UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit

Op 2 Februarie 2010 het dr George Claassen, ’n uitgesproke ateïs, opgetree as gasspreker by die UP Teologiese Fakulteit (UPTF) se openingsdag. Later, in dieselfde maand, is ’n versoek gerig dat dr Mark Harwood, ’n skeppingsleerder, ook die UPTF toespreek, maar dit is van die hand gewys.

Wie is George Claassen?

Dr George Claassen is ’n ateïs (ek beskou hom as die Richard Dawkins van Suid-Afrika). Hy het in 2009 onder andere geveg daarvoor dat geloof nie by skole in Suid-Afrika beoefen mag word nie. Kyk bv:

Terloops, ons NGK teoloë het dit goed gedink om hom omverskoning te vra vir die teenstand wat hy gekry het in sy poging daarmee. Kyk Teoloë vra om verskoning vir onverdraagsames. Verder is hy ’n joernalis. (Kyk George Claassen (Wikipedia).)

Wie is Mark Harwood?

Mark Harwood is ’n ontwerpingenieur wat ’n groot rol gespeel het in Australië se nasionale satellietsisteem. Hy is ook ’n deeltydse redevoerder vir CMI–Australië. (Kyk Dr Mark Harwood.)

Opening van UPTF

Op 2 Februarie 2010 het die UP Fakulteit Teologie vir dr George Claassen gekry om as hoofspreker op te tree by die teologiese fakulteit se openingsdag. Die rede hoekom UPTF vir Claassen gevra het, is waarskynlik omdat die NG Kerk tans in ’n “seisoen van luister” is. In sy toespraak, getiteld Die klippe roep dit uit…, promoveer hy evolusie as wetenskaplike feit en verder verkleineer hy die Christelike godsdiens as ’n bygeloof. Hy sê onder andere die volgende:

  • “Dit is egter insiggewend dat die twee aanvaarde en bewese wetenskaplike teorieë wat gereeld as gelowe gebrandmerk en beskryf word deur irrasionele mense, juis die twee is wat die bestaande skeppingsgeloofsorde van die monoteïstiese godsdienste in hul wese aantas, naamlik die evolusieteorie en die oerknalteorie.”
  • “Gelowiges gebruik aanhoudend die argument dat die wetenskap nie die bestaan of nie-bestaan van God kan bewys nie.” en “Dit is egter wel die plig van gelowiges om vir ons in ’n rasionele wêreld hul bewyse voor te lê vir die bestaan van die gode waarin hulle glo en waarvoor hulle aanhoudend beskerming vra teen kritiese vrae.”
  • “Die bygelowige beheptheid van die mens om dit wat ons nie kan verklaar nie aan God toe te skryf, is die irrasionele, maklike, onkritiese en nie-ondersoekende weg…”
  • “Maar die nuwe manier om verby die aaklige werklikheid van evolusie te kom (aaklig vanuit die oogpunt van die skeppingsverhaal van die Bybel), is om die vae idee van ’n Intelligente Ontwerper voor te stel. Hierdie Intelligente Ontwerper het dan kwansuis evolusie ingespan vir die skepping om te ontwikkel.”
  • “Jerry Coyne verklaar hierdie nuwe verskynsel so: “Die werklike oorlog is tussen rasionaliteit en bygeloof. Wetenskap is maar een vorm van rasionaliteit, terwyl godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is.””
  • “Oor die wetenskap – en evolusie as geldige en deeglike bewese wetenskapsveld – se nie-soeke na die vingerafdrukke van ’n skepper-god, gee die Nobelpryswenner Steve Weinberg ’n interessante perspektief: “It’s a consequence of the experience of science. As you learn more and more about the universe, you find you can understand more and more without any reference to supernatural intervention, so you lose interest in that possibility. Most scientists I know don’t care enough about religion even to call themselves atheists. And that, I think, is one of the great things about science – that it has made it possible for people not to be religious.””
  • “Kom ek draai Christus se woorde teenoor die Fariseërs om wat die skare se lofuitinge probeer stilmaak het: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” Die klippe van evolusie en fisika se bevindings roep lankal uit en dis tyd dat leiers in die kerk en moskee nie langer hul lidmate hieroor mislei nie. Die uitroepe van die wetenskap en evolusie se bevindings word daagliks in die klippe gelees.”

Reaksie van teoloë

’n Verdere teleurstelling was die teoloë se reaksie op Claassen se aanbieding: Dr Hennie Mouton sê onder andere die volgende in: “Ateïs hoofspreker by openingsdag van UP teologie” (2010/02/08): “Ek kan nie van jou verskil nie”, het prof. Cornél du Toit gesê, alhoewel hy darem later gereken het Claassen laat hom te veel uit op die terrein van die teologie, waarvan hy te min weet.”

In die artikel Reaksie op dr George Claassen – Danie Veldsman, probeer prof Danie Veldsman vir Claassen antwoord. Sy hoofargument is dat daar geen wetenskaplik rede is om die mens van evolusie uit te sluit nie en dat dit onwetenskaplik is om God verkeerd te probeer wys. Dit is die argument dat geloof en die wetenskap verskillende dinge is. Dit is egter duidelik dat hy pens en pootjies ingekoop het in evolusie en ook wat hy van skeppingsleerders dink. Hy beskuldig skeppingsleerders daarvan “om oor onderwerpe te praat waarvan hulle weinig moeite gedoen het om iets van te verstaan”. Ek wonder hoeveel het hy self al opgelees oor hierdie onderwerp en of hy weet watter bewyse werklik voorgehou word vir evolusie. Dit lyk ook of hy IO (intelligente ontwerp) oor dieselfde kam skeer as skeppingsleerders. Ek wonder of hy weet dat mense wat IO voorstaan besef dat die wetenskap nie alles kan verklaar nie. In die IO-groep kry jy mense van elke geloof, self agnostisiste. En hulle besef dat evolusie ’n leuen is.

Versoek dat Harwood ook UPTF toespreek

“Die Fakulteit Teologie aan UP staan nie op ’n kreasionistiese standpunt nie en kan ongelukkig nie aan u ’n platform gee nie. … Ons onderskryf die ‘seisoen van luister’, maar nie ten koste van gesonde, wetenskaplike ondersoeke nie.”

Dr Mark Harwood van CMI-Australië besoek Suid-Afrika DV vanaf Woensdag 14 April tot Sondag 25 April 2010. Na aanleiding van die feit dat dr George Claassen die UP teologiese fakulteit toegespreek het en die feit dat die NGK in ’n “seisoen van luister” is, is daar ’n vriendelike versoek gerig aan prof Julian Müller dat dr Harwood ook die UP Teologiese Fakulteit toespreek om die anderkant van die kwessie te lig. Hier volg die versoek:

Beste prof Julian

Ek het onlangs ’n transkripsie van Dr George Claassen se aanbieding by Tuks onder oë gehad en het ook gehoor van die ‘seisoen van luister’ by die Fakulteit. Met dit in gedagte, net die volgende:

Creation Ministries International (CMI) is ’n internasionale apologetiese bediening met verskeie takke oor die wêreld (www.creation.com). Ons poog om elke jaar ten minste een internasionale spreker uit te bring. Dr Mark Harwood (CMI-Australië) is DV in SA Woensdag 14 April tot Sondag 25 April. Hy tree hoofsaaklik in die aande op by gemeentes in die Kaap (14-20 April) en Gauteng (21-25 April). Gedurende die dag is hy egter ook beskikbaar vir oggend/etenstyd aanbiedings by universiteite en Bybelskole. Daar is geen kostes verbonde. Ek het net gewonder wat die moontlikheid sou wees om predikante en akademici wat Dr Claassen se aanbieding bygewoon het, weer bymekaar te kry vir ’n voortsetting van die ‘seisoen van luister’ na die ander kant van die kwessie.

Dr Harwood is ’n hoogaangeskrewe wetenskaplike en spreker en u kan hier meer inligting oor hom bekom: Dr Mark Harwood en What goes up.

Prof Müller het soos volg op die versoek gereageer:

“Dankie vir u vriendelike skrywe, maar ek kan nie aan u versoek voldoen nie. Die Fakulteit Teologie aan UP staan nie op ’n kreasionistiese standpunt nie en kan ongelukkig nie aan u ’n platform gee nie. Ons beskouing oor skepping is nie teenoor, en in teenstelling met, die evolusieteorie nie. Ons onderskryf die ‘seisoen van luister’, maar nie ten koste van gesonde, wetenskaplike ondersoeke nie.”

Dit is egter ironies dat prof Müller bereid is om dr Claassen ’n spreekbeurt te gee, maar nie vir dr Harwood nie, en dit in ’n “seisoen van luister”: Soos reeds genoem is dr Claassen ’n uitgesproke ateïs en vyand van God. Verder is hy nie ’n wetenskaplike nie, maar ’n joernalis. Harwood is ’n mede-broer in Christus, wat lief is vir die Here en Sy Woord en ook ’n wetenskaplike met baie jare praktiese ondervinding in die ontwerp, vervaardiging en lansering van kommunikasie-satelliete.

Dit is verder baie ironies dat skeppingsleerders daarvan beskuldig word dat hulle nie wetenskaplikes is nie, terwyl evolusioniste wel is. In hierdie geval was UPTF egter bereid om na ’n joernalis te luister oor “wetenskap” terwyl hulle nie ’n wetenskaplike hieroor wou aanhoor nie.

Dit is ook baie jammer dat prof. Müller (en prof. Veldsman) evolusie onkrities aanvaar. Baie mense word hierdeur mislei omdat hulle nie die verskil verstaan tussen operasionele wetenskap en historiese wetenskap nie (vir meer hieroor, kyk Operasionele vs historiese wetenskap.)

Henk Gous se mening oor hierdie gebeure aan Jean Oosthuizen

Hallo Jean

Dit is noodsaaklik dat Christene direk gesprek voer met mense wat anders glo of glad nie glo dat God bestaan nie. Jesus was meer op die markplein as in die tempel.

George Claassen het duidelik gewys dat evolusie ’n standhoudende en geldige teorie is. Christen moet dus nie daarmee probeer verskil deur evolusie onwetenskaplik te probeer verklaar nie. Dit sal jou verspot maak. Ons moet eerder verskil o.g.v. die ‘onwetenskaplike’ afleiding van George en ander persone dat evolusie bewys dat daar geen God is nie.

Dis waar Danie Veldsman in sy repliek tereg gesê het dat George ‘onkant speel’, d.w.s. sy eie reëls van wetenskapsbeoefening verbreek.
Die waarde van diepgaande gesprek soos hierdie is die feit dat Christene die onmoontlikheid om aan kreasionisme vas te hou, besef, en die wonderlike moontlikheid van evolusie as God se werkswyse ontdek.

Copernicus het christene gehelp om te beweeg van die misverstand dat God die aarde op pilare vashou, na die wonderlike verstaan dat God die aarde in vaste bane vashou. Wetenskaplikes help ons om te verstaan dat die skepping ’n 4,7 miljard jaar oue evolusionêre kunswerk van God is, nie net 6 dae soos die skeppingsverhaal dit metafories teken nie.

Ek het gevind dat George Claasen op sy rustige manier tog maar alle verskynings van godsdiens, die ekstreme misbruik van ‘Crossing over’ saam met ernstige teologie, as bygeloof afskryf. Hy stem saam met Dunbar dat die ‘eienaardige verskynsel van godsdiens’ bloot ’n beperkte waarde het om mense evolusionêr te help oorleef, deur bv. mense positief beter te laat voel nes ’n placebo medisyne soms ook beterskap inbring.

Hy het dus die 150 teoloë in die oë gekyk en gesê: jul bedryf bygeloof.

Groete
Henk Gous

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

In die artikel Wat maak predikante met die wetenskap?, skryf Danie van der Lith op 2010/02/05 dat hy sy geloof verloor het agv die wetenskap [evolusie]: “Dit was nie die dood van my vrou of my 15-jarige seun wat my geloof vernietig het nie. God en godsdiens het in my lewe opgehou bestaan, behalwe as ’n kulturele verskynsel wat my bly interesseer, jare voor die motorongeluk, en dit was die wetenskap wat dit gedoen het.”

Dr Mark Harwood se geloof is self ook beïnvloed deur evolusie: “During his university years, Mark was something of a “closet Christian” because he could not understand the basis of his faith. He assumed that God must have created through the processes of evolution (theistic evolution) but that idea provided no meaningful basis for Christ’s sacrificial death on the cross. Then he was confronted on the historical truth of Genesis and realised that the early chapters of Genesis were actually true and fundamental to the Christian faith. His subsequent journey of investigation convinced him of the theological and scientific basis of the Genesis account of creation.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui