Van Gatjieponder tot stoere Dopper

Kyk ook:

UV (Universiteit Vrystaat) se teologiese fakulteit, was reeds al verskeie kere vir die verkeerde redes in die nuus:

Hieronder word berig dat prof Fanie Snyman vervang word deur prof Rantoa Letsosa van die Gereformeerde Kerk. Is dit dalk ’n stap in die regte rigting? Kom ons hoop so.

**********************

Van Gatjieponder tot stoere Dopper

Netwerk24

Deur Dirk Kok
16 Februarie 2019

Prof. Rantoa Letsosa van die Gereformeerde Kerk is die aangewese dekaan van die Universiteit van die Vrystaat se teologiefakulteit. Hy praat in sy kantoor op die Kovsiekampus oor onder meer sy groot drome vir die fakulteit.

In die banke van die NG Kerk in Afrika in sy grootworddorp, Fauresmith, het hy hom as jong seun verbeel hy staan op die preekstoel en bedien die Woord aan die gemeente. Om ’n dominee te word was sy kinderdroom.

Vandag is hy dominee, doktor en professor Rantoa Letsosa, en aangewese dekaan van die UV se teologiefakulteit. Hy het aan die begin van die jaar by die fakulteit ingeval en op 1 September word hy die dekaan in die plek van prof. Fanie Snyman wat afgetree het. En hy het groot drome vir die fakulteit en vir homself as dekaan en predikant in murg, been en siel.

Maar was dit nie vir ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk in Kemptonpark en ’n Gereformeerde predikant van die aangrensende Tembisa nie, het sy lewe dalk anders verloop. Want in sy laaste hoërskooljare en aan die begin van sy grootmenslewe het dit vir hom gevoel die deure klap vir hom toe en sy droom om predikant te word lê aan skerwe.

“Ons was NG Kerk-mense in Fauresmith. My pa, wyle Mo­sieua, wat agter bouwerk aangetrek en uit gewerk het, was baie jare lank ’n ouderling. Ma Sarah, wat nou 91 is en steeds in Fauresmith bly, was jare lank ’n kassier in ’n winkel. Sy was lank die voorsitter van die kerk se vrouevereniging.

“As seuntjie al het ek geglo ’n mens moet groot droom. My droom was om ’n predikant te word. Ek wou mense help en Christus verkondig.”

Kom sy hoërskooljare, moet hy koshuis toe in Thaba Nchu, na die Sediti High School in die diep platteland waar hy goed presteer en as hoofseun matrikuleer.

“Alles was ver van die skool af. Die NG kerk was ver, toe gaan ek maar na die Metodiste toe omdat dit nader was. Hier in st. 9 het ek egter die NG dominee gaan sien om uit te vind wat my te doen staan om predikant te kan word. Daardie jare was daar mos nie internet nie en baie rompslomp. Hy het my aan ’n lyntjie gehou. In my matriekjaar was die kwessie dat ek nie ’n attestaat van die NG kerk kon kry nie, maar slegs ’n trek- of kuierbrief. Hy sê toe ek moet eers Sondagskool in die kerk gee en met ander kerktake help as ek enigsins predikant wil word.

“Dit was asof hy die deur voor my toegeslaan het. Ek kon nie sonder werk ná matriek daar aanbly nie en is Fauresmith toe met ’n kuierbrief wat net ses maande geldig was. Daar sit ek toe met universiteitsvrystelling, maar wat nou?

“Toe is ek maar Johannesburg toe, na my een broer, wyle Mojalefa. Ek wou net iets doen. Ek is lief vir rekenaars en tegnologie. Toe doen ek ’n jaarsertifikaat in rekenaarprogrammering en werk as ’n veiligheidswag by Imperial Trucks in Kemptonpark. Dit is moeilike werk.

“Genadiglik ontmoet ek vir wyle Philip van Biljon wat daar in die ontvangs gewerk het. En ek en hy gesels en hy sê dit is wonderlik dat ek predikant wil word. Hy stel my toe voor aan die dierbare ds. CP Semenja van die Gereformeerde Kerk in Tembisa wat reël dat ek met ’n beurs kan gaan dominee word aan die Gereformeerde Kerk en Noordwes-universiteit (NWU) se destydse teologiese opleidings­kollege in Hammanskraal. Dit is hoe ek die Doppers ontmoet en ’n Dopper geword het.

“God het my pad uitgewerk. Die hele lewe is in Sy hande.”

Met ’n BA in teologie in die sak is hy in 1994 Unisa toe vir ’n honneursgraad in Grieks en werk hy ook as ’n junior navorser in Grieks. Hierna volg nog ’n honneurs en meesters in teologie aan die NWU in Potchefstroom en werk hy as akademiese fasiliteerder in Grieks, navorser in praktiese teologie en volg ’n meestersgraad met onderskeiding in Grieks, alles met beurse van die Gereformeerde Kerk.

Sy praktiese jaar as predikant doen hy in 1999 in Klerksdorp, in die gemeente van dr. Frans de Bruyn.

“Dr. Frans het ’n groot rol in my lewe gespeel. Dit was vir my nogal ’n skok dat ek na ’n wit gemeente uitgeplaas is. Die verwelkoming wat ek daar gekry het, het my verbaas. Ek het by die dokters Clifton en Alma Piek aan huis gewoon en dr. Piek het my sy kar geleen. In Klerksdorp het ek regtig wonderlike mense leer ken.”

Van 2000 af is hy vyf jaar lank kerkplanter en predikant van drie kerke in Klerksdorp, Fochville en Potchefstroom, doen hy terselfdertyd sy doktorsgraad in teologie én gee hy klas aan die NWU.

“Dit was nie bietjie druk nie, dit was baie. Maar ’n mens kom daardeur.”

En toe roep die akademie in 2005. Hy word onder meer senior lektor en later medeprofessor en professor aan die NWU, die eerste swart viserektor van die teologiese skool, die eerste swart dekaan van die teologiese fakulteit en ook viserektor van die NWU. Die lys van rade en liggame waarin hy dien en sy publikasielys is lank, en sy navorsing en lesings het hom van Kenia en Europa tot Amerika geneem. Voor sy aanstelling in Bloemfontein was hy die waarnemende teologiedekaan.

Tussen sy werk en prekery in verskillende gemeentes deur, is hy ’n man vir sy bibliotekaresse-vrou, Masechaba, ’n pa vir hul seun, Thabang, ’n personeellid van die NWU, en die baie trotse oupa van twee kleinkinders, Nthabeleng (5) en Khotso wat vandeesmaand ’n jaar oud word.

Hy en sy vrou sing nog al die jare saam. Hy is lief vir gospel, het vroeër ’n CD uitgereik en in die Potch-mannekoor gesing. Met ’n swart gordel in Koreaanse gevegkuns is hy ook ’n meester van goeie karatebewegings.

Nou wil hy as nuwe dekaan van die UV se teologiese fakulteit die bande verder uitbou met kerke en opleidingsinstansies in Afrika en oor die wêreld heen en wil hy help om goeie teologie en navorsing – veral ook in die Afrika-konteks – te versterk.

“En in my vrye tyd, as dit die Here se wil is, wil ek steeds kerke plant: multikulturele kerke in die gereformeerde tradisie. Swart sit steeds te veel eenkant en wit te veel aan die anderkant. Mense bly saam, maar bid nie saam nie. So ja, dit is my droom vir hier in Bloemfontein.”

Die droom van dominee-wees leef steeds in die 49 jaar oue professor-dominee Rantoa Letsosa.

  • Die afgetrede dr. Frans de Bruyn is deesdae hulppredikant by die Gereformeerde gemeente Bloemfontein.

1 thought on “Van Gatjieponder tot stoere Dopper”

  1. Die NG kerk moet besef dit is nie hulle wat besluite moet neem oor enige probleme waarmee hulle worstel nie dit is vermetel dat hulle aan neem dat hulle die mag het om God se uitsprake wat duidelik in die bybel omskryf word bv saam wonery sonder om te trou gay kwessies ens te verander. Dit se net een ding dag hulle dink hulle is magtiger as God ek dink dit is tyd dat hulle die kerk verlaat en hulle eie bybel skryf. Hulle is werktuie vir satan en hulle kan dan hulle eie sataniese gemeente bedryf maar nee hulle wil God se kerk vernietig dit is mos wat die satan wil he.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui