Teoloë vra om verskoning vir onverdraagsames

Kyk ook aan die onderkant van die berig hoe Bernhard Ficker op uitstekende wyse hierop reageer.

**********

Teoloë vra om verskoning vir onverdraagsames | Kerkbode

Deur Jean Oosthuizen

16 Oktober 2009

KAAPSTAD. – Twee bekende NG teoloë het die wetenskapjoernalis en voorsitter van die Vereniging Skepties Suid-Afrika, prof George Claassen, namens Christene om verskoning gevra vir die kru manier waarop ’n deel van die Christengemeenskap hom persoonlik aangeval het oor sy standpunt teen godsdiensonderrig in skole.

Dr Chris Jones van die Universiteit van Stellenbosch het in die godsdiensprogram Kruis en Dwars op RSG ook aan Kerkbode se nuusredakteur, Jean Oosthuizen, en prop Laurie Gaum om verskoning gevra vir die wyse waarop ’n deel van die Christengemeenskap hulle in die verlede beledig het oor standpunte wat hulle in die media uitgespreek het.

Dr James Kirkpatrick, voorsitter van die Algemene Sinode se Algemene Taakgroep vir Leer en Aktuele Sake, het in die program gesê sulke optrede bring die Christendom in oneer. Hy sê hoewel ’n mens dit kan probeer verstaan, is daar geen verskoning voor nie.

Prof Claassen het tydens die program waarin hy en die ander gaste hulle ervarings met ’n paneel teoloë gedeel het, gesê Christene het hom in die vuilste taal gedreig en geskel oor sy standpunte.

Prof Claassen is onder meer met geweld en selfs die dood gedreig deur mense wat Bybelversies onderaan hulle dreigboodskappe aan hom geskryf het. Dit was ’n skokkende en onthutsende ervaring, het prof Claassen aan die aanbieder van Kruis en Dwars, Johan van Lill, gesê.

Prof Claassen sê hy het ernstige probleme met die gehalte van Afrikaners se vermoë om te debatteer oor sake waarmee hulle nie saamstem nie.

Prop Laurie Gaum, wat ook al die teiken van soortgelyke aanvalle was, het gepleit vir respek as basiese vertrekpunt teenoor mense wat van geloofstandpunt verskil of teenoor mense wat nie glo nie.

Dr Chris Jones van die Kantoor vir Morele Waardes en Leierskap en die Beyers Naude-sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, het gesê hy wil graag in groot nederigheid vir die drie persone om verskoning vra dat Christene so liefdeloos en met soveel venyn en ongenaakbaarheid kan optree.

Dr Jones het gesê daar moet egter onthou word daar is ook ander Christene en kerkleiers wat met groot sensitiwiteit optree en ander se standpunte respekteer.

Die moderator van die Volkskerk in Afrika, dr Donald Katts, het hom ten sterkste gedistansieer van die onverdraagsame reaksie teenoor prof Claassen. Dr Katts sê die kerk het in die verlede dikwels onverdraagsaam opgetree en moet daarom ook skuld dra as mense aggressief en onmenslik optree. Hy sê die kerk behoort die evangelie van liefde te verkondig.

– jean@tydskrifte.co.za

Kommentaar

Moet Christene die sweep opneem?

Dr Bernhard Ficker van Somerset-Wes skryf:

Ek was verwonderd toe ek die berig “Teoloe vra om verskoning vir onverdraagsames” (Kerkbode, 16 Oktober 2009) lees. Hier vra dr Chris Jones, dr James Kirkpatrick, en dr Donald Katts om verskoning vir prof George Claassen vir die onverdraagsame wyse waarmee sommige mense teenoor Claassen gereageer het.

Maar ek hoor nie ’n enkele woord van besorgdheid van hierdie drie here oor die optrede van Claassen waar hy skole dreig met regsoptrede indien hulle ’n Christelike karakter handhaaf en Christelike waardes leer nie. Deur hulle stilswye keur hulle by implikasie Claassen se optrede goed.

Christus is bekend daarvoor dat hy kragdadig kon optree en letterlik die sweep opneem teenoor mense wat onvanpas optree. Moet Christene dan nie ook figuurlik die sweep opneem teenoor Claassen en diegene wat elke greintjie van Christelikheid uit skole wil verban nie?

(Brief verkort. – Red)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui