Verklaring: Moreletapark se losmaking van NG kerkverband

Kyk ook:

Verklaring: Moreletapark se losmaking van NG kerkverband

April 2019

MPG is deur die Here opnuut herinner aan die volgende oortuigings en ons kan nie anders as om dit te verklaar nie. Die oortuiging is aan ons bekendgemaak deur God in Woord en Gees en ons wil dit in liefde bekendmaak aan ons kerkverband, die NG Kerk. Ons is van mening dat daar wesenlike verskille is tussen ons Skrifbeskouing en Skrifgesag met die besluite van die NG Kerk. Ons wil die roeping wat God aan ons gee ten volle nastreef en ons is van mening dat dit nie meer in die oneenheid van die NG Kerk kan plaasvind nie.

Daarom verklaar ons die volgende in afhanklikheid en nederigheid voor die Here:

Die 5 solas van die Reformasie bly vir ons ’n fondament. Sola Scriptura (“Skrif alleen”) Sola Fide (“geloof alleen”) Sola Gratia (“genade alleen”) Solus Christus (“Christus alleen”) Soli Deo Gloria (“aan God alleen die eer en heerlikheid).

Ons begrond Moreletapark se roeping op die Woord van God:

  • Ons wil in totaliteit onder die gesag van die Skrif staan en nie toelaat dat kultuur of tyd die Skrif namens ons interpreteer nie. Die Skrif bly die volle gesag van God en is ten volle geïnspireer deur God (2 Tim 3:16). Ons maak ruimte vir hermeneutiek en historiese konteks in ons benadering tot die Woord, maar wil ons nie laat lei deur die tydsgees waarin ons leef nie (Hebr 4:12-13).
  • God is vir ons in die Skrif geopenbaar as ’n Drie–Eenheid, naamlik Vader, Seun en Heilige Gees.
    • Ons erken God die Vader as heilig. Daarom die Bybelse opdrag om te streef na persoonlike heiligheid (1 Petr 1:15-16).
    • Ons erken die maagdelike geboorte (Matt 1:23), fisiese dood en fisiese opstanding (Joh 11:25, Kol 1:18), hemelvaart (Hand 1:9-11) en wederkoms (Kol 3:4, Matt 16:27) van Jesus Christus, ons Verlosser.
    • Ons erken die gawes en werking van die Heilige Gees en maak doelbewus daarvoor ruimte in die gemeenskap van gelowiges (1 Kor 12, 13, 14).
  • Ons erken die bestaan van die duiwel en dat die duiwel die kerk wil mislei en uitroei met allerlei leuens (1 Petr 5:8, Joh 8:44).
  • Ons erken die realiteit van die aardse dood maar soveel te meer die realiteit van die ewige lewe wat ons alleen verkry deur geloof in Jesus Christus (Kol 1:21-22, Joh 10:28).
  • Ons erken twee sakramente wat Jesus Christus ingestel het nl, die doop en die nagmaal (Luk 3:21, Luk 22:14-20, 1 Kor 11:24).
    • Ons maak ruimte vir die bediening van die nagmaal in die groter sowel as die kleiner geloofsgemeenskap.
    • Ons maak ruimte vir die besprinkelingsdoop sowel as die doop met onderdompeling (Kol 2:12).
  • Ons erken dat daar net een lidmaatskap aan die kerk is en dat alle gelowiges – ongeag van ouderdom – belydende lidmate van die kerk kan wees (Joh 1:12, Gal 3:28-29).

Daarom speel MPG se roeping prakties uit op die volgende maniere:

  • Evangelisasie van alle mense is vir ons ononderhandelbaar en ons ervaar die roeping van die kerk juis in die opdrag om alle nasies te bereik met die Evangelie van Jesus (Mark 2:17, Matt 28:19-20).
    • Die kerk se primêre skeppingsdoel is om nuwe bekeerlinge tot die gemeente by te voeg deur die genade van die Evangelie van Jesus te verkondig (Hand 1:8, Hand 2:47, Hand 20:24).
  • In die daaglikse lewe van die kerk wil ons die 4 basiese beginsels van die eerste gemeente in Handelinge 2 uitleef.
    • Dit is gebed, nagmaal, gemeenskap van gelowiges en studie van die Woord.
    • Dit vind hier in die groter geloofsgemeenskap sowel as in kleingroepe plaas.
  • Ons kerkbegrip beteken om koninkrykswaardes en ’n koninkrykskultuur te vestig binne die kerk (Hand 17).
  • Ons wil nie kultuur groepe bevorder of versterk nie, maar die Koninkryk van God vestig deur alle kulture met mekaar te integreer in ’n kerkbegrip waar koninkrykswaardes heers (Ef 2:17-19).
  • Binne die koninkryk is die kern redding, bekering en geloof.
    • Ons glo dat ons met ’n diepe sondebesef moet leef, daaglikse bekering nodig het en totale oorgawe aan Jesus Christus deur ons geloof beoefen (Hebr 12:1, 1 Joh 1:6, Matt 3:8, 2 Petr 3:9.
    • Ons glo dat daar erns met sonde gemaak moet word en dat ons nie ligtelik met sonde kan omgaan nie omdat God heilig is (Lev 19:2, Hab 1:13). Ons neem daarom standpunt in teen intensionele, opsetlike regverdiging van sonde. Wat sonde is word slegs deur God bepaal soos in die Woord opgeteken en deur die Gees bevestig word.
    • Ons wil erns maak met ons sondebesef deur mekaar in die gemeenskap van gelowiges verantwoordbaar te hou om gehoorsaam te wees aan die Woord van God. So help ons mekaar groei wanneer iemand in die sonde val (Jak 5:16, Gal 6:1-2).
  • Ons hou vas aan God se skeppingsorde dat ’n huwelik tussen een man en een vrou bestaan (Gen 2:22-24).
    • Ons erken die metafoor dat die kerk die bruid van Christus is en daarom wil ons heilig en onberispelik voor Hom leef (Ef 5:21-33, Op 19:7)

Ons erken dat ondertekening van hierdie verklaring vrywillig is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui