieselfde erns as ek belewe oor die teologiese afwykings in ons kerk nie. Die kuratorium het aangebied om ’n gesprek te reël tussen my en die betrokke teoloë, maar ek het dit van die hand gewys. Ek voel egter dat ek as fluitjieblaser opgetree het en dat ek daarmee my plig as leraar van die kerk gedoen het.

Om na die voorlegging te luister, klier HIER.

**************

VOORLEGGING AAN DIE KURATORIUM VAN DIE VRYSTAATSE SINODE

20 Februarie 2018

JD Louw

Jes 24:16 Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.

Die Kuratoria het waarskynlik een van die heel belangrikste verantwoordelikhede in die kerk. Daarom ag ek my bevoorreg om hier teenwoordig te kan wees en dat u bereid is om my aan te hoor.

U is aangestel as kurators wat moet toesig hou oor die leer van die kerk. In die gemeentes moet die ouderlinge toesig hou oor die leer van die leraar. Die kuratorium moet toesig hou oor die leer van die hoogleraars. As dinge hier verkeerd gaan suurdeeg dit deur na die hele kerk en dit het langtermyn gevolge.

1. GOD SE BELEGGING IN DIE NG KERK.

1.1 Jan van Riebeeck

Die Here het baie belê in die NG Kerk. Dit was nie toevallig dat dit juis die Hollanders met hulle Statebybel was, wat in 1652 ’n verversingspos aan die Kaap begin het nie. Die NG Kerk is in Nederland gewortel. Die Hollandse samelewing was destyds deurdrenk van die Gereformeerde godsdiens, soos die Spanjaarde en die Portugese weer opgegaan het in die geloof van die Roomse Kerk.

Maria de la Quellerie, die eggenote van Jan van Riebeeck, se vader was ’n Hugenote predikant in Nederland. Op die dag toe Jan van Riebeeck hier voet aan wal gesit het, het hy ’n gebed gedoen met die volgende woorde:

Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer.

In 1688 is die Kaapse inwoners se getalle versterk met die koms van die Franse Hugenote. Hulle was mense wat ter wille van hulle geloof in die Bybel, vervolg is in Frankryk, en in die Kaap en elders in die wêreld ’n nuwe heenkome gesoek het.

Die Britse setlaars wat in 1820 na die Oos-Kaap gekom het was godvresende mense wat veral uit die Metodiste kringe gekom het. Toe dit blyk dat die Hollandse gemeentes ’n behoefte aan leraars gehad het, is leraars uit Engeland deur Lord Somerset ingevoer. Die meeste van hierdie leraars was van Presbiteriaanse oorsprong uit die puriteinse Skotland.

1.2 Liberale teologie afgeweer

Sommige jongmanne aan die Kaap het in Nederland gaan studeer om opleiding as leraars te kry. Dit was ’n tyd toe teologiese liberalisme sterk opgang in Nederland gemaak het. Hierdie Hollandse leraars het die liberale teologie waarin hulle opgelei is na SA saamgebring.

By die NG Kerk se Sinode van 1862 aan die Kaap is die 34-jarige Andrew Murray as moderator gekies. Hy is daar gekonfronteer met die dwaalleer van sommige van die leraars wat in Nederland gestudeer het. Ds JJ Kotzé van Darling het gesê hy aanvaar nie die bewoording in Vraag 60 in die Kategismus “dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is” nie. Na ’n lang gesprek is besluit dat ds. Kotzé “onwaardig” is om sy amp as leraar te beklee.

Daar is ook ’n klagte aangehoor aangaande ds. TF Burgers van Hanover . Ds. Burgers is skuldig bevind aan “loëning van die persoonlike bestaan van die duiwel asook van die onsondigheid van die menslike natuur van Christus”.

Die Sinode het bevind dat dié leraars, “hulle skuldig gemaak het aan dwaling van die leer en dat hulle ontrou geword het aan hulle plegtige belofte wat hulle by hulle legitimasie aangegaan het”. Die leraars het hulle dadelik weens hulle skorsing tot die hof gewend. Die saak het uiteindelik by die sg. Geheime Raad van Brittanje gedraai, waar dr. Murray telkens die NG Kerk se saak op uitmuntende wyse, maar sonder sukses verdedig het. Die NG Kerk was verplig om met die onverkwiklike situasie in hulle midde saam te lewe. Die nuwe Teologiese Kweekskool het regsinnige leraars in die kerk begin beskikbaar stel en so is die bitter verdeeldheid in die kerk geleidelik besweer.

Dr Murray het hom voortdurend beywer vir die regsinnge leer in die Kerk met debatte en geskrifte oor “Die Moderne Ongeloof” en die “Die Moderne Teologie”. Hy was besorg daaroor dat die Kerk met onregsinnige leraars “gif” aan die lidmate voorsien. Sy gewete het hom gepla oor leraars wat “onrein van lewe en onsuiwer van leer welkom is, ja, deur die Kerk aan die gemeentes voorgestel word as geskik om hulle na die hemel te lei, as waardig om vertrou te word en aanspraak het om gehoorsaam te word”.

Dit was ’n baie moeilike tyd vir die NG Kerk. In die sekulêre pers is ook kant gekies vir die verskillende standpunte in die kerklike stryd.

Dr GBA Gerdener maak die volgende opmerkings oor daardie tyd:

Die ou terme van die regsinnige teologie is nog behou, maar ’n nuwe betekenis is daaraan gegee. …

Menings oor die persoon en werk van die Here Jesus Christus het uiteengeloop. Vir die liberaalgesindes was Jesus ’n goddelike mens, maar nie meer God self nie. Daar is smalend na die leer van die Versoening as “bloedteologie” verwys. …

Toe die aangeklaagde dominees deur die hof in hulle ampte herstel is, het daar juigkrete opgegaan deur die Liberales, dat die dag vir algehele leervryheid in die kerk aangebreek het. By die regsinniges het verslaentheid en ontsteltenis geheers. As die kerklike liggame dan magteloos is om leertug toe te pas, wat sou dan van die kerk word. …

’n Liberale maandblad met die naam De Onderzoeker is uitgegee onder redaksie van Leopold Marquard. Hy het in die eerste uitgawe gesê: Ons maak geen aanspraak op kerklike regsinnigheid nie. …

By die Anglikaanse kerk het daar ’n soortgelyke stryd in 1862 teen biskop J.W. Colenso van Natal ontstaan. Hy het die historiese betroubaarheid van die Pentateug bestry. Dit het tot ’n noodlottige skeuring in die Anglikaanse kerk gelei.

(Andrew Murray Versamelde Werke Deel 2)

1.3 Herlewing

Uit die kerklike verdeeldheid in daardie jare het ’n algemene behoefte om herlewing in die kerk gegroei, wat net aan die werking van die Heilige Gees toegeskryf kan word. In April 1860 het die NG Kerk ’n konferensie met herlewing as hooftema in Worcester gehou. 374 predikante en leke-predikers van verskei kerke het hierdie konferensie bygewoon. Daar was NG en Metodiste leraars by die konferensie, asook leiers van die Skotse Presbiteriaanse Kerk, die Wesleyaanse en Rhynse sendingorganisasies. Dr. Robertson, een van die sprekers by die konferensie, het later gesê dat die herlewing begin het die oomblik toe dr. Andrew Murray jnr. opgestaan het om te bid. Iets bonatuurliks en Goddeliks het op daardie spesifieke oomblik deurgebreek

So het die jaarlikse Pinksterbidure wat uniek aan die NG Kerk is ontstaan.

1.4 Vestiging van die Christendom in Suidelike Afrika

Toe die groot trek in 1836 begin het was die Statebybel in die wakiste van die Voortrekkers. Die Bybel was vir hulle ’n kosbare besit en het hulle deur die donker tye van die geskiedenis tot lering gedien.

Onder leiding van die Gees van die Here het ons voorgeslagte te midde van die rampspoedige Anglo-Boere Oorlog belangrike sendingaksies na Afrika onderneem. Hulle het uit hulle besittings geskenke vir die Here gegee waarmee sierlike kerkgeboue in elke dorp opgerig is. In die tye toe hulle verarm was na die oorlog het hulle, hulle kerkgeboue wat afgebrand was weer opgebou. In ons eie tyd waar lidmaattalle min geword het, kom ons agter dat dit vir ons mense ’n saak van eer is om hulle kerkgeboue steeds in stand te hou. Lidmate is steeds soos voorheen bereid om op kerkrade te dien sodat die Kerk van die Here in stand gehou kan word.

Die Here het van die room van die Christendom uit Europa na Suid-Afrika gebring om sy koninkryk hier te vestig. Mettertyd het die tyd aangebreek dat die Europiërs die “wet” of die ordelike bestel, waarvan Jan van Riebeeck gepraat het aan die mense van Afrika oorhandig het. In hierdie veelbewoë gange van die geskiedenis het die lidmate van die NG Kerk deurentyd ’n belangrike rol gespeel om die koninkryk van God in Afrika te help vestig.

1.5 Die sout het verslaan

In die volgende afdeling wil ek daarop wys hoedat die liberale teologie waarteen Andrew Murray en sy tydgenote so heftig standpunt ingeneem het weer besig is om die NG Kerk te oorspoel. Ons het geword soos die sout, waarvan die Here gepraat het, wat laf geword het. Ons lig het onder ’n maatemmer beland. Ons loop dieselfde pad as die Christendom in Europa. Europa het verval in agnostisisme en ateïsme. Dit is die uitkoms van die liberale teologie, waarin leraars geskool is en die Evangelie is so van sy krag gestroop.

Prof Ben Marais het vir ons studente in die klas gesê, Duitsland het ’n “fabriek van ketterye” geword. In die katkisasieboek waarmee ek grootgeword het, het daar gestaan dat die satan in die geskiedenis op twee maniere probeer het om die kerk van die Here te vernietig en dit is deur vervolging en deur dwaalleer. Dwaalleer het geblyk ’n meer suksesvolle wapen in die hand van satan te wees as vervolging.

Ons is besig om die vuur van die Heilige Gees, deur valse leringe uit te blus. Dit is waarteen ek nou wil waarsku.

2. ONTROUHEID AAN DIE HERE

In my vorige skrywes aan die Kuratorium en aan die Sinode[1], het ek reeds gewys op dwaalleer, wat openlik voor ons oë afspeel en deur die leierskap in die kerk geduld word. Die Teologiese Fakulteite is intens hierby betrokke:

2.1 Fakulteit Teologie oor Homoseksualiteit

Dit help nie dat ons dit vir mekaar wegsteek nie, maar daar loop ’n pad van verdeeldheid dwarsdeur die NG Kerk, oor die kwessie van homoseksualiteit. Dit het gebeur omdat daar ’n onwilligheid in die kerk is om onbeskaamd Bybels te dink en besluite volgens die Bybel te neem. Ons verkies om rond te dobber tussen die wisselende opinies van die sielkunde. Ons wil in pas bly met die postmoderne tydsgees. Intussen kyk die kinders van die Here na ons op om te hoor wat sê die Woord van die Here.

Prof Hermie van Zyl het by die opening van die Teologiese Fakulteit in Bloemfontein rondom 2002 oor seksualiteit gepraat en gesê[2]:

… Die vraag is net: wát is die wil van God oor homoseksualiteit?

… Die kern waarom die hele debat draai, is of homoseksualiteit in die lig van die Skrif beoordeel moet word as ’n vorm van seksualiteit wat téén die wil van God is, en of dit as ’n natuurlike, bloot alternatiewe, en daarom geoorloofde vorm van seksualiteit beskou moet word.

… Dit dien nie die saak om in ’n mens se pastorale bewoënheid oor die onbenydenswaardige posisie van veral Christen-homoseksuele, met allerlei kunsgrepe die Skrif te maak sê wat hy kennelik nie sê nie.

… Dit is opvallend dat nie een kommentaar van naam wat die afgelope kwarteeu verskyn het, probeer om Paulus se afwys van homoseksualiteit in Rom 1 te beperk tot die een of ander perverse vorm daarvan nie.…die feit bly staan dat onbevange eksegese uitgewys het dat daar in die teks van Rom 1 geen aanleiding daartoe is om te sê dat Paulus enigiets anders as ’n absolute en fundamentele uitspraak oor homoseksualiteit maak nie.

Dit wás die standpunt van prof van Zyl ’n dekade of wat gelede. Hy het intussen ’n verstommende ommekeer gemaak in sy uitleg van wat Paulus sê.

Hy skryf op 17 Augustus 2015 in die koerant[3], dat Paulus in Rom 1:26,27, seksuele uitspattigheid in gedagte gehad het en dat dit nie van toepassing gemaak kan word op hedendaagse Christen-gays nie. Kyk weer na sy uitsprake hierbo om te sien hoe ingrypend hy van standpunt verander het. Wat het nou geword van sy stelling: Dit is opvallend dat nie een kommentaar van naam wat die afgelope kwarteeu verskyn het, probeer om Paulus se afwys van homoseksualiteit in Rom 1 te beperk tot die een of ander perverse vorm daarvan nie. In 2015 sê prof van Zyl presies wat volgens hom nie een kommentaar van naam nog gedoen het nie!

Toe prof van Zyl in die briewekolomme daarop gewys is dat hy van standpunt verander het, het hy bloot gereageer deur te sê dat eksegese ’n dinamiese wetenskap is en dat hy die afgelope dekade bewus geword het dat dié tekste handel oor sondige homoseksuele gedrag en nie oor seksuele oriëntasie as sodanig nie!

Wat het in prof van Zyl se akademiese wêreld gebeur, dat hy so sito-sito van opinie verander en dit oor die uitleg van ’n teksgedeelte in die Bybel, wat in hierdie tyd van groot belang is vir die kerk? Prof van Zyl het met hierdie optrede nie net sy eie geloofwaardigheid nie maar ook die geloofwaardigheid van die Teologiese Fakulteit waarvan hy tot onlangs nog dekaan was, in gedrang gebring. Denkende lidmate begin die geleerde opinie van professore in die teologie, almeer met ’n knippie sout neem.

Ál ons teologiese fakulteite, was uiteindelik betrokke by die besluite van AS2015 oor homoseksuele verhoudings[4] – seker met dieselfde soort Skrifuitleg as prof van Zyl. Die kuratorium van die Vrystaat het sekerlik ook kennis geneem daarvan dat prof Fanie Snyman, voor AS2015 verklaar het, dat sover hy weet ál die dosente by Bloemfontein, die versoek ondersteun, naamlik dat studente in homoseksuele verhoudings, as leraars gelegitimeer moet word. Vir gewone Bybelgetroue lidmate is dit ’n ontstellende tendens.

2.2 Fakulteit Teologie oor die bestaan van die duiwel

Die NG Kerk het by AS2011, AS2013 en AS2015 besluite geneem wat daarop neerkom dat dit nie nodig is vir lidmate om in die bestaan van die duiwel as ’n persoon te glo nie.

Prof Thom voorheen van die Universiteit Fort Hare het in die debat gesê dat die NG Kerk met hierdie besluite ’n “historiese laagtepunt” bereik het.

Met al die beswaarskrifte[5] en debatte van daardie tyd, was daar nie een enkele dosent in die hele NG Kerk, wat die kerk te hulp kon kom nie. Niemand het leiding gegee tydens hierdie reuse aanslag van dwaling wat oor die kerk gekom het nie. Inteendeel prof Niemandt van Pretoria, het die besluite goedgepraat. Toe ek prof Snyman oor die saak getoets het, het hy met groot oortuiging vir my gesê dat ’n dosent se regsinnigheid nie gemeet moet word aan sy beskouing oor die bestaan van die duiwel nie, al dan nie.

Afgesien van die blatante minagting van die Bybelse boodskap het ons hier ook te doen met tipiese New Age misleiding wat in die kerk ingevoer word? In die Oosterse godsdienste funksioneer daar nie ’n persoonlike duiwel nie, net soos daar ook nie vir hulle ’n persoonlike God is nie! Prof Julian Müller het reeds ’n paar jaar gelede by Pretoria verklaar dat hy die panenteïstiese leer voorstaan. Dit is die leer wat neerkom daarop dat God nie ’n persoon is nie. ’n Panenteïs kan nie meer sê: “Die Here is my Herder” nie, want sy god is nie ’n persoon nie. ’n Onpersoonlike duiwel en ’n onpersoonlike god is twee kante van dieselfde munt.

2.3 Fakulteit Teologie oor die Bybel

Hier wil ek in meer besonderhede ingaan op die Skrifbeskouing van prof Fanie Snyman, soos wat hy dit in 2016 by die streekbyeenkomste in die Vrystaat aangebied het. Ek het die byeenkoms in Bethlehem bygewoon en het reeds ’n skrywe aan die kuratorium hieroor gerig.

Prof Snyman se invalshoek by die geleentheid, was om ’n verklaring te gee vir die rede waarom ons so baie oor die Bybel verskil. In werklikheid het hy ’n betoog gelewer vir die aanvaarding van die besluite van AS2015 oor homoseksualiteit. Sy invalshoek het meegebring dat dit nie vir hom nodig was om grondige eksegese en verantwoordelike hermeneutiek van die teksgedeeltes, wat handel oor homoseksualiteit aan te bied nie. Dit sou immers die voor die hand liggende benadering wees om vas te stel wat in die Bybel staan oor die onderwerp. Hy het verkies om te praat oor ’n Skrifbeskouing, wat volgens hom ruimte maak vir die aanvaarding van homoseksualiteit.

Sy betoog het op die volgende neergekom:

Diegene wat verskil met die AS2015 besluite, lees die Bybel verkeerd. Hy noem dit ’n Konfessioneel-Dogmatiese model van denke, ’n teoretiese model, wat hy nie ondersteun nie. Hy maak voorbrand vir ’n sg. ’n historiese lees van die Bybel.

Prof Snyman skets die mense wat die Bybel dan Konfessioneel-Dogmaties lees op die volgende wyse:

2.3.1 Mense wat soek na ewige waarhede in die Bybel

Elke gewone Bybelgelowige sal sekerlik regop sit by die aanhoor van bg. stelling. Is die Bybel dan nie ’n boek met ewige waarhede nie?

Mens dink dadelik aan Joh 3:16: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Die Bybel is vir ons die wegwyser na die “ewige lewe”. Die Bybel is vir Christene in dié sin ’n boek met ewige waarhede.

Daar is ook ’n ander sin waarin ons die woord “ewig” kan gebruik en dit is “geldend vir alle tye”. Wil Prof Snyman vir ons sê dat hy die Bybel nie sien as ’n boek met waarhede vir vir alle tye geldend is nie? Die wysheid in die boeke Spreuke en Prediker is tog sekerlik wyshede wat vir alle tye geldend is. Die Tien Gebooie gee altyd geldende waarhede wat God se wil vir ’n ordelike samelewing bekendmaak.

Prof Snyman se stelling is werklik so ver verwyderd van die gewone Christen se geloofsoortuigings en so inherent verkeerd, dat ek dit nie nodig ag om verder daaroor te argumenteer nie.

2.3.2 Mense wat uit is op die handhawing van die belydenisskrifte

Prof Snyman het nie nader toeligting gegee op hierdie stelling nie, maar ons moet aflei dat hy op ’n pad is waar hy voel dat hy deur die belydenisskrifte ingeperk word.

Die belydenisskrifte is bedoel om ons vriende te wees. Hulle is daargestel deur mense wat ons kan vergelyk met die “wolk van getuies”, waarvan die skrywer van die Hebreërbrief praat (Hebr 12:1). Wanneer ons in ons teologiese nadenke, op onseker paaie beland is dit belangrik om weer te gaan kyk hoe ons voorgangers in die geloof, hulle in die amptelike dokumente van die kerk oor ’n bepaalde saak uitgespreek het. Ons moet die belydenisskrifte sien as bakens wat onder leiding van die Heilige Gees vir die toekomstige geslagteopgerig is. Hulle is formuleringe van wat die kerk van Christus oor belangrike sake leer en het nie ligtelik tot stand gekom nie.

Die eerste belydenisskrif van die kerk is in Jerusalem geformuleer by ’n apostelvergadering, waar die kerk moes uitsluitsel kry oor die voortsetting van die besnydenis in die kerk, al dan nie. Die vergadering het ’n brief opgestel waarin hulle gesê het: “Die Heilige Gees en ons het besluit …..” (Hand 15:28). So het dit gekom dat die kerk besluit het dat die besnydenis nie deel van die Christelike leer is nie. Paulus het mense, wat in daardie tyd wou voortgaan om die besnydenis as deel van die kerklike leer te handhaaf heftig bestry soos blyk uit die boek Galasiërs.

Die kerk van die Here het ’n leer, of leerstellings. Die Griekse woord didaskalia kom 21 keer in die NT tevoorskyn. In Engels word dit vertaal met doctrine. Paulus waarsku teen mense wat afwyk van die gesonde leer (1 Tim 1:10 en hy roep Timoteus op om te bly by die goeie leer. Daar was destyds ook ouderlinge wat hulle toegelê het op die woord en die leer (1 Tim 5:17).

Afgesien daarvan kry ons ook die werkwoord om te leer (didasko), wat 97 keer in die NT voorkom. Jesus het die mense geleer en hy verwag van sy apostels om voort te gaan om die mense te leer (Mat 28:20). Lering is een van die genadegawes wat die Heilig Gees aan die kerk gee (Rom 12:7). Ons dosente staan vandag in die amp van lering in die kerk en word juis daarvoor gerespekteer.

Teen hierdie agtergrond is dit ’n onbegryplike stelling wat prof Snyman maak dat daar mense is wat die Bybel lees met die oog op die handhawing van die belydenisskrifte. Bybel, leer en belydenisskrifte is onlosmaaklik deel van mekaar. Dit is die manier waarop Christus sy kerk regeer.

2.3.3 Mense vir wie tekste belangrik is

Moet ons uit die stelling aflei dat prof Snyman negatief staan teenoor die feit dat mense tekste gebruik, om tot ’n kerklike standpunt te kom oor etiese sake soos bv. homoseksualiteit? In teologiese kringe word daar soms op neerhalende wyse gepraat van die ses “shooter texts” oor homoseksualiteit (Prof Julie Claassens)[6].

Dit is ’n vreemde verskysel wat nou in die kerk tevoorskyn kom. Een van my professore het ons geleer dat jy moet preek met jou vinger op die teks. Prediking bestaan uit uitleg en toepassing van ’n teks. Toe die boekrol van Jesaja vir Jesus gegee is het hy daaruit voorgelees en vir die mense gesê: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Luk 4:21). Paulus het vir die Jode gesê: “die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan” (Hand 17:3). Die boek Hebreërs is vol tekste waarmee die skrywer bevestig dat die priesterdiens van die OT in Christus vervul is.

2.3.4 Mense vir wie die Bybel ’n organiese eenheid is

Die Bybel bestaan uit 66 boeke, maar hierdie boeke vorm een groot legkaart. As een stukkie van ’n legkaart wegraak is die legkaart onvolledig. Jy kan ook niks byvoeg by ’n legkaart nie. Elke legkaart het sy eie legkaartstukkies.

So is dit met die Bybel. Die Bybel is ’n eenheid. Daar is ’n OT en ’n NT, maar die twee is van mekaar afhanklik. Jy kan vir iemand ’n NT of selfs ’n Evangelie present gee om sy belangstelling te prikkel, maar uiteindelik wil elke gelowige die hele Bybel hê.

Die Bybel is op ’n merkwaardige wyse wat niemand kan ontken nie, in totaliteit ’n skepping van die Gees. Daar is historiese boeke, profetiese boeke, wysheidliteratuur, briewe, ens, maar almal vat hande en bring een boodskap.

Paulus sê: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek (2 Tim 3:16).

Ons lees van die Gees heel aan die begin van die Bybel (Gen 1:2) en ons lees van die Gees in die laaste hoofstuk van die Bybel as daar staan: Die Gees en die bruid sê: “Kom!” (Op 22:17).

Tot hiertoe het ek die sg konfessionele lees van prof Snyman bespreek. Hiervandaan gaan ons dan nou oor na die model wat Prof Snyman voorstaan.

2.3.5 Die “historiese lees” as model van Bybellees

Prof Snyman vra dat ons die Bybel histories moet lees. Hy gebruik ook die term histories-literêr, wat die tradisionele bril is waarvolgens ons nog altyd vanuit gereformeerde hoek eksegese doen. Dit is egter duidelik dat dit vir prof Snyman en sy geesgenote doodgewoon gaan om ’n voortsetting van die ouhistoriese kritiek wat reeds uit die tyd van Rudolph Bultmann dateer.

Die historiese kritiek begin by ’n spanning wat tussen geloof en wetenskap beleef word.

2.3.5.1 Geloof en wetenskap

Daar is by baie teoloë ’n begeerte om te bewys dat hulle vakgebied as wetenskap beskou moet word. Hulle praat graag van teologiese wetenskap of Bybelwetenskap. Die Universiteit is immers ’n plek waar wetenskap beoefen word en daarom is dit vir dosente in die teologie ook belangrik dat hulle vakgebied by die Universiteit as wetenskap gesien moet word.

Die teoloog se probleem is dat sy bron, die Bybel, in die samelewing funksioneer as ’n “geloofsboek”. Die Bybel is die boek van ’n godsdiens, soortgelyk aan bv. die Koran van die Moslems. Wat maak ’n godsdiens met sy boek en sy geloof by ’n akademies/wetenskaplike inrigting? Dit het ’n aktuele probleem geword.

Dit is opvallend hoeveel keer daar die afgelope tyd in sinodale verslae geworstel is om geloof en wetenskap by mekaar uit te bring. By AS2015 is daar selfs ’n gespreksdokument uitgedeel met die tema: Ons Christelike geloof en die wetenskap.[7]

2.3.5.2 Die “wetenskap” het uiteindelik die laaste sê oor hoe ons die Bybel moet lees

Die Bybel is mos vol ongelooflike verhale waar wonderwerke ’n belangrike rol gespeel het. Vir die teoloog is dit ’n verleentheid in die wetenskaplike kringe waarin hy beweeg. ’n Ware wetenskaplike soek na natuurlike verklarings vir gebeure. Dit bring mee dat die teoloog in die versoeking is om natuurlike verklarings te soek vir wat in die Bybel as bo-natuurlike ingrypings van God beskryf word. Rudolph Bultmann het dit die ontmitologisering van die Bybelverhale genoem.

Terloops, die blote gedagte om “God” by die Universiteit in te sluit is vir die moderne teoloog alreeds ’n verleentheid. Die verwysing na “God” in die leuse van die UV is in 2011 verwyder. Die leuse van die UV is verander van: In Deo Sapientiae Lux (In God is die lig van wysheid) na: In Veritate Sapientiae Lux (In waarheid is die lig van wysheid). Die teologiese fakulteit het besluit om nie betrokke te raak by hierdie veelseggende gebeurtenis by hulle Universiteit nie.[8]

2.3.5.3 Bybelskrywers is nie betroubaar nie

In die teoloog se strewe om wetenskaplik aanvaarbaar te wees, is dit vir hom nodig om ’n weergawe van die Bybelse geskrifte aan te bied wat in pas is met die ander dissiplines by die universiteit. Nuwe terminologie soos antieke dokumente en antieke skrywers word gebesig. Daar word geredeneer dat die antieke skrywers se werk nie voldoen aan hedendaagse wetenskaplike standaarde nie. Hulle was premoderne mense en daarom word dit die taak van die Bybelwetenskaplike om met sy navorsing te probeer verklaar wat in werklikheid kon gebeur het.

Buitebybelse bronne en die argeologie het nuttige gereedskap geword vir die teoloog se vindingrykheid om die antieke verhale meer aanvaarbaar voor te stel.

Onder die dekmantel van historiese lees neem die teoloog vir hom die reg op om die geskiedenis soos dit in die Bybel aangebied word in twyfel te trek, te herskrywe en uiteindelik te vervals! Die teoloog vra dat ons die nalatenskap van die antieke skrywers sal ignoreer en dat ons sý weergawe van die verhaal moet oorweeg, omdat dit die wetenskaplike weergawe sou wees.

2.3.5.4 Voorbeelde van die sg historiese leesmetode

Lev 18:22: Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel (1953 vertaling).

Die historiese konteks van hierdie teks word aan die begin van die hoofstuk vasgelê:

Lev 18:1 Die Here het vir Moses gesê: 2 “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Ek is die Here julle God. 3 Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie.

  • Lev 18:22 is ’n direkte bepaling van die Here (Die Here het gesê …)
  • Moses is die boodskapper omdat die Here die voorskrif vir Moses gegee het.
  • Israel was op daardie tydstip in die woestyn. (Hulle kom uit Egipte en hulle is op pad na Kanaän)

Hierteenoor kry ons die volgende uitleg van Lev 18:22 in ’n verslag voor die Suid-Transvaalse Sinode (2001):

Dit gaan oor kultiese tempelprostitusie wat algemeen in die Kanaanitiese vrugbaarheidsrituele beoefen is. Die bedoeling is om te sê dat sulke seksuele dade, of dit nou homoseksueel of heteroseksueel is, nie tuis hoort in die erediens van Israel nie.

Let op hoe die inherente getuienis van die Bybel hier geïgnoreer word. Die konteks van die wetgewing volgens Lev 18:1 word stilswyend geminag, want die wetgewing het nie meer in die woestyntyd plaasgevind nie (trouens volgens hierdie denkwyses was daar waarskynlik nooit ’n woestydtyd soos dit in die Bybel geskets word nie). Die konteks word verplaas na ’n onbekende tyd in Kanaän. Per implikasie is dit nie Moses wat aan die woord is nie, maar priesters wat voorskrifte vir die volk gemaak het om hulle af te skans teen die godsdienstige gebruike van die omringende nasies. Die openbaringskarakter verval ook, m.a.w. dat God hierdie wette deur ’n openbaring aan Moses gegee het.

Dit is waarskynlik hierdie soort historiese lees, wat prof. Snyman in gedagte het waarmee hy vra dat ons sal ruimte maak vir die erkenning van homoseksuele verhoudinge. Voorstanders van die gay-strandpunt maak op hierdie manier hermeneutiese uitsprake, wat gebaseer is op ongeldige/oneerlike eksegese van die Skrif.

In die Nuwe Testamentiese wetenskap stel die “Jesusfiguur” groot uitdagings aan die teoloog om aan wetenskaplike standaarde te voldoen. Die mees treffende voorbeeldin SA is seker die boek van prof. Andries van Aarde van UP:Fatherless in Galilee, waarin hy voorgee dat Jesus waarskynlik ’n buite-egtelike kind van ’n vroom Joodse meisie was. Haar verleentheid het aanleiding gegee tot allerhande fantasieë, wat naderhand deel geword het van die vroeë kerk se “Jesusverhaal”. Jesus se volgelinge het mettertyd merkwaardige verhale rondom hom gebou – selfs dat hy uit die dood uit opgestaan en na die hemel opgevaar het!

2.3.5.5 Kry net die boodskap

Die rasionaal by hierdie Bybelwetenskaplikes is dat dit nie belangrik is om te probeer vasklem aan die historiese betroubaarheid van die Bybelverhale nie. Onbetroubare historiese inligting hoef nie jou geloof in gedrang te bring nie. Ons moet net soek na die boodskap wat die antieke skrywers vir ons wil oordra. Dit is uiteindelik ons hermeneutiese verantwoordelikheid.

’n Voorbeeld van hierdie denkwyse is te vinde in ’n artikel van prof Hermie van Zyl in die koerant waarin hy handel oor die maagdelike geboorte van Jesus (19 Desember 2017). Nadat hy (in my opinie) ’n klomp niksseggende vraagstukke rondom die maagdelike geboorte aan die lesers voorgehou het, sluit hy sy relaas af met die volgende woorde:

Ons moet ons dus nie blind staar teen die “onmoontlikheid” van die maagdelike ontvangenis van Jesus nie, maar eerder oog kry vir die bedoeling daarvan (my onderstreping): Dis ’n belydenis van die nuwe begin wat God met die mensdom gemaak het, van God wat Mens geword het. Dís wat Kersfees sê.

Dit lyk of prof van Zyl hiermee vir ons wil sê dat dit onbelangrik is of die weergawe van die Bybelskrywers waar of vals is. Selfs as die storie gefabriseer is, bring dit nie die integriteit van die boodskap in gedrang nie. Ons moet net vanuit ons (superieure) posisie as Bybelwetenskaplikes, die Bybelskrywers se premoderne bedoeling snap. Wie gaan ons oortuig met so ’n Evangelie: “Kry net die boodskap en behou julle geloof!”

2.3.6 Teologiese fakulteit se huwelik met Religie

Die teologiese fakulteit UV se naam het nou verander van “Fakulteit Teologie” na “Fakulteit Teologie en Religie”[9].

Dit moet gesien word as ’n beduidende koerswysiging t.o.v. die kurrikulum by die UV. Die vorige ses departemente het verminder na vier en een van die departemente word genoem Religiekunde. Beteken dit dat religie (die bestudering van godsdiens en godsdienste) in die toekoms 25% van ’n teologiese student se aandag gaan vra?

Prof Snyman het in ’n koerantberig op 3 Sept 2017 die volgende inligting gegee[10]:

This change signals openness in approach to other religions, in addition to those of Christian denominations. This is a development that took root in Europe a few years ago. Furthermore, a growing field of interest is the study of the impact religion has had and still has, even in highly secularised societies.

Wat bedoel prof Snyman met die woorde openness in approach to other religions?

Sien ons mense van ander godsdienste nou as medegelowiges? Is ons almal maar kinders van een Vader? Is alle godsdienste historiese soekontwerpe na God? (Prof Hermie van Zyl)

Net soos in die kwessie oor homoseksualiteit is daar maar net een plek, waar ons vir onsself duidelikheid kan kry en dit is die Bybel. Wat leer ons in die Bybel oor ander godsdienste?[11] ’n Paar teksgedeeltes oor die onderwerp sê dit alles:

Deut 6:4 Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. (Mark 12:29)

Eks 20:3 Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Rom 1:20 Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is ….. 23 In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange. …. 25 Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.

2 Kor 6:14 Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? 15 Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ’n ongelowige? 16 Hoe kan ’n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” 17 Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem, 18 en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.

1 Kor 10:19 Wat wil ek hiermee sê? Dat ’n afgodsoffer of ’n afgod enige betekenis het? 20 Nee, maar dat dié wat aan hulle offer, aan bose geeste offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê julle moet met bose geeste gemeenskap hou nie.

Open 22:14 Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15 Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.

2.3.7 ’n Seminarium

Dit is duidelik dat daar met hierdie projek groot moeite gedoen word om ons teologiese studente veral emosioneel en leerstelling by te staan en toe te rus. Dit is gerusstellend en verdien waardering.

Die Seminarium gaan ongelukkig nie die onderliggende teologiese afdwalings aanspreek waaroor dit vir my in hierdie voorlegging gaan nie. Die Seminarium behels ’n paar uur per week. Die grootste deel van die studente se teologiese vorming geskied steeds by die Teologiese Fakulteit.

Ek het in my voorlegging maar net gereageer op openbare uitlatings van twee dekane van die Fakulteit Teologie by die UV. Dit is nie bekend wat daar alles in die geslote ruimtes van die klaskamers gepraat word nie, maar prof Julie Claassens van Stellenbosch bevestig my besorgdheid as sy in die Kerkbode skryf: Ek en my kollegas by die drie teologiese fakulteite probeer almal op ons eie manier iets van hierdie verantwoordelike hermeneutiek by ons studente kweek wat streef daarna om die Bybel op ’n ander, ’n meer verantwoordelike wyse te lees wat ook sal ag slaan op die vlees-en-bloed-mense wat geraak word deur ’n ondeurdagte, dikwels letterlike lees van die teks.

Ek het verneem van jongmense (by ’n ander Universiteit) wat met trane by vriende hulp gaan soek het, omdat hulle in hulle geloof geskud is deur dinge wat vir hulle in die Teologiese Fakulteit aan hulle voorgehou word. Sulke probleme kan nie met ’n “godsdiensperiode” by die Seminarium reggestel word, veral as die verantwoordelike persone self nie duidelikheid het oor die gesonde Bybelse leer nie.

Is die kuratorium op hoogte vandie dosente se sieninge oor bv die opstanding, die maagdelike geboorte, die versoening van Christus, die bestaan van die duiwel en die wonderwerke?

’n Ander probleem wat ek met die Seminarium projek het, is dat dit inderwaarheid ’n bevestiging is van die spanning tussen geloof en wetenskap waarvan ek hierbo gepraat het. Verwag ons van die studente om vrede te maak met die skynbaar onoplosbare dualisme tussen wetenskap en geloof?

3. ’N SKRIFGELEERDE IN DIE NUWE TESTAMENT

Ek glo dat Jesus, ons Here, vir ons as skrifgeleerdes ’n pad aandui te midde van die die doolhof van afdwalinge wat ek tot hiertoe geskets het. Van al die mense met wie Jesus te doene gehad het, het Hy vir die skrifgeleerdes van sy tyd die hardste woorde gehad (Mat 23:13-28) en tog het Hy vir die skrifgeleerdes ook ’n rol in sy koninkryk gehad, toe Hy gesê het:

“So is elke skrifgeleerde wat ’n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ’n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring” (Mat 13:52).

Die vereistes wat Jesus hier aan ’n skrifgeleerde in die nuwe bedeling stel is as volg:

  • Die skrifgeleerde moet ’n leerling word.

Hy moes die aansien wat hy in die destydse samelewing gehad het prysgee en hy moes bereid wees om weer ’n leerling te word. Hy moes bereid wees om soos al die ander mense agter Jesus aan te kom. Hy moet sy ambisies om ’n belangrike persoon te wees prysgee en homself so verloën.

  • Hy moet verstaan dit gaan om die koninkryk van die hemel.

Toe Jesus gekom het, het die hemel as’t ware op die aarde neergedaal. Dit blyk uit Jesus se woorde aan Nataniël: “Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.” (Joh 1:51). Die hemelse heerlikheid en die hemelse beginsels het aarde toe gekom.

Die koninkryk van die hemel is ’n onuitputlike bron van nadenke. Dit is vir die natuurlike mens vol verborgenhede en is nie vir almal verstaanbaar nie: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. (Mat 13:11) Petrus sê: ”Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry (1 Pet 1:12).

Die skrifgeleerde moet verstaan dat hy geroep is om hom te verdiep in hemelse dinge. As hy hom daarvoor skaam of vir die teenswoordige wêreld aanvaarbaar probeer voorstel, sal dit nie deug nie. Die skrifgeleerde moet bereid wees om van sy geleerde troontjie af te klim en hoor as Jesus sê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie”. (Mat 18:3)

  • Dit veronderstel ’n wedergeboorte.

Nikodemus het by Jesus gehoor: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. (Joh 3:3)

Die skrifgeleerde (soos alle ander mense) kan die koninkryk van God alleen “sien” as hy nuwe oë gekry het: Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!( Mat 6:22,23). Dit is juis die skrifgeleerdes vir wie Jesus gesê het: Blinde dwase! (Mat 23:17).

  • Jesus is die enigste Leermeester om die Skrif te verstaan.

Hy wys hoe alles op Hom betrekking het (Luk 24:27). Hy open selfs die verstand om die Skrif te verstaan (Luk 24:45). Hy gee ons sy Gees om ons in die waarheid te lei (Joh 16:13).

  • Jesus maak van ’n skrifgeleerde ’n ryk man.

Hy word vergelyk met ’n huiseienaar. Ons kry die prentjie van ’n ryk man. Hy het ’n huis vol kosbare besittings. Hy is opgewonde oor die goed wat hy versameling het en hy wil dit graag vir mense ten toonstel. Hy beskik oor nuwe en ou skatte.

4. WAT IS DIE IMPLIKASIES?

Dit is vir my duidelik dat die liberale teologie waarteen ons voorgangers so heftig wal gegooi het, ons uiteindelik ingehaal het. Wat is die implikasies?

Ek wil my troos met die mooi dinge wat ek in die NG Kerk sien. Ons het ’n pragtige Liedboek en ons sing ook nog Vonkk en Vlamliedere. Ons sinodevergaderings is beter georganiseerd as ooit tevore. Ons Bybel-Media gee pragtige publikasies uit en is elektronies byderwets. Ons het ’n Christelike Lektuurfonds en ’n Andrew Murray boekprys. Ons is ekumenies aktief. Ons werk daaraan om ’n missionêre kerk te wees. Ons beskik blykbaar oor baie fondse. Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit is onlangs op Wellington gestig.

Dan hoor ek skielik die stem van Samuel toe Saul so opgewonde vertel het hoe hy die opdrag van die Here uitgevoer het:

“Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het ….. Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. 23Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (1 Sam 15:16-23)

VOETNOTAS

[1] Kyk 2017 Vrystaat sinode beskrywingspunte.

[2] Kyk Die Nuwe Testament en seksualiteit, Hermie van Zyl, 2002

[3] Kyk Hermie van Zyl: Sensitiwiteit teenoor gays.

[4] Kyk NG teologiese skole progay.

[5] Daar was ’n totaal van 10 (!!!) beswaarskrifte ingedien vir die 2013 Algemene Sinode. Kyk Beswaarskrifte: AS besluit oor bediening van bevryding. Daar het egter niks van gekom nie. Kyk Terugblik op die Algemene Sinode 2013.

[6] Kyk Om die “shooter texts” te ontwapen.

[7] Vir meer oor die onderwerp, kyk Om geloof en wetenskap te skei.

[8] Kyk ’God’ uit Kovsies se leuse gehaal.

[9] Kyk UV Fakulteit Teologie stel godsdienste gelyk.

[10] Kyk UV Fakulteit Teologie stel godsdienste gelyk en ook onder andere die UV se tydskrif Bult, 2017, #1, bladsy 25

[11] Kyk Die Nuwe Testament oor Redding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui