“Vaste Rots op wie ek bou” – ’n beoordeling

JD Louw

Augustus 2018

Prof Dirk Human van UP het die boek “Vaste Rots op wie ek bou”, as ’n geskenk vir my gegee. Die boek bevat teologiese artikels, hoofsaaklik van dosente by die Universiteit van Pretoria. Daar is ook ’n paar artikels van dosente van die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van Suid-Afrika en een van die Universiteit Utrecht.

alt

Dit is vir my ’n waardevolle boek in die opsig dat dit vir my ’n weerspieëling is van die teologiese tendense in NG Kerk in hierdie tyd. Ek het ’n paar van hierdie tendense aangeteken en ek wil daarop kommentaar lewer.

Daar is 28 artikels en ’n paar gedigte in die boek. Dit is nie sinvol om oor al die artikels kommentaar te lewer nie. Ek wil dus net sekere tendense, wat my opgeval het en wat vir my die belangrikste is bespreek.

1. Jurie le Roux

1.1. Die invloed van Julius Wellhausen

Ek wil kommentaar lewer oor Jurie le Roux se vereenselwiging met die uitgangspunte van Julius Wellhausen (1844-1918) in Hoofstuk 4 (Die lang pad van Skrifuitleg) en Hoofstuk 5 (Tekste en hulle kontekste). Die spore van Wellhausen en sy denkgenote kom ook duidelik na vore in ander artikels in die boek.

Volgens my waarneming het Wellhausen hom op sy akademiese pad ál minder as ’n Christelike teoloog uitgegee. Hy het wegbeweeg van kerklik teologiese opleiding en gevra om na Halle se Fakulteit Filosofie oorgeplaas te word. Hy het hom toegelê op die Indo-Europese wêreld en Islamitiese godsdiens. Hy het gesê dat hy vir homself meer duidelikheid wou kry oor die “wilde loot” (wildling) waarop die veredelde Yahwe godsdiens “ingeënt” is (grafted). Kyk iranicaonline.org-wellhausen-julius

Le Roux se bewondering vir Wellhausen is duidelik as hy op bl. 108 skryf:

Met die Duitse teoloog Julius Wellhausen het die historiese verstaan van die Pentateug (en die Ou Testament) ’n besondere hoogtepunt bereik. Wellhausen het die gesig van die Ou-Testamentiese wetenskap heeltemaal verander. Hy het vir ons gewys hoe literêre kritiek werk; hoe ons “nate” in enige teks moet raaksien; hoe die ontstaan en groei van die Pentateug (en die Ou testament) beskryf kan word; hoe om bronne vir geskiedskrywing in die teks te vind; hoe ’n geskiedenis van Israel behoort te lyk, en hoe om die beweging in Israel se geskiedenis raak te sien.

Dit is sorgwekkend dat Le Roux vir Wellhausen so hoog aanskryf, veral as ons in aanmerking neem wat Encyclopaedia Britannica bv oor Wellhausen sê:

His major writings put forth the view that the books of the Pentateuch were not written by Moses but were the result of oral traditions that evolved over time from a nomadic religion through the prophets to the law, rather than from the law through the prophets, as it is presented in the Old Testament. He dissected two distinct narrative structures from Genesis, determining that these narratives were the oldest portion of the Pentateuch, while the laws and rituals were the latest elements.

Kom ons gaan nader op die onderwerp in en ons kyk na die Ou Testamentiese wêreld waarin Le Roux hom tuisgemaak het:

1.2. Moses as skrywer van die Pentateug

Die eerste opmerking van Encyclopaedia Britannica hierbo oor Wellhausen is dat die Pentateug nie deur Moses geskryf is nie.

Dit is natuurlik vanselfsprekend dat Moses nie die skrywer of finale redakteur van die Pentateug was nie. Nie een van die boeke van die Pentateug word aangebied asof Moses die skrywer daarvan is nie. Daar word konsekwent in die Pentateug oor Moses in die derde persoon gepraat soos blyk uit die volgende aanhaling: Moses, die man van God, het die Israeliete voor sy dood met die volgende woorde geseën (Deut 33:1).

Ons weet eenvoudig nie wie die boeke van die Pentateug saamgestel het nie. Om die waarheid te sê nie een van die boeke van die Ou Testament kan gekoppel word aan ’n spesifieke outeur nie. Selfs die profete se profesië is nie noodwendig deur hulleself neergeskryf nie.

Ons kan egter die afleiding maak dat daar groepe mense in Israel was wat hulle toegelê het daarop om die geskiedenis van Israel aan te teken. Die woord vir skryf (safar) kom baie volop in die OT voor. In 1 Kron 2:55 word melding gemaak van ’n familie van skrywers (safar). Hierdie skrywers word genoem saam met ander vakkundiges of mense wat ambagte in Israel bedryf het (1 Kron 4:14, 21,23). Die omvangryke geslagsregistes in 1 Kronieke is juis ’n bevestiging van die werk van skrywers in Israel.

’n Interessante voorbeeld van hierdie skrywersgilde kom vroeg reeds uit die Rigtertyd voor. In die Oorwinningslied van Debora en Barak word al die leiers en dapper vegters besing, wat rondom Debora bymekaargekom het. Onder die hooggeplaasdes daar teenwoordig was daar volgens die King James Vertaling: they that handle the pen of the writer (Rigt 5:14). Young’s Literal Translation vertaal dit met: And out of Zebulun those drawing with the reed of a writer. Die meeste ander vertalers weet nie regtig wat om met die uitdrukking, mense met die pen van ’n skrywer, te maak nie. Ek het vir myself oor die betekenis van die teks duidelikheid gekry, dat dit mense moes wees, wat met hulle skryfwerk diens gedoen het by die oorlog. Die skrywers, of logistieke bevelvoerders was deel van die adelikes wat hulle verbly het oor die oorwinning wat Israel in die tyd van Debora behaal het.

Hierdie gilde van skrywers het waarskynlik reeds in die woestyntyd tot stand gekom. Hulle name word nie genoem nie, maar hulle was betrokke by die opskrifstelling van die wet, die noukeurige sensusopnames in Numeri en die aantekeninge oor Moses se toesprake in Deuteronomium.

Uit Josua 1:7-8 is dit duidelik dat die wetboek van Moses op daardie stadium reeds bestaan het:

(7)Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. (8)Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.

Al was Moses dus nie die skrywer van die Pentateug nie, word sy naam pertinent aan die Pentateug gekoppel. Dit is omdat die boeke Eksodus tot Deuteronomium handel oor die epogmakende lewe en werk van Moses.

Verder was Moses sekerlik ook pertinent betrokke by die teboekstelling van die gebeure in sy leeftyd. Dit blyk uit tekste soos die volgende:

Eks 17:14Daarna het die Here vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor”.

Deut 31:9 Moses het toe hierdie wet opgeskryf en dit gegee aan die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, en ook aan al die leiers van Israel.

Deut 31:24Toe Moses hierdie wet, tot die laaste woord toe, in ’n boek opgeteken het … .

Die Wet van God word aan Moses verbind omdat hy die bemiddelaar was deur wie God die wet aan Israel bekend gemaak het (Deut 5:5). Dit is redes waarom die Pentateug bekend geword het as die Wet van Moses en die Boek van Moses (Dan 9:13; Mark 12:26). Hulle het samevattend van die Skrif van daardie tyd gepraat as Moses en die Profete (Luk 16:29). Die Nederlandse Geloofsbelydenis praat dan ook in lyn hiermee van die “vyf boeke van Moses” (Art. 4)

Die kwessie gaan dus nie daaroor of Moses die outeur van die Pentateug was of nie. Dit gaan hier oor veel meer: Volgens Wellhausen en sy aanhangers wás daar nooit ’n Moses nie! In elk geval nie ’n Moses soos ons hom in die Skrif leer ken het nie. Dit is die punt wat hier ter sprake is.

Wellhausen wil die geskiedenis van die Aartsvaders, van Moses en die gepaardgaande geskiedenis van Israel in Egipte en die woestyntyd afmaak as “kampvuurstories” van ’n nomadevolk.

Vir Wellhausen kom die wetgewing van Israel, nie van Moses af nie. Hy dateer die ontstaan van die wet 1000 jaar ná die Bybelse woestyntyd! Die wet is volgens hom die laaste fase van die evolusionêre ontwikkeling van die Jahwe-godsdiens. Wellhausen wil aan Esegiël en Esra die eer gee vir die daarstelling van die wet.

1.3. Die implikasies van Wellhausen se voorstelling

1) Alles wat daar oor Moses in die Pentateug gesê word, word versinsels van skrywers uit die Babiloniese tyd. Hierdie skrywers was in staat om op ’n baie vindingryke wyse vir die Jode in ballingskap ’n godsdienstige stelsel te ontwerp. Hulle het ’n storie rondom ’n persoon met die naam Moses gebou en vir die Jode gesê: Dáár is julle God! Sy naam is Jahwe. Hý is die Skepper van die hemel en die aarde en nie die gode van die Babiloniërs tussen wie julle woon nie. Dit klink alteveel na die goue kalf in die woestyn waarvan die volk gesê het: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!” (Eks 32:4).

2) Die woorde: “die Here het vir Moses gesê”, kom 77 keer in die Pentateug voor. Wellhausen se hipotese impliseer dat die skrywers van die Pentateug, 77 keer, hierdie woorde aangaande Jahwe versin en in die mond van ’n denkbeeldige figuur, Moses, gelê het. Sewe en sewentig keer het die Bybelskrywers woorde uit hulle duim gesuig (gelieg)! Dit nogal deur gerespekteerde godsdienstige leiers van Israel soos Esegiël en Esra.

3) Ons geloof dat God Hom aan die mense geopenbaar het (Eks 3, Eks 20, Rom 3:2, ens) is volgens Wellhausen ongeldig.

4) God se wonderdade in Egipte wat bv in die Psalms besing word (Ps 78, 105, 136) is ongegrond.

5) Salomo se verstaan van Israel se geskiedenis berus op ’n vergissing:

1 Kon 8:53 U het hulle (Israel) onder al die volke van die wêreld afgesonder as ’n volk vir U, Here. Dit het gebeur soos U, Here, deur u dienaar Moses gesê het toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.

6) Daar was fisiese items wat Moses aan Israel nagelaat het en tot in die tyd van die konings en daarna nog daar was:

2 Kron 1: (3)Salomo en die hele gemeente saam met hom het toe na die hoogte toe by Gibeon gegaan. Die tent van die ontmoeting met God wat Moses, die dienaar van die Here, nog in die woestyn gemaak het, was toe daar. (4)Die ark van God was egter nie daar nie. Dawid het dit in sy dae uit Kirjat-Jearim laat bring na die plek toe wat hy daarvoor reggemaak het, want hy het daarvoor in Jerusalem ’n tent laat opslaan. (5)Die bronsaltaar wat Besaleël seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was opgestel voor die tabernakel van die Here. Salomo en die gemeente het die Here gaan raadpleeg.

Veral die verbondsark was al die jare vir Israel ’n baie belangrike simbool van die Here se betrokkenheid by hulle as volk. Israel het die ark besing: Kom na u rusplek toe, Here, U en die ark, die teken van u mag (Ps 132:8). Selfs die Filistyne het die verbondsark gerespekteer as ’n artefak van Israel wat uit die woestyntyd dateer. (1 Sam 4:8).

7) Vóór die ballingskap lees ons reeds 14 keer van die Wetboek in Israel. Behalwe in die Pentateug, lees ons ook herhaaldelik van die Wetboek, byvoorbeeld in Josua, 2 Konings en 2 Kronieke. In 2 Kron 34:14 staan nogal pertinent het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is. Op grond van dit wat hulle toe in die Wetboek gelees het, het Josia ’n groot hervorming begin. Volgens Wellhausen het die Wetboek eers in die tyd van die ballingskap ontstaan. Was die bestaan van die Wetboek al die jare voor die ballingskap ’n versinsel van die Bybelse geskiedskrywers?

8) In Jesus se gesprekke met die Jode was daar nooit ’n kwessie oor die historiese werklikhede aangaande Moses nie. Hy het bv vir die Sadduseërs gesê: Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ (Luk 20:37)

9) Stefanus herinner die Jode daaraan dat Moses geprofeteer het aangaande Jesus (Hand 7:37). Die Jode het ook nie Stefanus se oorsig van hulle geskiedenis wat hy aan hulle voorgehou het bevraagteken nie. In Hand 7:22-45 praat Stefanus spesifiek van die lewe van Moses en hy sê bv dat Moses die verbondsark gebou het volgens die voorbeeld wat God hom gewys het en dat die ark nog tot in die tyd van Dawid in besit van Israel was.

10) In die gemoed van die Hebreërbriefskrywer is daar ook geen twyfel oor die geskiedenis van Israel en spesifiek van Moses en die woestyntydperk nie (Heb 11:23-29).

Dit is vrae soos hierdie waarop aanhangers van Wellhausen aan die Kerk ’n antwoord verskuldig is. Wellhausen is reeds ’n honderd jaar gelede oorlede en nou dit blyk dat Le Roux stééds Wellhausen se lof in Vaste Rots besing. Le Roux sê dat Wellhausen ons gewys het hoe ’n geskiedenis van Israel behoort te lyk, en hoe om die beweging in Israel se geskiedenis raak te sien. Dit is eenvoudig onbegryplik hoe Le Roux sulke oortuigings met die basiese Christelike Bybeluitleg van die Kerk kan rym.

1.4. Die woord “geskiedenis” kry ’n nuwe betekenis

Le Roux vertel (bl. 116) van Karel Schoeman se boek Verliesfontein. Verliesfontein is ’n denkbeeldige dorp wat tydens die Anglo-Boeroorlog vernietig is. Volgens die verhaal is dit onmoontlik om die presiese geskiedenis van Verliesfontein terug te kry. Al wat die historikus het is “spore” van die verlede. Daar is ’n gevoel van verlies.

Le Roux pas hierdie beeld op die Bybelse verhale toe en spesifiek op die geskiedenis van Abraham, die uittog uit Egipte (Moses), die intog in Kanaän en op Dawid. Hy sê: “Die geskiedenis maak tóé, en niemand kan die verlede se poorte oopstoot om te kan sê wat letterlik gebeur het nie. …… Daar is niks boaards en ewig aan ’n feit nie; dit is bloot iets wat ’n historikus kies en gebruik om sy of haar verhaal te vertel” .

Le Roux werk met die gedagte dat die Pentateug (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium) as ’n “geloofsbelydenis” ontstaan het. Hy lei dit af uit Deut 26:5 Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My vader was ’n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy ’n groot, sterk en talryke nasie geword.

Dit is dan die plek waar die geskiedenis van Israel ontstaan het – by ’n geloofsbelydenis! “Dit gaan oor ’n manier waarop die volk Israel self betekenis aan God se geskiedenis met hulle gegee het; dit gaan oor ’n manier waarop die Israeliete self teologies oor God nagedink het en dit verwoord het”.

Let wel, geskiedenis word nou ’n vorm van mense se teologiese nadenke oor God. Le Roux noem sy metode ’n “historiese verstaan” of ’n “historiese lees”, van God en sy wêreld. Hy gee ’n nuwe betekenis aan die woord “histories”. Hy propageer ’n geskiedenis waar feite nie werklik bestaan nie.

1.5. Teenstrydige argumentasie

Le Roux propageer sy standpunte onbeskaamd dualisties. Dit word duidelik waar hy ’n uiteensetting gee van Wellhausen se bronnehipotese (bl. 109). Ek haal aan:

“Die eerste bron was die Jahwis (J), die oudste bron. In die Bybelgedeeltes wat van die bron gebruik gemaak het, word die godsnaam Jahwe (Here) gebruik. Dit het in 950 vC in Jerusalem in die regeringstyd van Dawid en Salomo, ontstaan”.

Wat sien ons hier? Ewe skielik word Dawid en Salomo werklike historiese figure. Aan die een kant sê Le Roux: “Daar is niks boaards en ewig aan ’n feit nie; dit is bloot iets wat ’n historikus kies en gebruik om sy of haar verhaal te vertel”. Aan die ander kant (as dit hom pas) maak hy lustig gebruik van die Bybelgeskiedenis. Hy weet skielik dat Dawid en Salomo in die tyd 950 vC geleef het. Hoe weet hy dit? Daar is net een plek waar ons van Dawid en Salomo lees en dit is in dieselfde Bybel waar daar volgens Le Roux geen “vaste historiese feite” is nie.

So gaan Le Roux voort om die bronnehipotese met Bybelse “feite” te demonstreer: Die Elohis (E) het “ongeveer 750 vC, ná die skeuring van die van die Verenigde Koninkryk van Dawid en Salomo, ontstaan. …. Deuteronomium (D) het ongeveer 620 vC tydens Josia se hervormimg ontstaan.” Hy verbind Levitikus, die dekaloog, die wette ens. aan die Priesterbron, wat uit 550 vC dateer.

Op bl. 132 gee hy ’n uitgebreide tydlyn van gebeure in die Noordryk en die Suidryk. Hy weet van die verdeling van die twee ryke in die jaar 926 vC. Hy weet ook dat die Babiloniese ballingskap plaasgevind het in die jare 586-538 vC.

Kom Le Roux nie agter dat hy sy eie argumente weerspreek nie? Hy sit die een oomblik met die Pentateug op “Verliesfontein se vlakte” waar daar net “spore” van die verlede oorgebly het. Die volgende oomblik werk hy weer met pertinente historiese feite in dieselfde Bybel – feite waaroor daar blykbaar geen twyfel bestaan nie. Hy weet ook hoe ’n “spoor” in ’n spesifieke tyd gemaak is.

1.6. ’n Mensgemaakte Jahwe

Die skrywers van Encyclopaedia Britannica hierbo sê Wellhausen skep ’n beeld van die boeke van die Pentateug wat nie in ooreenstemming is met die Ou Testament nie. Dit is duidelik dat dit oor baie meer gaan as net ’n beeld van ’n paar boeke van die Bybel. Wellhausen skep ’n beeld van die Jahwe-godsdiens wat nie in ooreenstemming met die Skrif of ons Christelike geloof is nie.

Ander bronne aangaande Wellhausen sê dat die Jahwe konsep eers in 721 vC (en nie 950 vC soos Le Roux sê nie) deur vlugtelinge uit die Noordelike Ryk na Jerusalem gebring is. Maak nie saak wie se weergawe aangaande Wellhausen se sieninge korrek is nie. Die feit bly staan dat Wellhausen en sy navolgers per implikasie van ons vra dat ons, ons geloof moet baseer op ’n Jahwe, wat deur mense uitgedink is, op ’n Jahwe wat Homself nie aan die mense geopenbaar het nie, op ’n Jahwe wat nie “is wat Hy is” nie (Eks 3:14).

Wat is die verskil tussen hierdie beeld van Wellhausen en ’n tipiese heidense afgodsbeeld waarteen die profete gewaarsku het? Luister hoe beoordeel Jesaja mense wat vir hulleself sulke afgode oprig:

Iemand wat hom met as besig hou, laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings. Hy kan homself nie red nie, hy vra homself nie af: “Is dit nie ’n leuen waarmee ek my besig hou nie?” (Jes 44:20)

1.7. Le Roux oor Historiese Kritiek

Hoofstuk 4 in die boek se tema is: “Die lang pad van Skrifuitleg”. Dit is duidelik dat die hoofstuk se doel is om die leser te oortuig van die sg. Historiese Kritiek of te wel die histories-kritiese metode in Skrifuitleg.

Le Roux gebruik van die begin af ’n postmoderne aanslag in sy argumentasie. Hy meen elke eeu of geslag het “’n soort geheime kennisstelsel” gehad. Dit bring mee dat die kerk se verstaan van die Skrif telkens verander het. Ons lees tekste nie meer soos die vroeë kerk nie, omdat tye verander het en óns ook verander het. Daar was nooit net een verklaring van ’n teks nie.

Le Roux demonstreer sy gedagte oor Skrifuitleg wat voordurend verander, met ’n oorsig wat hy noem die “geskiedenis van eksegese”. Hy bespreek Klemens van Alexandrië (150-215 nC) en Origenes (184-253 nC) se allegoriese manier van Skrifverstaan. Origenes het bv besin oor die gebeure toe die Israeliete baie van die Egiptenare se besittings met hulle saamgeneem het, toe hulle uit Egipte getrek het. Daar was in Origenes se tyd ’n debat daaroor of die Israeliete die Egiptenaars met hulle optrede besteel het. Origenes se bydrae was dat die kerk vergelyk kan word met Israel. Net soos die Israeliete die Egiptenaars beroof het, moet die kerk ook alle wêreldse geleerdheid wat vir die eksegese, teologie en ware aanbidding vrugbaar gemaak kan word “oorneem” (beroof). Le Roux noem dit as ’n voorbeeld van hoe Origenes in sy tyd met die Skrif omgegaan het.

So gaan Le Roux voort om te wys hoe “Skrifverstaan” verander het gedurende die Middeleeue tot by Luther (1483-1546 nC) en Calvyn (1509-1564 nC). Die kerk het telkens ander maniere gehad om die Skrif te ontsluit.

Die 18e eeu was die eeu van die Verligting. Die menslike rede het sentraal begin staan en absolute uitsprake oor God (postmodernisties) is bevraagteken. Die Bybelwetenskap is sterk hierdeur beïnvloed. Die Bybelskrywers se wêreldbeeld het nou vóórwetenskaplik geword. Deur historiese navorsing wou mense hulle wêreld en hulleself beter verstaan. Dit was dan die begin van die histories-kritiese metode. Hy meen die Hervormers het dit nog nie geken of navorsing daaroor gedoen nie. Hulle was te “besig” om elke dag te preek en die Woord uit te lê (sic).

Le Roux wil voorgee dat die Historiese Kritiek bloot ’n onafwendbare uitvloeisel is van die eksegetiese proses in die geskiedenis van die kerk.

Daar is egter ’n slang in die gras met hierdie redenasie van Le Roux. Hy probeer bewys dat Skrifverstaan deur die eeue nog altyd verander het, maar hy onderskei nie in sy beredenering tussen eksegese en hermeneutiek[1] nie. Wat hy in werklikheid doen is om ’n oorsig te gee van die geskiedenis van die hermeneutiek van bepaalde tekste en nie van die eksegese daarvan nie.

As Le Roux vertel van Origenes en Klemens van Alexandrië se allegoriese interpretasies van teksgedeeltes, gaan dit oor hermeneutiek, nie oor eksegese nie. Die manier waarop die kerk die Skrif van tyd tot tyd vir nuwe omstandighede toegepas het, het inderdaad van verander, maar dieselfde kan nie van die eksegese van tekste gesê word nie.

Die eksegese vra na die “wie”, die “wat”, die “wanneer” en “aan wie” van ’n teks. Daaroor was daar deur die eeue min verskil. Die gelowiges het nog altyd, deur dieselfde bril na die geskiedenis in die Skrif gekyk. Die Psalmdigters (Ps 78 en Ps 105), die profete (Jes 63:11,12), Jesus (Joh 6:32), Stefanus (Hand 7), Paulus (Rom 9:4) en Petrus (2 Pet 5,6,7) het nog nooit verskil oor die geskiedenis van Moses soos dit in die Skrif opgeteken is nie. Tot in die tyd van die tyd van die Hervorming en daarna is dit nog nooit bevraagteken nie.

Al wat Le Roux dus in sy “geskiedenis van eksegese” uitwys is die wyse waarop opeenvolgende geslagte bepaalde skrifgedeeltes vir hulle omstandighede toegepas het. Dit het niks met eksegese te doen nie. Wat Le Roux hier aanbied kan eerder ’n “geskiedenis van hermeneutiek” genoem word.

Le Roux se hele argument val dus plat as hy wil voorgee dat die histories-kritiese metode net ’n voortsetting van ’n lang geskiedenis van “Skrifverstaan” is. Die Historiese Kritiek trek ’n streep deur alle eksegetiese metodes van die verlede. As ons bv eksegeties vra wie Moses is, wat hy gesê het, vir wie hy dit gesê het, wanneer hy dit gesê het, het die kerk nog nooit daaroor verskil nie en spesifiek nie Origenes nie. Die Historiese Kritiek meen egter dat hulle nou oor kennis beskik, waarmee hulle alles waarin die kerk tot dusver oor Moses en die Bybel geglo het, omver kan werp. Ons werk skielik nie meer met “feite” nie, maar met “spore” van die verlede, wat die deur ooplaat vir totale willekeur.

Le Roux gebruik nuwe terme waarvolgens ons die Bybel moet hanteer. Hy praat van ’n “historiese verstaan” en “historiese kennis”, maar dit is duidelik dat hy ’n heel ander betekenis daaraan heg as wat ons met die eerste oogopslag daarin lees. Die geskiedenis van Israel word aan kriteria beoordeel wat van buite die Bybel af kom. Uiteindelik word die geskiedenis soos ons dit uit die Bybel ken, eenvoudig ontken en ’n nuwe geskiedenis word aan die Bybel opgedring.

Hierdie nuwe geskiedenis word saamgestel deur “nate” wat sg. in die Bybelse literatuur gesien word. Eenhede word so identifiseer, uit hulle konteks gehaal en in ’n ander konteks verplaas en in daardie konteks gedateer. Dit word ook genoem “close reading”. Dit vorm alles deel van die bronnehipotese wat Le Roux aanhang.

Die uitkoms lyk indrukwekkend en geleerd, maar by nadere ondersoek word jy verstom deur die selfvertroue waarmee akademici hulle posisies misbruik en hulle aanmatig om God se Woord te verdraai. Dit is ’n eienskap van die “liberale teologie”, dat mense nie wil aanvaar wat geskrywe is nie.

Ander terme wat Le Roux hier gebruik is ’n “historiese minimum” en ’n “teologiese maksimum”. Sulke terminologie het ook ingrypende betekenis. Ons kan tog nie teologie bedryf met ’n sg. “historiese minimum” nie. Ons Bybelse teologie is gebaseer op die geskiedenis. Ons kan nie ons eie geskiedenis skryf en dan ’n Bybelse teologie daarop wil bou nie.

Die vlak waarop ons nou gesprek voer, verval in die absurde, maar dit is presies waarheen die historiese kritiek wat Le Roux propageer ons heen lei.

Daar is geen probleem om ’n geskiedskrywer se werk krities te beoordeel nie. Die voorstanders van die historiese kritiek wend egter geen poging aan om die geskiedenis wat vir ons in die Bybel nagelaat is, hoegenaamd as geskiedenis te behandel nie. Hulle is besig met ’n akademiese speletjie waarin hulle op soek is na literêre eenhede wat hulle willekeurig rondskuif.

Ek dra nie kennis van historici of letterkundiges in die algemeen, wat op hierdie wyse met hulle brondokumente omgaan nie. Waar kom die voorstanders van die historiese kritiek daaraan om op hierdie vreemde wyse met die Boek van alle boeke om te gaan? Wat wil hulle daarmee bereik? Wat wil hulle bewys?

’n Letterkundige van formaat, CS Lewis, het die teoloë van sy tyd hieroor aangespreek en gesê: “whatever these men may be as Biblical critics, I distrust them as critics. They seem to me to lack literary judgement, to be imperceptive about the very quality of the texts they are reading.” (Fern-seed and Elephants – CS Lewis)

Dirk Human

2.1. Die uitdagings van Bybellees (Bl 53)

Ek wil ’n paar gedagtes weergee oor Dirk Human se hoofstuk oor “Bybellees” (Hoofstuk 2). Die hoofstuk raak ’n breë spektrum van sake aan wat dikwels in teologiese aanbiedings voorkom.

Ek sou graag positief oor die hoofstuk wou skryf, omdat ek die boek immers as ’n geskenk van Human ontvang het, maar ek moet ook eerlik wees. Human het voor in die boek vir my geskryf: “Met waardering vir kritiese lees” en dit open vir my ’n deur om te sê wat ek op die hart het.

Die tema: “Uitdagings vir Bybellees”, is baie aktueel, omdat die Bybel so ’n belangrike plek in die gewone Christen se lewe inneem. Die Bybel is immers die mees gelese boek in die wêreld en onderwerpe uit die Bybel word ook die meeste gegoogle.

My eerste waarneming van die hoofstuk oor Bybellees, is dat die Bybel ’n problematiese boek vol slaggate is. Ek wil ’n paar aanhalings maak om ’n idee te probeer weergee van die trant van Human se gedagtegang:

Die Bybel moet nie beskou word as ’n geskiedenis- of wetenskaphandboek wat presiese geskiedenisfeite leer of wetenskaplike bewyse lewer dat God bestaan nie.

Soms weerspreek “Bybelse” geskiedkundige feite mekaar of word daar “onwetenskaplike” uitsprake gemaak, soos dat die aarde op pilare gebou is.

Soms misbruik mense die Bybel as ’n soort toorboek (bl 55).

Vir baie mense is dit ’n groot probleem om kritiese vrae oor die Bybel te vra. Dit grens vir hulle aan godslastering. Soms word dit met skelwoorde Skrifkritiek or Hoër Kritiek geëtiketteer

Tekskritiek is dus noodsaaklik.

Die vraag ontstaan of ons die Bybel wetenskaplik kán bestudeer (bl 56).

Eers wanneer ons weet hoe “Bybelse” mense gedink en hoe hulle wêreld gelyk het, kan ons met sogenaamde “Bybelse” uitsprake en sienings in gesprek tree (bl 57).

Mense het destyds ’n ander tydsbegrip gehad as wat ons vandag het (bl 58)

Vir antieke mense was Jerusalem die mitologiese middelpunt van die wêreld.

Baie mense lees die Bybel asof alles wat hulle lees neergeskryf is tydens of pas ná die gebeure wat beskryf word (bl 59).

Daar bestaan talle probleme en uitdagings ten opsigte van Skrifinterpretasie en die hedendaagse toepassing van tekste se betekenis (bl 78).

Ek hoop dat hierdie paar aanhalings ’n idee gee van wat ek ervaar as ’n waarskuwende toon vir die gewone Bybelleser.

Ek het as kind in die kerk met die Bybel grootgeword. In my ouerhuis en familiekring het die grootmense vir ons huisgodsdiens gehou en hulle het vir ons uit die Bybel voorgelees. As leraar was ek my lewe lank besig met Bybelstudiegroepe en verskillende vorme van lering, onderrig en prediking. In al die jare het ek die Bybel nooit as ’n problematiese boek ervaar nie. Daar is natuurlik gedeeltes waaroor mense (en ekself) vra, wat die betekenis daarvan sou wees. Selfs Petrus sê dat sommige van Paulus se woorde moeilik is om te verstaan (2 Petrus 3:15-16), maar dit bied telkens ’n uitdaging om dieper daarop in te gaan en so kom mens telkens tot dieper insigte aangaande die boodskap van die Bybel.

In die uitleg van tekste is dit natuurlik nodig om die sake waarvan Human praat in berekening te bring, soos genres en kennis van die Bybelse tyd en kultuur. Dit maak nog nie van die Bybel ’n problematiese boek nie, maar bevestig eerder die outentiekheid van die boeke van die Bybel. Die menslikheid en sondigheid van die karakters waarvan ons in die Bybel lees gee groter geloofwaardigheid aan die Bybel. Ons verwag ook nie van die Bybelskrywers om op hoogte te wees met die biologiese, aardrykskundige en kosmologiese kennis waaroor ons vandag beskik nie. Dit sou die Bybel juis ongeloofwaardig maak.

Hiervandaan wil ek graag deur die hoofstuk blaai en hier en daar terme en begrippe uitlig waarop ek kommentaar wil lewer:

2.2. Voorveronderstellings (bl 53)

Human begin die hoofstuk met die gedagte dat elke Bybelleser ’n eie verstaan, ’n eie “bril” het. Hy sê ons lees die Bybel met bepaalde voorveronderstellings en vooroordele.

Die vraag is: Wie is die “ons” waarvan Human hier praat? “Ons” is tog deel van die kerk van die Here met ’n gemeenskaplike geloof en belydenis. Ons in die kerk is deur die Gees weergebore om nuwe mense te wees (Titus 3:5). Daar kan nie ruimte in die kerk wees vir elkeen om sy eie bril te dra en sy eie voorveronderstellings te wil handhaaf nie. Daar is ’n “eenheid van die Gees” tussen ons (Ef 4:3). Paulus verduidelik verder:

Ef 4:4 Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5 Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6 één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

Die kerk is ’n plek waar God oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Dit is die werk van die Gees. So gesien is daar nie ruimte daarvoor dat elkeen met sy eie bril die Bybel kan lees en interpreteer nie. Dit is nie soos die Here dit bedoel het nie en is ’n resep vir verdeeldheid.

2.3. Geloofservarings lê aan die grondslag van die Bybel

Human sê die Bybel is ’n boek vol beskrywings van mense se geloofservarings (bl 54). Hy praat in hierdie konteks van die Bybel as ’n “geloofsboek”. Hy sê ook: Verskeie mense het hulle ervarings met God op verskillende plekke oorvertel, neergeskryf en versamel.

“Geloofservarings”, is nie in die kring van die gelowiges ’n gepaste woord om die Bybelskrywers se nalatenskap te beskryf nie. Geloofservarings is ’n term uit die godsdienswetenskap. Dit impliseer afstand. Dit gaan oor “ander mense” se geloofservarings en dit raak my nie noodwendig nie. Ek beskou dit objektief, klinies, van ’n afstand af.

Dit is nie soos ons veronderstel is om na die Bybel kyk nie.

Ons ervaring van die skrywers van die Bybel is dat hulle ons medegelowiges is. Dieselfde Gees wat in hulle gewerk het is ook die Gees wat in ons werk. Dit maak dat ons aanklank vind by mekaar. Dit maak dat ons “Amen” sê op wat hulle geskryf het. Wat hulle gesê het resoneer ook in ons gemoed. Dink maar hoe graag gelowiges vandag nog vir mekaar aanhalings maak uit die Psalmbundel.

Ons kan dalk nog in die Psalms praat van geloofservarings, maar selfs die Psalms is veel meer as geloofservarings. Daar is ook ’n sterk profetiese element in die Psalms.

Die grootste deel van die Bybel bestaan uit geskiedskrywing. Geskiedskrywers het die magtige dade van God waarmee Hy Hom in die geskiedenis geopenbaar het beskryf. In sommige gevalle was hulle getuies daarvan en in ander gevalle het hulle navorsing daaroor gedoen. Ander skrywers het gedigte geskryf oor wat God vir hulle beteken het. Ander het wyshede versamel. Ander het bekend gestaan as profete en hulle is onder die gelowiges gerespekteer oor die feit dat hulle openbaringe van God gekry het. Die profete of ander mense het neergeskrywe wat hierdie profete by God gehoor het.

Hulle het dit gedoen omdat God, ons God, vir hulle belangrik was. Ons kan sê hulle het dit in opdrag van God gedoen. Hulle was deur die Gees gedrewe, want God het ’n plan daarmee gehad. Petrus skryf iets hiervan as hy sê: Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is (1 Pet 1:12)

So het die Woord, die Bybel deur goddelike beskikking ontstaan. Dit het binne die Kerk van God gegroei en dit het die Heilige Skrif geword. God het daaraan ’n bepaalde gesag gegee. Paulus beskryf dit as volg: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek (2 Tim 3:16). In die gesprek tussen die duiwel en Jesus het dit telkens gegaan oor wat “geskrywe” is (Mat 4:6).

Die Bybel gaan dus oor veel meer as mense van die verlede se geloofservarings. Dit was nie ’n blote geloofservaring van Johannes toe hy gesê het nie: Hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:31).

Die dade en woorde van God wat Johannes en ander skrywers beskryf het, is weldeurdag en geloofwaardig. God het bepaal dat dit sy Woord aan die mensdom moet wees.

2.4. Die Bybel is nie ’n wetenskapshandboek nie (bl 55, 65)

Dit het al ’n cliché in sinodale stukke geword om daarop te wys dat die Bybel nie ’n “wetenskapshandboek” is nie.

Die Bybel is natúúrlik nie ’n wetenskaplike handboek nie. Waarom vind teoloë dit nodig om ons voortdurend daarteen te waarsku om nie die Bybel as ’n wetenskaplike handboek te gebruik nie? Ek dink hulle doen dit in ’n poging om die klaarblyklike botsing tussen die Bybel en die evolusieleer te probeer omseil, want die skeppingsgeskiedenis in die Bybel is omtrent in alle opsigte in stryd met die evolusieleer.[2]

Die eerste drie woorde in die Bybel gee alreeds ’n aanduiding van die diepgaande verskil tussen die Bybelse weergawe van die skeppingsgeskiedenis en die evolusionêre of sg. wetenskaplike weergawe.

Die Bybel begin met die woord: “In die begin”. Dan word daar vir ons met breë, maar baie pertinente lyne ’n beeld geskep van hoe die hemel en die aarde begin het en waar die mens inpas en wie die mens is. Dit het alles in ses dae gebeur. Dit was die begin van tyd en van die geskiedenis.

Volgens die evolusieleer was daar nie werklik ’n begin nie. Logies gesproke móét daar egter ’n begin wees en daarom verklaar hulle die begin as ’n onverklaarbare ontploffing van ’n oneindige klein entiteit, in die onberekenbare verlede (Die Big Bang of Oerknal)[3]. So meen voorstanders van die oerknal dat hulle God uit die prentjie kan kry, want die God van die Bybel is vir die ongelowige ’n bedreiging. Hy roep mense op tot verantwoording en hulle weet dit.

Die tweede woord in die Bybel is die woord “skep”. Dit wil sê daar was Iemand buite die skepping wat dit gemaak het. In die evolusie konsep speel die woord skepping nie ’n rol nie. Alles word aan natuurlike gebeure toegeskryf. Daar was nie “Iemand” op die toneel toe die ontploffing plaasgevind het nie. Selfs die woord “ontwerp” is in daardie kringe ’n aanvegbare gedagte.

Die derde woord in die Bybel is die woord “God”. In die evolusieleer is God soos reeds gesê, nie deel van die narratief nie.

Hierdie drie woorde waarmee die Bybel afskop gee reeds ’n aanduiding van die radikale botsing waarvoor die kerk te staan kom met die heersende wêreldbeeld en naturalistiese oorsprongsteorieë.

In ’n poging om die sg. wetenskap met die Bybel te versoen is die nuwe Christelike verstandhouding dat God die evolusieproses gebruik het om te skep. Op die manier kan die Kerk nog steeds bely: “Ek glo in God die Almagtige Skepper van hemel en aarde”, Ons glo as ons net ’n paar “geringe” aanpassings maak kan ons in vrede leef met die “wetenskap”. Ons skrap bv die “ses dae” van die Bybel. So glo ons dat ons nie meer met die hoed in die een hand en die Bybel in die ander hand voor die wêreld hoef te staan nie.

So maklik kom ons egter nie los van die dilemma nie. Die geskiedskrywers van die Bybel sê bv onteenseglik dat die Here die hemel en die aarde in ses dae gemaak het (Gen 1, Eks 20:11, Eks 31:17)[4]. Die sabbatskonsep wat so diep in die Joodse godsdiens gewortel is, moet herlei word na hulle verstaan dat God op die sewende dag gerus het, na ses dae van skeppingsaktiwiteit. Dit is ’n konsep wat in die NT voortgesit word, as die Hebreërbrief sê: Elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne (Heb 4:10)

Die ses dae werk en die sewende dag rus, was vir Israel nie net ’n teologiese konsep nie, maar ’n lewenswyse wat vir hulle op ’n historiese werklikheid berus het. Hulle moes op die sewende dag rus net soos God op die sewende dag gerus het.

Ons het dus te doen met botsende wêreldbeelde, wat ons voor ’n keuse te staan bring. Kies ons vir ’n naturalistiese wêreldbeeld waarin God nie ’n rol speel nie, of kies ons vir die Bybelse wêreldbeeld wat hierdie werklikheid onlosmaaklik aan God verbind. Die uitspraak dat die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie, is ’n aanduiding van ’n keuse. Dit spreek van ’n onderliggende keuse vir ’n naturalistiese, godonterende wêreldbeeld.

In die gelowige se keuse hier gaan dit veral oor ’n keuse van tyd. Ons voel in hierdie dae belaglik om te staan by die Bybelse 6000 jaar. Daar is soveel aandrang in die samelewing op ’n onbepaalde verlede en ’n onbepaalde toekoms dat die Bybel vir ons ’n verleentheid geword het.

Ter versterking van ons geloof in die Bybelse wêreldbeeld wil ek die volgende noem:

Die Ortodokste Jodendom werk nog al die eeue met die Bybelse jaartelling. Volgens die Joodse kalender is ons nou (2018) in die jaar 5778 na die skepping.

Die Vrymesselaars het ook ’n kalender op grond van inligting in die Bybel. Hulle “Anno Lucis” staan op 4000 vC en kom dus neer op ’n tyd 6000 jaar gelede toe God gesê het: “Laat daar lig wees”. Isaac Newton het die skepping ook op 4000 vC bereken (kyk Belangrike Bybelse datums).

Ons moet dus aanvaar dat die Bybel, inligting gee waarmee geleerdes al eeue lank die ouderdom van die aarde bereken het. Dit is gebaseer op die geslagsregisters in die Bybel. Ons kan hierdie werklikheid eenvoudig nie van die tafel af vee met uitdrukkings soos: Die Bybel is nie ’n wetenskapshandboek nie.

Ek sal darem net graag ’n opmerking wou maak oor die voorbeeld wat Human aanbied om te bewys dat die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie. Hy meen dat 1 Sam 2:8 ’n onwetenskaplike uitspraak is: Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves.

Natúúrlik staan die aarde nie op pilare nie, maar wat Hanna daar gesê het was nooit bedoel as ’n Bybelse leerstelling aangaande die kosmos nie. 1 Sam 2 is ’n lofgebed van ’n vrou waarmee sy die Here geëer het vir die kind wat Hy haar gegee het.[5]

As ons so met die Bybel wil omgaan moet ons konsekwent wees en sê dat Nataniël ook onwetenskaplike uitsprake gemaak het in sy gedig oor Moederaarde:

Sy vryf haar moeë bene.
Sy’t ’n lang pad geloop.
Sy wonder oor haar kinders.
Dis haar heel laaste hoop.
Sy vou haar hande saam
Soos ’n eensaam gebed
O, wanneer gaan ons leer
Sy’s al wat ons het

Ons weet mos die aarde het nie bene nie en het nie kinders nie. Dit is beeldspraak wat tydlose betekenis het en is nie bedoel om wetenskaplik korrek te wees nie.

Ek sou vir Human wou vra waarom is julle akademici so ingestel op bevraagtekening van wat in die Bybel staan. In plaas daarvan om met entoesiasme die skoonheid van die verskillende genres van die Bybel aan die gewone gelowiges uit te wys, is julle voortdurend besig om onsekerheid by die gelowiges te bewerk oor wat hulle moet glo.

2.5. Die Bybel is nie ’n geskiedenisboek nie

Ek het reeds hierbo iets gesê oor die Bybel as geskiedenisboek, maar ek wil byvoeg: Human praat op bl 59 van “Israel se geskiedenis”. Ons stem almal saam dat Israel ’n geskiedenis het. Ons geloof handel oor God se handelinge met Israel in hulle geskiedenis. Daar is net een plek waar ons inligting kry oor die geskiedenis van Israel en dit is tog die Bybel. Daar is omtrent geen buite-Bybelse bronne waar ons iets te wete kan kom oor die geskiedenis van Israel nie.

Die Bybel is dus ’n geskiedenisboek. Die grootste gedeelte van die Bybel word aangebied as geskiedenis.

Waarom is dit vir Human nodig om verskoning te maak vir die Bybel, deur te beklemtoon dat dit nie ’n geskiedenisboek is nie. Hy sê op bl. 55: Die Bybel moet nie beskou word as ’n geskiedenis- of wetenskapshandboek wat presiese geskiedenisfeite leer …. Hy sê verder die Bybelskrywers het geskiedenisfeite en wetenskaplike “waarhede” van hulle tyd gebruik, maar ’n geloofskleed oor hierdie “feite” en “waarhede” gegooi.

Hieroor moet kommentaar gelewer word. Ek het gedink om sommer net lukraak ’n gedeelte uit die geskiedenis van Israel te berde te bring en in oënskou te neem:

1 Kon 16: (23)In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa. (24)Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg. (25)Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers. (26)Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het. (27)Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die Annale van die Konings van Israel. (28)Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

Kom ons beoordeel hierdie teks vanuit ’n historiese hoek.

  • Die skrywer gee genoegsame inligting sodat daar vandag bereken kan word dat Omri koning geword het in die jaar 925 vC.
  • Die skrywer vertel dat Omri verantwoordelik was vir die stigting van die stad Samaria wat later die hoofstad van die Noordelike Ryk geword het. Hy vertel dat die heuwel vir die stad by Semer vir 69 kg silwer gekoop is en die stad na Semer vernoem is.
  • Hy vertel van Omri se ontrou aan God deur sy sondige leefwyse.
  • Hy vertel ook dat die leser meer oor Omri kan lees in ’n ander geskrif met die naam Die Annale van die Konings van Israel.

Dit is in my opinie meesterlike geskiedskrywing veral in ag genome die tyd waaroor dit gaan. Die feit dat hy die geskiedenis beskryf en beoordeel vanuit sy geloofshoek maak die geskiedenis nie minder betroubaar nie. Hy bied feite en waarhede aan waarop ons amper 3000 jaar later steeds kan reken. Ek verstaan nie Human se beoordeling van die Bybelskrywers nie, as hy sê: die Bybelskrywers het geskiedenisfeite en wetenskaplike “waarhede” van hulle tyd gebruik, maar ’n geloofskleed oor hierdie “feite” en “waarhede” gegooi.

Daar is niks verkeerd daarmee om geskiedenis vanuit ’n bepaalde hoek te beoordeel en af te grens nie. Ek het onlangs na ’n vertelling deur Holger Eckhertz met die titel D-DAY throug German Eyes geluister. Ons is gewoond om na die Tweede Wêreldoorlog te kyk deur die oë van die Gealliëerde Magte. Dit was vir my uiters leersaam om die inval ook deur die oë van die Duitse soldate te ervaar. Die Duitse ervaring van die gebeure, doen geen afbreuk aan die erkende “feite” en “waarhede” van D-Dag nie, maar gee groter betekenis daaraan.

Die skrywer van 1 Konings het die geskiedenis van Israel beskryf vanuit die hoek van sy geloofsgenote en meer spesifiek vanuit God en sy profete se oogpunt. Dit is waarskynlik die skrywer se “geloofskleed” waarvan Human praat.

Is die “geloofskleed” van die skrywer ’n probleem vir die historiese werklikhede wat hy beskryf? Nee! Dit het meegebring dat hy nie net die goeie van Israel en sy konings beskryf het nie, maar ook die slegte.

Verder stel ons as Christene juis belang in die geskiedenis van Israel soos God dit beoordeel het. Ons stel nie belang in die geskiedenis van Israel, soos wat die Arameërs en die Assiriërs daarna gekyk het nie. Daarvoor sou ons ander bronne kon raadpleeg, as daar sulke bronne was. In werklikheid glo ek het die Bybelse geskiedskrywers vir ons meer betroubare inligting nagelaat van die destydse Oosterse samelewing as enige ander buite-Bybelse bron.

Chaim Potok in sy boek Wanderings, het probeer om die geskiedenis van Israel vanuit ’n buite-Bybelse perspektief te beskryf. Oor die tyd van Abraham (bl 20) beskryf hy die situasie as volg:

Recent scholarship has recovered some wispy fragments from the lives, movements and settlement patterns of people in the ancient world that seem to place Abraham between the years 2000 an 1900 B.C.E. I will follow that tenuous chronology here, with full awareness of its fragility and uncertainty and with the knowledge that some contemporary scholars are questioning its conclutions.

Oor die buite-Bybelse geskiedenis van Egipte skryf Potok in die genoemde boek (bl 40):

We see three thousand years of Egyptian civilization through the dubious optic of tattered scribal documents, damaged art, and chance discovery. That is all we have left of Egypt – official records, ruined temples, looted tombs, and almost no houses, towns or palaces. Even more than in the instance of Mesopotamia, scholars af ancient Egypt proceed with caution when they attempt to explore the interior of Egyptian civilization.

Die oudste en bekendste letterkundige werke uit die Griekse wêreld is die Iliad en die Odysee wat aan ’n onbekende figuur, Homerus toegedig word. Die werk word gedateer tussen 800 vC en 600 vC. As ons dit vergelyk met die historiese en letterkundige standaard van die Bybel kry ons nuwe waardering vir die werk van die Bybelskrywers. Die Odysee begin met die volgende woorde:

Tell me, O Muse, of that ingenious hero who travelled far
and wide after he had sacked the famous town of Troy.
Many cities did he visit, and many were the nations with
whose manners and customs he was acquainted; moreover
he suffered much by sea while trying to save his own life
and bring his men safely home; but do what he might he
could not save his men, for they perished through their own
sheer folly in eating the cattle of the Sun-god Hyperion; so
the god prevented them from ever reaching home. Tell me,
too, about all these things, oh daughter of Jove (Juppiter),
from whatsoever source you may know them.
So now all who escaped death in battle or by shipwreck
had got safely home except Ulysses, and he, though he was
longing to return to his wife and country, was detained by
the goddess Calypso, who had got him into a large cave and
wanted to marry him. But as years went by, there came a
time when the gods settled that he should go back to Ithaca;
even then, however, when he was among his own people,
his troubles were not yet over; nevertheless all the gods had
now begun to pity him except Neptune, who still persecuted
him without ceasing and would not let him get home.

Ek glo hierdie paar woorde gee ons ’n idee van die “geloofskleed” waarmee die antieke heidendom na die werklikheid gekyk en gebeure beoordeel het. Homerus se werk word as literêre werk hoog aangeslaan, maar is, in teenstelling met die Bybel, histories onbetroubaar.

2.6. Teologie as wetenskap

Human maak ’n saak daarvoor uit dat ons die Bybel “wetenskaplik” moet bestudeer (bl 56). Dit is nie baie duidelik wat hy daarmee bedoel nie, maar hy bring dit in verband daarmee om kritiese vrae oor God en die Bybel te vra. Hy breek ook ’n lansie vir Skrifkritiek en Hoër Kritiek.

Hy sê (bl 57) dat ons met behulp van wetenskaplike metodes reëls en riglyne ontdek om die Bybel beter te verstaan. Dit lyk of hy met die metodes bedoel dat ons vrae vra soos: Waar kom elke boek vandaan? Hoe het dit deel van die Bybel geword? Hoe lyk die geskiedenis agter elke boek … ens.

My bydrae oor die onderwerp van wetenskap is as volg:

Daar is niks nuuts aan “wetenskap” nie. Millenia gelede het die mense hulle al besig gehou met die vraag oor hoe dinge werk. In die ou Babiloniese, Sumeriese, Griekse, Chinese, Indiese en Egiptiese samelewings is die natuur reeds op empiriese wyse bestudeer en beskryf. ’n Goeie artikel hieroor is bv te lees by History of science (Wikipedia)

Die Universiteit het by uitnemendheid die plek geword, waar “wetenskap” bedryf word. Wetenskap het ’n towerwoord geword. Die gesekulariseerde mensheid het die wetenskap tot hedendaagse afgod verklaar. Wetenskaplikes het ’n soort priesterlike status gekry. Veral by National Geographic hoor ons gedurig van die bevindinge en voorspellings van die scientists. Hulle orakels word eenvoudig nie bevraagteken nie.

Wetenskap werk met die prinsipe van oorsaak en gevolg. Niks word aan die bo-natuurlike oorgelaat nie. In die kerk pas dit gelowiges om te sing: “God van yster en beton, Skepper van die vuurrooi son”, maar in die akademie waar die yster ontleed en die vuurrooi son bestudeer word is daar eenvoudig nie plek vir die Skepper daarvan nie.

Godsdiens is nog wel ’n akademiese studieveld omdat dit gesien word as ’n menslike fenomeen. God is by sommige ’n projeksie van die menslike gees. Dit is soos jy in akademiese kringe oor die godheid praat, maar daarby moet dit bly.

Die situasie wat ek hier skets is ’n ongeskrewe werklikheid, maar ook ’n godonterende werklikheid. Die eerste bede van die Ons Vader gebed is Laat U Naam geheilig word. Dit is soos Christene bid. God wil hê dat sy Naam op alle tereine van die samelewing geëer en gerespekteer sal word. Jesus het gesê ons mag ons nie skaam vir sy Naam nie (Mark 8:38).

Die teoloog het in hierdie opsig veral ’n probleem by die Universiteit. Hy is besig met teologie – die studie van God (theo logos), in ’n omgewing waar God omstrede is. Human se beroep op wetenskaplikheid moet teen hierdie agtergrond verstaan word. Ek verstaan dit as ’n poging om sy werk in die akademiese milieu wat ek hierbo geskets het te posisioneer.

Ons moet begrip hê vir teologiese dosente se probleem. Hulle word voor ’n keuse gestel oor wie hulle wil dien. Dit gaan ten diepste oor die selfverloëning en kruis opneem waarvan Jesus praat (Mat 16:24). Daar is vir hulle ’n loopbaan op die spel, maar die keuse van sg. wetenskaplikheid is nie ’n uitweg nie.[6]

Helmut Thielicke definieer teologie as ’n philosophically oriented discipline of religious speculation and apologetics that is traditionally restricted, because of its origins and format, to Christianity but that may also encompass, because of its themes, other religions, including especially Islam and Judaism. Kan ’n teoloog wat aan Christus getrou wil wees regtig met so ’n situasie vrede maak? Die wetenskapsafgod verwag van hom om in sy teologiese diskoerse, sy persoonlike geloof in God eers eenkant te parkeer.

Die Teologiese Fakulteit by UP, het soos ander teologiese fakulteite, die knie gebuig voor die aandrang van wetenskaplikheid en is nou ’n Fakulteit vir Teologie en Religie. UP se Missie is veelseggend: “The mission of the Faculty of Theology and Religion is to serve the church, community and science, with an emphasis on our devotion to the African context and sensitivity to the concerns of different Christian traditions of faith.”[7]

Human se verdediging van die konsep “Bybelwetenskap”, is ’n aanduiding van ’n keuse wat hy gemaak het. Sy keuse is onafwendbaar ’n keuse vir wat Paulus die teenswoordige wêreld noem (2 Tim 4:10).

Die volgende onderwerp vir bespreking dien as bevestiging van die vreemde paaie waarop die wetenskap ’n teoloog kan lei.

2.7. Mitologie

Hoofstuk ses se titel is: Mitologiese taal: verduistering of verheldering? Jona as illustrasie (bl 134).

Human vra in hierdie hoofstuk vir ’n herwaardering van die betekenis van die term mite. Hy sê: Ons kan die begrip ook verstaan as ’n storie of ’n vertelling met ’n boodskap: ’n verhaal wat betekenis en sin wil oordra ten opsigte van ’n individu of ’n volk, die herkoms van mense, gode en die wêreld, vrae oor die jeug en ouderdom, oor geslagtelikheid (man-wees of vrou-wees), die oorsake van siekte, lewe en dood, die bestaan van verskeie sigbare en onsigbare werklikhede, en hoe om waardig te lewe.

Hoe rooskleurig Human die term “mite” ookal wil skilder, kan ons nie wegkom van die feit dat ’n mite in die omgangstaal ’n storie is wat nie waar is nie. Mense sal bv sê: “Dis ’n mite dat koffie ongesond is.” ’n Mite is ’n storie wat nie waar is nie.

Verder verstaan ons mites as godeverhale uit die antieke tye, soos deur Homerus in die aanhaling hierbo. Mites is eenvoudig afgodies. Hulle verteenwoordig verhale en voorstellings uit die afvallige heidenwêreld. Hulle is gebore in ’n wêreld met ’n valse godsbeeld en skilder ’n wêreldbeeld wat vreemd is aan die onderrig van Moses, die profete en later die apostels in die NT. Hulle is daarom nie van God nie.

Teen hierdie agtergrond moet ons nou vir onsself duidelikheid kry oor Human se versoek om ’n herwaardering van mites in die Bybel.

2.8. Mitiese elemente in die Bybel

Human gee ’n redelik omvangryke bespreking van definisies van mites, die kenmerke en funksies van mites en soorte mites. So wil Human uitkom by die gedagte dat daar “mitiese elemente” in die Bybel is en dat Bybelskrywers mitologiese motiewe, sinspelings en maniere van dink by die volk Israel se bure geleen en dit in hulle eie geloofskonteks verwerk en verwoord (het).

Human gee die volgende voorbeelde van mitiese elemente in die Bybel (bl 142):

  • Die chaos-stryd motief:

Gen 1: (2)Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

Jes 17: (12)Ellende wag vir die baie nasies wat net so onstuimig as die see is, die opstandige volke wat te kere gaan soos magtige waters, (13)die opstandige volke wat te kere gaan soos die groot waters.

  • Vrede tussen mens en dier:

Gen 1: (28)Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.

Jes 11: (6)Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. (7)Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste.

  • Die tuinverhaal van Eden:

Gen 2: (8)Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon.

  • Die huwelike tussen godeseuns en mensedogters:

Gen 6: (1)Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is, (2)het die hemelwesens gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou met die dogters van hulle keuse.

  • Die godeberg Sion

Jes 2: (2)Daar kom ’n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, ’n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom

  • Die wêreldkoepel van God:

Gen 1: (2)Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

  • Die tempel as simbool van God se totale skeppingswerklikheid:

Jes 6: (1)In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. (2)By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

  • Die Skepper as die ruiter van die wolke:

Ps 104: (3)en vir U ’n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind

  • Die Here as Oorwinnaar oor alle vyandelike chaosmagte:

Eks 15: (19)Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan.

  • Die onderwêreld of Sjeool:

Ps 139: (8)Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

  • Voorbeelde uit die Psalms en die danklied van Jona.

Oor die danklied van Jona skryf Human op bls. 146/147:

Binne die antieke mitologië is die see en die vis as ’n sinspeling op die draakagtige monster Jam, in die godestryd van die kanaänietiese skeppingsmitologie, uitruilbare voorstellings. Soos die vis die helde in antieke mitologië ingesluk en uitgespoeg het, so het die antieke mense deur hulle sonmites uitdrukking gegee aan hoe die see saans die son insluk om dit weer die volgende dag uit te spoeg….

Die “drie dae en drie nagte” in die vis se ingewande bevat eweneens ’n mitologiese sinspeling. Dit dui daarop dat Jona se dood onafwendbaar en permanent is. In die Ou Nabye Ooste het die voorspellings bestaan uit die dood van ’n ligaam ná ’n drie dag lange tydperk permanent is (1 Sam 30:12). Hoop op herlewing was hierna onmoontlik (Joh 11:17,38b). In die Babiloniese mitologie het dié uitdrukking gedui op die tydperk wat dit gekos het om van die land van die lewendes na die land van die dood, Sjeool, te reis…..

Jona se lewensgevaarlike nood word beskryf met beelde van dreigende chaoswaters wat hom omring en sy lewe oorspoel. Jamim en Nahar (die name van twee mitologiese seemonsters) roep weer eens die lewensbedreigende chaosmagte in die Kanaänitiese skeppingsmitologie na vore. ….

Geworpe in die dieptes van die dood wat mitologies beskryf word, voel Jona weggedryf van God se heilige tempel, die simbool van sy kosmiese heerskappy ……

Mitologiese beelde van oerchaos (Tehôm), wat sinspeel op lewensgevaar en bedreiging, verswelg hom finaal. Sinspelings op die onderwêreld en doodsbeskrywings, wat herinner aan die uittoggebeure by die Rietsee, verseël Jona se lot agter die grendels van die dood …..

So skryf Human oor die mitologiese elemente en motiewe wat hy in die Skrif sien.

2.9. Die oorsprong van die mitologiese verskynsel (my verklaring)

Die mitologie is ’n omvangryke verskynsel wat dateer uit die antieke tye, maar nog steeds ’n groot rol speel in die wêreld waar mense afgode dien.

alt

Waar sou dit vandaan kom?

Karen Armstrong, wat Human as een van sy bronne gebruik het, sien die mitologie as deel van die mens se evolusionêre geskiedenis. Dit is millenia se pogings van die mens om sin te probeer maak van die onbegryplike. Armstrong sien dit as deel van die evolusie van die godsidee.

As Christene kan ons uiteraard nie met so ’n vertrekpunt saamleef nie. Ons moet die mitologiese verskynsel Bybels probeer verstaan. Ek wil ’n verklaring vir die mitologiese verskynsel aanbied, wat op Genesis 6 gebaseer is:

Genesis 6, waar ons lees van die “seuns van God” wat met die “dogters van die mense” vermeng het, gee in my opinie ’n sleutel vir die verstaan van die verskynsel van die heidene se godeverhale. Toe die “seuns van God” gaan kuier het by die “dogters van die mense” het hulle kinders gekry en so het daar reuse ontstaan.

Die Afrikaanse 1983 vertaling is myns insiens korrek as hulle vertaal dat die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. “Die seuns van God” moet as hemelwesens verstaan word en wel as demoniese persoonlikhede. Ek gaan uit van die standpunt dat dit dui op ’n werklike historiese gebeure in die verlede.

Human wil hierdie gedeelte in die Bybel sien as ’n mitiese element wat in die Bybel opgeneem is. Dit klink oortuigend, want in die mitologiese verhale is dit algemeen dat die gode en die mense met mekaar vermeng het en so kinders verwek het. Die aanhaling hierbo van Homerus se Odysee vertel bv dat die godin Calypso vir Ulysses in ’n grot aangehou het omdat sy met hom wou trou.

My verklaring is anders. As ons verder in Genesis 6 lees kom ons agter dat die vermenging van die hemelwesens en die mense die begin was van die totale verdorwenheid van die mense en dat God toe besluit het om die mensdom met die sondvloed uit te wis, (wat terloops volgens my ook nie ’n mite is nie).[8]

Ons moet Genesis 6 lees soos wat die skrywer dit bedoel het. Hy het bedoel om vir tyd en ewigheid te vertel van ’n ingrypende gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom.

Die Genesis 6 gebeure moet gesien word as die toppunt van ’n demoniese aanslag op aarde. Die Satan het in so ’n mate mag gekry oor die mense dat hy daarin geslaag het om nie net ’n bose karakter aan die mens se gees te gee nie, maar ook liggaamlik. Deur geslagomgang van demoniese wesens met die mens, het hy dit reggekry om die mens se DNA te penetreer en ’n nuwe gestalte te gee aan menslike boosheid. Daar is reuse gebore en hulle word beskryf as die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. (Ek het meer hieroor geskryf in Wat moet ons van die reuse sê waarvan ons in die Bybel lees?).

Die mitiese godeverhale wat oral in die antieke beskawings van die Sumeriërs, die Babiloniërs, die Egiptenare, die Grieke, die Romeine en die Amerikas voorkom is oorblyfsels in die menslike geheue van ’n verskriklike werklikheid wat in die gryse verlede plaasgevind het. Daar was ’n tyd toe die duiwel probeer het om die beeld van God uit die mens te haal en om die mens na sý bose beeld te omskep. Hy het op dié manier probeer om die koninkryk van God omver te werp en sy koninkryk volledig op God se aarde te vestig.

Die duiwel het nie in sy doelwit geslaag nie, want God het met die sondvloed ingegryp. Daar was egter ’n nalatenskap van menslike dwaasheid wat steeds in die godeverhale gesien kan word.

Die mense van die ou beskawings, het piramides gebou en hulle kon hoogs ingewikkelde berekeninge maak oor die sonnestelsel. God het aan hulle verstand en wysheid gegee om die aarde te ken en te onderwerp, maar hulle het hulle rug op hulle Skepper gedraai en hulle godeverhale is tot vandag toe nog ’n teken van die mag wat die satan oor die mens se denke gekry het. Hulle hele lewensuitkyk, hulle godsbeeld, hulle wêreldbeeld, hulle mensbeeld, hulle toekomsverwagting is verduister deur die mitologiese voorstellings waarin hulle verval het.

Paulus beskryf dit as volg: Alhoewel hulle God geken het, (het hulle) Hom nie as God verheerlik of gedank nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.Hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister (Rom 1:21).

Ek sien hierdie as vertrekpunt vir ons verstaan van die mitologie van die heidene en die skynbare voorkoms daarvan in die Bybel. Ons moet die saak dus as volg sien:

  • Die Bybelse skeppingsverhaal is die oorspronklike en die ware verhaal wat vir ons opgeteken en nagelaat is. Al die ander mitologiese verhale, wat vertel van ’n chaos-stryd motief ens, soos Human dit onder ons aandag bring is vervalsde weergawes en verwringings van die oorspronklike gebeure.
  • Die sondvloed verhaal is die ware weergawe van ’n wêreldomvattende goddelike gebeurtenis. Die Gilgamesh-epos en al die ander vloedverhale oor die aarde is patetiese verdraaide oorblyfsels van dit wat in die Bybel vir ons opgeteken is.
  • Die Bybelse skeppingsverhaal is nie net nog ’n skeppingsverhaal nie, dit is die verhaal van die skepping.
  • Die sondvloedverhaal is nie net nog ’n vloedverhaal nie, dit is die verhaal van die vloed.

As ons hierdie waarheid as vertrekpunt neem, kan ons verder gaan met die beoordeling van die kwessie van sogenaamde mites in die Bybel.

2.10. Die Leviatan en ander vreemde ongediertes

Ons lees inderdaad van vreemde ongediertes in die Bybel en die versoeking is verkeerdelik om ’n mitiese verklaring daaraan te heg.

Dit is moeilik te bepaal wat die Bybelskywers destyds in gedagte gehad het toe hulle van hierdie diere geskryf het. Daarom is dit vir die Bybelvertalers tekens ’n uitdaging om betekenis te gee aan die woorde wat destyds deel was van die mense se woordeskat. Ons sien dat die vertalers hulle sterk laat lei deur die konteks wanneer hulle die woorde probeer vertaal. Ek gee graag hier onder voorbeelde van wat ek wys geword het (die oorspronklike Hebreeuse woord word in blou aangedui):

  • Leviatan – Onbekende waterdier (5x)
    • Job 3:8 – mouring (King James); Leviathan (English Standard); A curse (Contemporary English); Leviatan (Afrikaans 1983)
    • Job 41:1 – leviatan (King James); krokodil (Afrikaans 1983)
    • Ps 74:14 – leviathan (King James); monster Leviathan (Good News); Leviatan (Afrikaans 1983)
    • Ps 104:26 – leviathan (King James); Leviathan, that sea monster (Good News);
    • Jes 27:1 – leviathan (King James); die Leviatan (Afrikaans 1983)
  • Behemot – Onbekende waterdier (1x)
    • Job 40:15 – behemoth (King James); hippopotamus (Contemporary English); Great Beast (1965 Basic English) seekoei (Afrikaans 1983);
  • Tannin/Tannim – Onbekende groot seedier (32x)
    • Gen 1:21 – great whales (King James); great sea monsters (Good News); groot seediere (Afrikaans 1983)
    • Eks 7:9 – serpent (King James); snake (Good News); ’n groot slang (Afrikaans 1983)
    • Deut 32:33 – dragons (King James); serpents (English Standard); snakes (Good News); slang (Afrikaans 1983)
    • Neh 2:13 – dragon (King James); dragon (Good News); jakkals (Afrikaans 1983); slang (Afrikaans 1953)
    • Job 7:12 – whale (King James); sea monster (English Standard); seemonster (Afrikaans 1983); groot seedier (Afrikaans 1953);
    • Job 30:29 – dragon (King James); jackals (English Standard); jakkalse (Afrikaans 1983);
    • Ps 91:13 – dragon (King James); serpent (English Standard); slange (Afrikaans 1983)
    • Eseg 32:2 – whale (King James); dragon (English Standard); groot monster (Afrikaans 1983)
  • Rahab – Onbekende monster (5x)
    • Ps 87:4 – Rahab (King James); Egypt (Good News); mense van Egipte (Afrikaans 1983)
    • Ps 89:10 – Rahab (King James); the monster Rahab (Good News); die monster Rahab (Afrikaans 1983)
    • Job 26:12 – the proud (King James); Rahab (English Standard); the monster Rahab (Good News); Rahab (Afrikaans 1983)
    • Jes 30:7 – Their strength (King James); Rahab (English Standard); Egypt, ‘The Harmless Dragon.’ (Good News); Rahab (Afrikaans 1983)
    • Jes 51:9 – Rahab (King James); sea monster Rahab (Good News); Rahab (Afrikaans 1983)
  • Nagash – Slang (28x)
    • Gen 3:1 – serpent (King James); snake (Good News); slang (Afrikaans 1983)
    • Job 26:13 – serpent (King James); monster (Good News); dragon / d?a???ta (Septuagint); seemonster (Afrikaans 1983)
    • Jes 27:1 – serpent (King James); dragon (Good News); slang (Afrikaans 1983)
  • Saraf – Slang van vuur wat vlieg ( 7x)
    • Num 21:6 – fiery serpents (King James); poisonous snakes (Good News); deadly / θανατουντας serpents (Septuagint); giftige slange (Afrikaans 1983)
    • Jes 6:2 – seraphims (King James); flaming creatures (Good News); serafs (Afrikaans 1983)
    • Jes 14:29 – fiery flying serpent (King James); flying fiery serpent (English Standard); flying dragon (Good News); flying fiery dragon (Contemporary English); vlieënde draak (Afrikaans 1983); vlieënde draak ((Afrikaans 1953)
  • Efeh – Gevaarlike slang (3x)
    • Job 20:16 – viper (King James); deadly snake (Good News); viper (American Standard); adder (Afrikaans 1983)
    • Jes 30:6 – viper (King James); adder (English Standard); poisonous snakes (Good News); slange (Afrikaans 1983)
    • Jes 59:5 – viper (King James); snake (Good News); slange (Afrikaans 1983)
  • Tsefa – Gevaarlike slang (5x)
    • Spr 23:32 – adder (King James); poisonous snake (Good News); kobra Afrikaans 1083)
    • Jes 11:8 – cockatrice (King James); adder (English Standard); basilisk (1899 Douay-Reims); giftige slang (Afrikaans 1983); basilisk (Afrikaans 1953)
    • Jes 14:29 – cockatrice (King James); adder (English Standard); poisonous snake (Contemporary English); slang (Afrikaans 10)
    • Jes 59:5 – cockatrice (King James); adders (English Standard); slang (Afrikaans 1983);basilisk (Afrikaans 1953)
    • Jer 8:17 – cockatrice (King James); slang (Afrikaans 1983); basilisk (Afrikaans 1953);
  • Pethen – Gevaarlike slang (6x)
    • Deut 32:33 – asp (King James); asp (English Standard); cobra (Contemporary English; adder (Afrikaans 1983); adder (Afrikaans 1953)
    • Ps 91:13 – adder (King James); adder (Afrikaans 1983);

Ek wil nie voorgee dat ek in staat is om ’n finale woord te spreek oor die vreemde verskynsels waarvan ons in die Bybel lees nie. Ek wil nogtans probeer om ’n paar handvatsels te gee om aan vas te hou vir die verstaan en die beoordeling van die onderwerp.

2.11. Pre-historiese diere blyk nie pre-histories te wees nie

Die paleontologie wil voorgee dat daar ’n tydperk van pre-historiese diere was, voor die koms van die mens (The Earth before Adam). Die Bybel ken nie so ’n pre-historiese tyd nie.

PREHISTORIESE DIERE IN OU ROTSTEKENINGE

alt Agawa Rotstekening by Lake Superior Ontario
alt Rotstekening in Koeweit. Dinosourus beendere is ook daar gekry.
alt Uit klip gekap en op ’n tempel van Angkor in Kambodië se woude gekry. Dit lyk baie na ’n Stegosourus. Dit is ongeveer 800 jaar gelede gedoen (1186), dus lank voor fossiele as dinosourusfossiele geklassifiseer is.

Die afgelope aantal jare het daar almeer aanduidings na vore gekom dat die diere wat aan ons as pre-histories voorgehou word in werklikheid saam met die mens op die aarde geleef het. Daar is op verskillende plekke in die wêreld rotsrekeninge en ander kunswerke gevind waarin vreemde diere, wat soos dinousorusse lyk, deur mense geskilder is. Daaruit blyk dit dat mense van ouds, bekend was met hierdie diere wat vandag uitgestorwe is. Die mense wat hierdie kunswerke gemaak het was nie veronderstel om te weet van die sg. pre-historiese wêreld nie. Hierdie werklikheid vra vir ’n radikale kopskuif oor die verlede.[9]

Dit behoort dus nie vir ons vreemd te wees as Job ook waarskynlik ’n pre-historiese dier beskryf het toe hy oor die leviatan gesê het:

Job 41: (9)As hy nies, spat die vonke, sy oë is so rooi soos die daeraad. (10)Daar kom vuur uit sy bek, die vonke waai deur die lug. (11)Daar trek rook uit sy neusgate, soos uit ’n kokende pot op ’n vuur. (12)Sy asem steek vure aan, daar skiet vlamme uit sy bek. …… (21)Die skubbe aan sy onderkant het punte soos potskerwe, soos ’n dorsslee maak dit merke op die modder.

Die vertaling van leviatan met ’n krokodil is nie oortuigend nie. Die rook uit sy bek en neus verg verdere bespreking, maar die skubbe aan sy onderkant, met punte soos potskerwe, pas meer by een of ander pre-historiese dinosourus, as by ’n krokodil met sy gladde pens.

Dieselfde geld van die behemoth in Job 40:10. Dit word met seekoei vertaal, maar in Job 40:12 lees ons: Sy stert is so reguit soos ’n seder. ’n Seekoei se stert is verdwerg agter sy logge lyf, maar dinousorusse is wel bekend vir hulle massiewe sterte. Verder staan daar in vers 14: Onder alles wat Ek gemaak het, staan hy eerste, net sy Maker kan hom verslaan. Is die seekoei regtig so ’n uitsonderlike dier dat die Here hom beoordeel as die eerste, die gevaarlikste van al die diere wat die Here gemaak het? Dinosourusse daarenteen moes na bewering tot 70 ton geweeg het.[10]

2.12. Egipte is Rahab en Behemot

Egipte met sy baie afgode het die setel geword van die heerskappy van die bose en afgodiese magte. Hierdie vertrekpunt glo ek gaan ons help om baie van die tekste oor die vreemde diere te verstaan.

Toe Moses met die Farao in konfrontasie gegaan het, het hy ook met die afgodiese, demoniese kragte van die Egiptenare in botsing gekom. Dit blyk uit die tekens wat die Here vir Moses gegee het om voor die Farao en sy towenaars te doen. Moses se kierie het deur die mag van God ’n slang geword. Dit is hier (Eks 7:9) waar die normale woord vir slang nie meer gebruik word nie, maar vervang word met die Hebreeuse tiannin, wat op ander plekke met selfs met ’n draak vertaal word (Deut 32:33 King James). Die towenaars het daarop geantwoord deur dieselfde met hulle towerkunste te doen. Hulle kon dit alleen doen met die mag wat satan aan hulle gegee het. Die towenaars was in staat om net soos Moses ook water in bloed te verander. Eers later toe Moses met die mag van God muggies oor Egipte laat kom het, het hulle gesê: Dit is die vinger van God! Hulle kon dit nie nadoen nie.

Egipte het mettertyd ’n naam gekry. Die naam was Rahab, wat verband hou met een wat lastig is, of spog.

  • Ps 87: (4)Ek reken onder dié wat my ken ook die mense van Egipte (Rahab) en Babel, selfs dié van Filistea, Tirus en Kus.
  • Ps 89: (9)U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar. (10)U het die monster Rahab verbrysel, hy is verslaan. Deur u groot mag het U u vyande uitmekaargejaag.

Die onstuimige see in Ps 89 moet digterlik verstaan word as ’n uitdrukking vir die nasies wat hulleself mobiliseer om magtige dade te doen (Ps 93:3,4; Jes 8:7). Rahab as beeld van Egipte, pas in daardie konteks in.

Jes 30:6-7 is veelseggend. Egipte is nie net Rahab nie, maar ook behemot (wat verder net in Job 40 genoem word:

  • Jes 30: (6)’n Uitspraak van die Here oor die diere (behemot) in die Suidland: Die gesante van Juda bring hulle ryk geskenke, hulle skatte, op die rûe van hulle donkies en hulle kamele; hulle bring dit deur ’n gebied vol gevaar en angs waar leeus en slange (efeh) boer en waar drake (saraf) rondvlieg, hulle bring dit na ’n volk toe wat nie kan help nie. (7)Egipte is niks, sy hulp beteken niks! Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie.

Die gedeelte moet as volg verduidelik word:

Toe Israel in die moeilikheid was het hulle ’n afvaardiging na Egipte gestuur om daar te gaan hulp soek. Jesaja beskryf die dwaasheid van hulle poging in digterlike taal. Hulle stuur ’n swaar gelaaide karavaan vol geskenke om Egipte se guns te wen. Hulle is bereid om deur die gevaarlike woestyn te reis, waar hulle bereid is om slange en ander ongediertes te trotseer. Net Egipte en nie meer die Here nie, is die enigste wat kan help. Egipte is vir hulle die groot Behemot van die wêreld, maar in werklikheid is Egipte net Rahab. Die Here se boodskap vir hulle is volgens die Contemporary English Version: Egypt can’t help you! That’s why I call that nation a helpless monster.

In Jes 51 praat Jesaja ook van die monster wat verslaan is. Ons moet dit verstaan teen die agtergrond van Israel se uittog en Egipte se vernietiging toe die see op hulle toegemaak het:

  • Jes 51: (9)Gryp in, Here, gryp in! Toon u mag, u krag! Gryp in soos in die ou tyd, soos in tye lank gelede. Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het nie, wat die seemonster deurboor het nie? (10)Is dit nie U wat die see, die groot diep waters laat opdroog het nie, U wat op die seebodem ’n pad gemaak het sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie?

In Ps 74 kry ons ook weer met digterlike aanskoulikheid ’n beskrywing van die Rooi See gebeure:

  • Ps 74: (13)Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het, U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het. (14)U wat die koppe van die Leviatan verpletter het en hom vir die haaie gegee het.

Daar staan in werklikheid dat die Here die Leviatan wat Hy doodgemaak het, as kos vir die mense in die woestyn gegee het. As mens in aanmerking neem dat die LXX lees dat die Leviatan kos vir die mense in Etiopië was, bevestig dit die uitleg dat Ps 74:13 bedoel is as beeldspraak vir die Egiptenare wat by die Rooi See omgekom het.

In my opinie is dit dus duidelik dat Rahab, Leviatan, Behemot ens waarvan ons in die Bybel lees, verwys na diere wat ons nie vandag meer ken nie. Hulle kon moontlik nog in die tyd van die Bybelskrywers geleef het, of hulle was dalk reeds uitgestorwe, maar het nog deur oorvertellings in die geheue van die mense van daardie tyd geleef.

Hierdie diere word aan Egipte verbind, waarskynlik weens die feit dat hulle kennelik waterdiere was en die Nyl vir hulle ’n tuiste kon wees. Egipte is versimboliseer met van hierdie diere, soos ons ook vandag nog praat van bv die Franse Hane, die Britse Leeus en die Argentynse Pumas. Dit is ook moontlik dat Rahab en Leviatan op ’n stadium, soos baie ander diere, goddelike status in Egipte gekry het en so verder met Egipte vereenselwig is.

2.13. Wat van die drake?

In die verskillende Bybelvertalings word na woorde gesoek om die onbekende diere mee te vertaal en so kry ons veral in die King James woorde soos “dragon”, “serpent”, “viper”, “adder”, “basilisk” en “cockatrice”. Wat moet ons hiervan sê?

Oerdiere met magiese kragte leef reeds vir baie eeue in die gedagtes van die mensdom. Wikipedia skryf bv die volgende:

In Jewish apocrypha and pseudepigrapha such as the 2nd century BCE Book of Enoch, Behemoth is the primal unconquerable monster of the land, as Leviathan is the primal monster of the waters of the sea and Ziz the primordial monster of the sky. According to this text Leviathan lives in “the Abyss”, while Behemoth the land-monster lives in an invisible desert east of the Garden of Eden (1 Enoch 60:7–8). A Jewish rabbinic legend describes a great battle which will take place between them at the end of time: “…they will interlock with one another and engage in combat, with his horns the Behemoth will gore with strength, the fish [Leviathan] will leap to meet him with his fins, with power. Their Creator will approach them with his mighty sword [and slay them both].” Then, “from the beautiful skin of the Leviathan, God will construct canopies to shelter the righteous, who will eat the meat of the Behemoth and the Leviathan amid great joy and merriment.” (Artscroll siddur, p. 719).

DRAKE IS DEEL VAN BAIE VOLKE SE KULTUURERFENIS

alt Die Chinese het twaalf diere in hulle diereriem (zodiac). Elke twaalfde jaar vier hulle die jaar van die draak.
alt St. George die beskermheer van Engeland het volgens legende die laaste draak doodgemaak.
alt Laocoon en sy seuns in die Vatikaan. By die Grieke was daar nie drake nie, maar mitologiese slange.

In die Ooste en in die Weste is daar volksverhale van drake. DreamWorks het onlangs ’n uitstekende jeugfilm gemaak met die titel: How to tame your Dragon wat afspeel in ’n mitiese Viking omgewing. In die Chinese kultuur speel drake tot vandag toe nog ’n belangrike rol. Drake is nie vir die Chinese ’n vyandige dier nie. Draakagtige diere het dus van ouds af by die volke ’n mitiese of magiese karakter gehad.

Die vraag is steeds of hierdie mitiese gediertes ’n aanvaarde deel was van die godsdienstige belewenis van Israel? My aanvoeling hieroor is: Nee! Israel het wel in die afgodiese, mitiese wêreld geleef, maar hulle verhouding met God het dit in beginsel uitgesluit dat hierdie afgode deel van hulle wêreldbeeld was. Alles van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is het aan God behoort. Alle vorme van animisme was uitgesluit in hulle wêreldbeeld. God het immers in sy wet beveel: Jy mag vir jou geen ander gode voor my aangesig hê nie.

2.14. Afwysing van Human se gedagtes oor mites in die Bybel

  • Die versoek van Human om ’n “herwaardering” van die term “mite” gaan nie op nie. ’n Mite bly eenvoudig wat die woord en die woordeboek sê – dit is heidense godeverhale.
  • Human praat van “mitiese elemente” in die Bybel in terme van outeurs wat die mitologiese motiewe, sinspelings en maniere van dink by die volk Israel se bure geleen en dit in hulle eie geloofskonteks verwerk en verwoord het (bl 142). Hulle het die motiewe se oorspronklike betekenis geontmitologiseer en opnuut in die Jahwe-geloof beskryf (bl 143).
  • Wat Jona se danklied betref sien Human voortgaande mitologiese sinspelings …. in die ingewande van die vis – die simbool van die dood…. Jamim en Nahar (die name van twee mitologiese seemonsters) roep weer eens die lewensbedreigende chaosmagte in die Kanaänitiese skeppingsmitologie na vore.

In terme van my uitleg oor die onderwerp hierbo kan ek my nie versoen met hierdie soort inkorporering van “mitiese elemente” in die Bybel nie.

3. Ernest van Eck

Die Nuwe Testamentikus Ernest van Eck skryf oor Metaforiese vonke en mitologiese taal (bl 151).

Van Eck sê: Wanneer ons uitgaan van die standpunt dat alles in die Nuwe Testament letterlik opgeneem móét word, mis ons die dikwels die betekenis van sekere verse en vertellings” (bl 154). Hy meen ’n Mitologiese lees van tekste wil juis nie in beginsel die historisiteit van sekere verhale bevraagteken nie, maar eerder vra na wat die betekenis daarvan is (bl 159).

alt

Hy neem Mat 14:22-33 as voorbeeld waar dit gaan oor Jesus wat op die water geloop en die storm laat bedaar het. Van Eck sien hierdie vertelling as ’n mitologiese spreke oor God. Dan wil hy die Babiloniese skeppingsverhaal hierby betrek. Daarvolgens het Mardoek die aarde geskep, deur Tiamat, die godin van die see te oorwin. So is die chaosmagte, die see oorwin. In die Baälgodsdiens kry ons dieselfte tema.

Hy gaan voort om te sê dat Genesis 1 wil sê dat dit God is wat die chaosmagte oorwin het. Net so is die boodskap van Mat 14:22-33 dat Jesus die waters oorwin het net soos God dit gedoen het. Vir die disspels kan dit net een ding beteken: Jesus is God! (bl 162).

Van Eck meen dat hierdie betekenis van die vertelling in Mat 14:22-33 nie raakgesien kan word as die vertelling bloot letterlik gelees word nie (bl 162). ’n Mitologiese lees van hierdie vertelling bring egter die betekenis na vore dat die dissipels Jesus hier as God erken omdat Hy mag het oor die storm en die see. Juis daarom kniel hulle voor Hom en bely hulle dat Hy die Seun van God is. … Wat hierdie mitologiese verstaan wel na vore bring, is dat die dissipels in Jesus vir God ervaar het. En dit is histories.

Ek het met hierdie paar aanhalings ’n weergawe probeer gee van wat Van Eck wil sê oor sy onderwerp: Metaforiese vonke en mitologiese taal.

In die voorbeeld wat hy gebruik van Jesus wat op die water geloop het gaan hy uit van die veronderstelling dat Matteus, toe hy die Evangelie geskryf het en die dissipelkring, toe hulle in die storm gewees het, die Babiloniese en Oegaritiese wêreldbeelde as verwysingspunt gehad het.

Dit is so ’n absurde gedagte, dat ek dit nie nodig ag om dit veel verder te beredeneer nie. Die dissipels was Jode en het sáám met Jesus, die enige God van die Bybel aanbid. Dit is onbegryplik dat Van Eck die wêreldbeeld van die Oosterse godsdienste, eeue voor Christus, wil gebruik as hermeneutiese sleutel om betekenis te gee aan die gebeurtenis op die see waarvan Matteus vertel.

Die les wat Van Eck in die mitologiese verstaan van die teks kry is dat die dissipels in Jesus vir God ervaar het. Vir ons is die betekenis (met die oog op die prediking) blykbaar as volg: Dit sal in die eerste plek op vrees en geloof konsentreer, naamlik dat vrees ons in so ’n mate kan oorval dat ons kan ophou leef. Ons sal selfs kon sê dat, wanneer die lewe ons oorval, daar wel hulp is, en dat geloof ’n belangrike rol speel in hoe ons die lewe behoort te benader.

Die regte en gewone manier om na die teksgedeelte te kyk is om dit te respekteer as ’n betroubare weergawe van ’n werklike gebeurtenis toe Jesus op aarde was. Jesus het Homself by die geleentheid aan sy dissipels geopenbaar as die Seun van God. Hulle moes daaruit leer en onthou dat Hy veel meer was as net ’n rabbi en ’n profeet. Dit is ook vir ó ns opgeteken, sodat ons kan verstaan wie Jesus is. Die sekondêre boodskap van die teks is, dat Jesus steeds dieselfde Here is wat van ons weet en ook vir ó ns nie aan onsself sal oorlaat in die storms van ons lewens nie.

Enige pogings om mitologiese voorstellings in Mat 14:22-33 in te lees is blote onwaarheid en moet as sulks verwerp moet word.

4. Alfonso Groenewald

Die Ou Testamentikus Alfonso Groenewald het ’n artikel geskryf onder die hoof: “Messiaanse tekste in die Ou Testament” (bl 163).

Ek haal sy sieninge sover moontlik woordeliks uit die artikel aan.

Groenewald het ’n probleem daarmee dat Christene vir eeue lank die Ou Testament as slegs ’n voorspelling van Christus gelees het. Dit het meegebring dat daar weinig of geen begrip was vir die feit dat die Jode nié in Jesus as die Messias glo nie. Hy oordeel dat die Joodse “ongeloof” (sy aanhalingstekens) vir die Christene ’n saak van ergernis geword het.

Groenewald gee vanuit sy teologiese raamwerk (wat ook maar op Wellhausen gebaseer is) ’n oorsig van die onstaan van die Messiasverwagting in Israel. Hy bespreek die belofte aan Dawid van ’n seun, wat ook ’n seun van God sal wees (1 Sam 7:14). Groenewald glo dit is ’n invoeging uit die ballingskap of naballingskaptyd (ná 539 vC). Hy kom ook by die Messiaanse verwagtinge in die profeteboeke uit en uiteindelik by die apokaliptiek van Daniël, wat hy dateer in die jaar 165 vC. Hy bespreek die menslike wese wat Daniël in ’n visioen gesien het (Dan 7:13). Die hoë en verhewe figuur verteenwoordig volgens Groenewald die chassidiem, die vromes, in die Makkabeërtyd en verwys nie na ’n Messiasfiguur nie. Die boodskap is dat die geheiligde en gesuiwerde Israel (12:10) spoedig aan die regterhand van God sal sit en oor die wêreld heers (bl 176). Hy bespreek ook die Messiasverwagting by die Koemraangemeenskap en bevind dat die Joodse Messiaanse verwagting ’n pluriforme gestalte aangeneem het.

Groenewald gee die volgende samevatting van sy artikel: Dit het duidelik geword dat die Joodse Messias anders is as die Christelike Messias. “Christene glo en bely dat Jesus van Nasaret die Christus (“Gesalfde”) is. In die kerk word die Ou Testament dus gelees met ’n blik gerig op Jesus Christus. … Indien ons die Ou Testament met ’n fyner blik lees, sien ons dat die problematiek aansienlik meer ingewikkeld is. Die Joodse tradisie lees dieselfde tekste, maar kom tot ander insigte.

Ek het regtig gedink dat ons teen hierdie tyd darem al vir ons sou duidelikheid gekry het oor wie Jesus is. Paulus het immers 2000 jaar gelede reeds die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is (Hand 18:28).

5. Gert Steyn

Die Nuwe Testamentikus Gert Steyn se bydrae is: Messiaanse tekste in die Nuwe Testament (bl 182).

Ek wil twee punte in die artikel van Steyn na vore bring, wat vir my tendense aandui van hoedat daar in die teologie na die Bybel gekyk en oor die Bybel gepraat word:

5.1. Húlle (maar nie noodwendig ek nie)

Die volgende aanhalings met my onderstrepings verduidelik wat ek bedoel:

Paulus en Petrus , interpreteer die gebeure rondom Jesus van Nasaret in die lig van hulle verstaan van die Skrifte. Hulle het dit gelees deur die bril van Jesus se geboorte, optrede, lyding dood, …… hulle het elk van hierdie gebeure bestudeer aan die hand van hulle Skrifte …. In hulle uiteensettings ….. haal hulle uit hierdie Skrifte aan …. Die rol wat hierdie Skrifte in hulle verstaan en interpretasie van spesifiek die Jesus-gebeure gespeel het ….

Wat moet ons uit hierdie styl van redenasie wys word van die outeur? Ek dink nie dit is oorkrities as die leser ervaar daar is afstand tussen die outeur en die mense van wie hy skryf nie. Dit was húlle verstaan, húlle uiteensettings, húlle Skrifte en húlle interpretasies. Die skrywer wil voorgee, hy gee maar net ’n weergawe van wat húlle gedoen het, maar dit is nie noodwendig sy opinie nie.

Is dit regtig nodig dat ons in die teologie so klinies na die Skrif moet kyk en die apostels, so van ’n afstand af moet beoordeel? Waar kom hierdie manier vandaan? Is dit ’n voorskrif vir teologiese nadenke vanuit godsdienswetenskaplike oogpunt? Waar is die passie, waar is die hartlike vereenselwiging met die leer van ons voorgangers, soos bv by Judas:

Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas 1:3).

Of Calvyn:

Dit is dus ’n vaste grondstelling, dat ’n mens geen ander Woord van God kan hê, waaraan mens in die kerk ’n plek kan gee, as dit wat eers in die wet en die profete, en verder in die apostoliese geskrifte vervat is, en dat daar geen ander wyse is om na behore in die kerk te leer as na die voorskrif en die reël van daardie Woord nie (Boek IV, Hoofst VIII,8).

5.2. Inperking van die Ou Testamentiese profesie

Steyn sluit sy artikel af met die volgende woorde:

’n Ondersoek na die “messiaanse tekste” in die Nuwe testament is, myns insiens, ten diepste ’n studie van die Christologiese interpretasie van die vroeg-Christelike skrywers se geskrifte. …. Dit is meer verantwoordelik om te praat van “Ou Testamentiese Skrifverwysings in die Nuwe Testament as van “heenwysings na Christus in die Ou Testament (bl 196).

Heenwysings gaan volgens Steyn met die Skrif om asof dit ’n “magiese” boek is waarin “vooruitgelees” kan word wat in die toekoms in ’n ander konteks en in ander omstandighede gaan gebeur.

Steyn en sy geesgenote propageer hier ’n baie ingrypende afwyking op ons verstaan van die Skrif en die wyse waarop die Gees deur die eeue in die kerk gewerk het. Profesie in die Ou Testament is ’n groot onderwerp, maar ek voel dit is genoeg om net te herinner aan die wyse waarop die apostel Petrus oor profesie geskryf het:

1 Pet 1: (10)In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. (11)Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. (12)Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

2 Pet 1: (20)Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, (21)want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Ons kan hierdie belangrike uitsprake nie afmaak soos Steyn voorstel, as bloot ’n Christologiese interpretasie van die vroeg-Christelike skrywers aangaande die Ou Testamentiese geskrifte nie.

Jesus is die Christus juis omdat die Skrif in Hom vervul is. “Christus” is nie ’n titel wat uit die lug gegryp is nie. Hý was die een oor wie daar geprofeteer is. Die persoon wat dit ontken, het geen gronde meer om Jesus die Christus te noem nie. Johannes die Doper het ’n boodskap na Jesus gestuur met die vraag: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? (Mat 11:3). Johannes het onseker geraak of hy die Skrif reg verstaan het en of hy die stem van die Here reg gehoor het. Daarom het hy die vraag aan Jesus gevra.

Dit is dus baie ingrypend as teoloë soos Steyn wil ontken dat die profete onder leiding van die Gees aangaande Jesus geprofeteer het.

Daarmee misken hy die duidelike leer van die apostels aangaande Jesus die Christus.

Hy ontken ook dat die Gees, deur Jesaja van Jesus gepraat het: Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie? (Jes 53:3)

Hy ontken ook dat die Gees deur Sagaria van Jesus gepraat het in Sag 12:10: Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ’n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het?

Hy ontken ook dat die Gees deur Dawid van Jesus gepraat het toe hy in Ps 110:1 gesê het: Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete?

(Kyk ook Die Bybel oor die vervulling van profesieë.)

Wie ontken dat die Gees op dié wyse in die Ou Testament opgetree het, ontken nie alleen die getuienis van Jesus en die apostels nie, maar is weerstandig teen die wyse waarop God Homself onder die mense geopenbaar het. Dit is meer as net ’n misvatting. Dit lyk vir my na ’n sonde. Dit is ’n direkte oortreding teen God se Woord. Dit is ’n oortreding wat bely moet word, omdat dit ernstige gevolge het vir die een wat daarmee volhard.

6. Ander bydraes

Hiermee wil ek volstaan met my beoordeling van Vaste Rots. Die ander artikels in die boek oor bv die maagdelike verwekking, versoening en die opstanding verloop in dieselfde trant as wat ek reeds bespreek het. Die skrywers ontken aan die einde nie noodwendig die ortodokse leer nie, maar hulle wil die getuienis van die evangeliste en die apostels eers toets aan die godsdienstige beskouings en gebruike van daardie tyd. Daarna kom hulle telkens (dikwels halfhartig) tot ’n bevinding.

Ek kan nie verstaan wat die godonterende afgodery van die Baliloniërs, die Egiptenaars, die Perse en die Grieke te doen het, met die verhewe openbaring van God in Jesus Christus nie.

’n Vaste rots?

As die boek bedoel is as ’n poging om die Bybel vir die gewone lidmaat, of vir wie ookal, as ’n “Vaste Rots” voor te hou, waarop jy jou geloof kan bou, is dit nie ’n geslaagde poging nie. Die skrywers laat die indruk van mense wat die Bybel, sonder entoesiasme, met handskoene aan dissekteer.

Cas Vos skryf ironies in die Epiloog van die boek (bl 416): “Liewe leser, saam het ons ’n lang reis afgelê. ’n Vermoeiende reis. Want jy moes al jou krag en vernuf gebruik om koers te hou. …. Uiteindelik moet jy dit wat ander sê jou eie maak. Maar jy hoef dit nie soos al die teoloë te doen nie. Hulle tas ook maar rond”.

’n Goeie samevatting van ’n tragiese situasie!

Die gedagtegange in Vaste Rots is vér verwyder van wat ons by Judas in die Bybel hoor: Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid (Jud 1:20).

Verstaan die skrywers van die boek dat hulle met hulle teologiese eksperimente, in werklikheid besig is met die kerk se allerheiligste geloof? Judas sê dat hierdie bouwerk biddend, in teenwoordigheid en in afhanklikheid van die Heilige Gees moet geskied. As die Heilige Gees afwesig is verval die teologie bloot in ’n stokperdjie van onverantwoordbare akademici. Dit is ongelukkig wat ek op mý vermoeiende reis met die boek beleef het.

Die “rots” wat vir ons in Vaste Rots geskilder word, is nie ’n rots waarop jy jou geloof kan bou nie. Dit is in elk geval nie die Vaste Rots waarvan ons in Lied 508 sing nie.

Gal 3: (1)O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is, as onder julle gekruisig?

Voetnotas

[1]Eksegese is die vertolking of kritiese interpretasie van ’n teks. Dit is om te bepaal wat die bedoeling van die oorspronklike skrywer was en hoe die eerste lesers dit sou interpreteer. Hermeneutiek is die studie om te bepaal hoe die Bybel vertolk of geïnterpreteer moet word. Dus, die hermeneutiek bepaal die eksegese van ’n gedeelte.

[2] Kyk Om geloof en wetenskap te skei en Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.

[3] Kyk Probleme met die oerknal.

[4] Kyk ook Die Bybel oor skepping vs evolusie.

[5] Kyk ook Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?.

[6] Kyk ook Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?.

[7] Kyk ook UV Fakulteit Teologie stel godsdienste gelyk.

[8] Kyk ook Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?.

[9] Kyk ook Dinosourusse saam met mense.

[10] Kyk Behemoth and leviathan in the book of Job en Could Behemoth have been a dinosaur?.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui