Teoloë kap König oor sy nuwe boek

Kyk ook:

Hierdie is die eerste van ’n paar artikels wat ’n debat vorm oor Adrio König se boek, Die evangelie is op die spel. Hier volg die hele lys van artikels in volgorde:

**************

Teoloë kap König oor sy nuwe boek

Oorspronklike artikel kan hier gelees word.

8 April 2009

Neels Jackson

Prof. Adrio König, sistematiese teoloog van Centurion, maak wanvoorstellings van ander mense se standpunte en skiet dit dan af.

Dit is die kern van die skerp reaksie van sommige teoloë wat in König se nuwe boek, Die evangelie is op die spel, onder kritiek deurloop.

Daarin bevraagteken König wat hy bestempel as die liberale teologiese standpunte van verskeie bekende teoloë oor kwessies soos die opstanding van Jesus Christus en die bestaan van die duiwel.

Daarteenoor sit König sy teologiese sienings uiteen.

Teoloë wat onder sy pen deurloop, is prof. Cas Vos, dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, sy kollegas, proff. Julian Müller, Dirk Human, Jurie le Roux, Danie Veldsman en Andries van Aarde, asook dr. Ben du Toit van Kaapstad.

Baie van die kwessies wat König aanroer, is al ’n paar jaar deel van die debat.

Van die teoloë is al na aanleiding daarvan aangekla van leerdwaling, maar hulle is onskuldig bevind.

Terwyl verskeie van hulle nog nie die boek onder oë gehad het nie, was daar heftige reaksie van Vos en Human in ’n brief aan ds. Stephan Spies van die uitgewer Lux Verbi.BM.

Daarin beskuldig hulle König van “subtiele verdagmakery, onwaarhede en vals aannames”.

Van Aarde en Veldsman het ook by navraag te kenne gegee dat König wanvoorstellings van hul standpunte maak.

Vos is voorts ontsteld dat hy ingetrek word in die hele herrie omdat hy een keer nie ’n vraag oor die duiwel wou beantwoord nie, al het hy sy standpunt later duidelik gestel.

Dit terwyl König, volgens hom, self nie antwoord op beskuldigings dat hy “die spoor byster is” oor ander kwessies soos die doop nie.

Vos en Human skryf aan Spies dat König se boek nie in teologiese gesprek wil tree nie, maar mense verdag maak en verneder.

Hulle bevraagteken Lux Verbi se motiewe met die publikasie van die boek en sê dit het ’n breuk tussen hulle en die uitgewer gebring.

König het by navraag die toon van Vos-hulle se brief, wat hom onder meer Kleinboer en Bosveldboer noem, as vernederend bestempel.

Hy het gehoop die boek kan ’n saaklike debat ontlok.

Oor die beskuldiging dat hy wanvoorstellings van ander mense se standpunte maak en dit dan afskiet, het König gesê hulle moet dit beredeneer.

Wat hom betref, het hy saaklik probeer skryf, sonder die baie byvoeglike naamwoorde wat Vos en Human in hul brief gebruik.

Spies sê hulle het besluit om die boek uit te gee omdat dit gaan oor Skrifgesag en Skrif¬interpretasie wat een van die belangrikste onderwerpe binne die huidige teologiese debat is.

As uitgewer kies hulle nie kant nie en ’n skrywer se standpunt is nie die uitgewer se standpunt nie.

Hulle nooi Vos en sy kollegas uit om hul reaksie te formuleer en onderneem om dit vinnig te publiseer.

– njackson@beeld.com

**********

Lees die volgende artikel by Adrio König antwoord teoloë wat sy nuwe boek erg kritiseer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui